WANNEER DIE OUTORITEIT VAN ’N REGERING SY KOLLEKTIEWE INTELLIGENSIE TE BOWE GAAN KRY JY….?
Dimitrio Tsafendas se moord op dr. Verwoerd, datum 6 September 1966 (666) was inderdaad ’n dolksteek na die hart van die Afrikanerdom, omdat dr. Verwoerd niks anders verteenwoordig het as wat adv. Strydom, dr. Malan, genl. Hertzog, pres. Steyn, pres. Paul Kruger, Andries Pretorius, Piet Retief, Andries Hendrik Potgieter en Gert Maritz verteenwoordig het nie. Almal voormalige leiers van ons volk wat leiers geword het uit hoofde van hulle vermoë om eietydse omstandighede te be-oordeel, daaruit beleid te formuleer met die wete wat die uitkoms daarvan in die verre toekoms sal wees en dan met vaste tred die volk op daardie pad te lei.
Apartheid is nie as beleid aanvaar om ander rasse te benadeel nie, maar om te verhoed dat hulle óns benadeel. Die bewys van hierdie politieke wysheid word duidelik gedemonstreer deur die Calvinistiese toespraak van dr. Albert Hertzog op Maandag 14 April 1969 in die Volksraad. Dit kan nageslaan word in Hansard nr. 10 kolom 3977.
Dr. Hertzog:
“ Ons nader nou die laaste oomblikke van hierdie debat, en ek wil kortliks net eers verwys na die agb. Leier van die Opposisie, wat sy toespraak hoofsaaklik gewy het aan die mannekrag tekort en aan die tempo van ontwikkeling. Elkeen van ons weet en elke ekonoom beklemtoon dit dat die ontwikkelingstempo van Suid-Afrika alreeds baie hoog is; dat dit miskien al te hoog is. En om nou die ontwikkelingstempo nog hoër te maak, beteken net eenvoudig dat ons op die minste die ekonomiese probleme van ons land baie gaan vergroot.
Tog het die agb. Leier van die Opposisie gesê dat as gevolg van die “population explosion” van die Bantoe, die swart man, wat twee maal so snel vermeerder as die wit man is dit nou noodsaaklik vir ons om hierdie ontwikkeling te verhaas en te vergroot, “technically, industrially and economically”. Die doel daarmee, soos hy gesê het, is dat “more non-Whites would have to be drawn into the skilled and semi-skilled jobs”. As ons nou die wense van die agb. Leier van die Opposisie moet volg, stuur ons nie net nog vinniger af op groter ekonomiese probleme vir onsself nie, maar ons stuur ook af op politieke probleme.
Om dit te verduidelik, wil ek verwys na die woorde van niemand minder nie as sir Alec Douglas-Home, waar hy ‘n boodskap gegee het aan die finansiers van Brittanje en dit op hulle harte gedruk het dat hulle die “economic expansion of South Africa” moet aanhelp. Hy het gesê ….
“Economic expansion does and will confer on non-Whites and growing economic power that will inevitably lead to a measure of political power.”
Dan gaan hy aan, volgens die berig, en sê…….
“In South Africa, where all is calm and on the surface tolerably harmonious, racial tensions could build up sharply as the non-Whites from aan economic power base growing stronger all the time start to press for concessions in the social and political spheres. It can only be a matter of time before this happens.”
En dan, eienaardig genoeg, doen hy ‘’n beroep op die finansiers om hierdie ekonomiese ontwikkeling, hierdie buitengewone groei, van Suid-Afrika aan te help en te bespoedig en hy doen dit met hierdie strelende aanmoediging………
“It is indeed a happy circumstance when self-interest seems to coincide so neatly with the national interest and the making of profits can be represented as a patriotic duty”.
Daardie “patriotic duty” is om te sorg dat die swart man hier in Suid-Afrika politieke mag kry en as dit eers begin, sal die mag natuurlik uiteindelik uitsluitlik in sy hande wees. Die berig het gesê dat hierdie woorde van Sir Alec gekom het “as the result of his recent visit to South Africa”. Ons kan vir onsself aflei dat gedurende daardie resente besoek hy baie lede van die Verenigde Party gesien het en miskien het hy die Leier van die Opposisie ook gesien. Ek wil nie vir ‘n oomblik sê dat die agbare. Leier van die Opposisie met sy oproep vir die vermeerdering van ons ekonomiese aktiwiteite, dieselfde oogmerk het as dié van sir Alec Douglas-Home nie, maar die uiteindelike gevolg van sy voorstel sal dieselfde wees.
U weet, Meneer, ek kan nie help en ek dink baie van die van ons wat hier sit kan nie help om tot die indruk te kom, nadat ons so voortdurend geluister het na die toesprake van ons vriende aan die oorkant van die Huis, dat die Verenigde Party in hoofsaak begaan is oor die swartman. Hy is in die hoofsaak begaan oor die sogenaamde en denkbeeldige onregte teenoor die swart man. Hy is in werklikheid nie baie begaan oor die witman nie. Dit is die afleiding wat ons maak. Dit gee ons die indruk dat hy nie begaan is juis oor die wit man, wat Suid-Afrika gemaak het wat hy vandag is nie, wat Suid-Afrika gebring het waar dit is nie, wat Suid-Afrika in staat gestel het om ’n waardige tuiste te wees vir al die rasse in die land nie; dat hy nie begaan is oor die daardie witman sonder wie alles in Suid-Afrika inmekaar moet stort en nie kan voortbestaan nie. As die witman in Suid-Afrika moet padgee, sal dit nie net ellende bring vir die swartman nie, maar chaos. Vandag wil ek praat soos ons as Nasionaliste altyd praat, met die gedagte wat ons as Nasionaliste altyd het. Ons eerste gedagte is aan die witmens van Suid-Afrika, daardie wit volk sonder wie niks in Suid-Afrika kan bly bestaan nie en sonder wie selfs die blanke beskawing uiteindelik sal vergaan.”
Die AVP kan nie anders as om ons volksgenote opnuut daarop te wys dat hierdie uittreksel uit dr. Hertzog se toespraak, wat die Vorster-regering as hefboom gebruik het om dr. Hertzog uit die NP te skop, onomstootlike bewys lewer van die nugtere politieke denke wat eenvoudig in die doofpot gestop is na die moord op dr. Verwoerd.
Ui t dr. Hertzog se toespraak is dit ook duidelik dat apartheid nie gefaal het nie maar selfs volgens die waarneming van die destydse Britse Eerste Minister, sir Alec Douglas Home, “In South Africa, where all is calm and on the surface tolerably harmonious”, die toestand omskep moes word deur die groeikoers aan te help sodat: “racial tensions could build up sharply as the non-Whites from aan economic power base growing stronger all the time start to press for concessions in the social and political spheres. It can only be a matter of time before this happens.”
As mense in die lig van al die beskikbare historiese feite steeds poog om apartheid te beveg soos in die kerke en deur vakbonde en burgerlike organisasies en partye, kan dit nie anders as wantroue in die hand werk nie. Elkeen van die voormalige leiers soos hierbo genoem het gewaarsku en/of ge-ywer vir afsonderlike naasbestaan vanweë die onoorbrugbare kultuurverskille wat duidelik waarneembaar is en voorspelbaar tot konflik en diskriminasie sou lei indien afsonderlike ontwikkeling versaak sou word. Is dit dan nie nou in oordaat aan die orde nie?
Kan ’n mens jou werklikwaar die belaglikheid van seremonies met behangsels veroorloof en dit volksverteenwoordigend noem as jy nie eers behoorlik een persent van jou “volk” se ondersteuning kon behaal nie. Om dan aanspraak te maak om namens die hele Afrikanervolk sy bloedverdiende Republiek te gaan verruil by die swart Kommunistiese regime vir ’n stukkie grond van dit wat in elk geval jou eiendom is, dui nie op politieke nugterheid nie!
Kry uself paraat en geestelik weerbaar sodat ons ons geledere kan sluit in verset teen die onreg wat ons aangedoen word. Ons saak is reg! Dit is net geloof wat nog swak is. Onthou net dat vir God kom dit nie daarop aan om deur baie of deur min te verlos nie! Dit was inherente swakheid wat magsmisbruik intelligensie laat oorheers het en die Afrikanervolk in die “Nuwe” Suid-Afrika laat beland het.
Danie Varkevisser
21 November 2011.