Ai, Buurman, volg jy ok die gewoeker om die waarheid onder die mat te lat invege en dan moet hulle op die mat gaat sit solat die waarheid, nalat dit gebars het van die gewig, net so hier en daar begin uitsteek en jy moet trêêêêk aan die punte om te sien wat wat is?
’n Naarheid, seg ek jou Buurman. Dit lyk vir my hierdie wet om die waarheid onner die mat te hou word vir die Nasionale Vergadering ’n naarheid, seg ek jou die waarheid! Tegniese kwessies, seg hulle is wat die stemmery daarvoor nou nog ophou. Nou wonner ek, Buurman of dit die tyd is wat ’n kwessie is? Want hulle hou die wet onner die mat vir ’n tyd en ’n half en dan haal hulle dit self weer onner dieselfde mat uit en sit dit op die tafel en dit lyk nog net dieselfde as voordat dit vir ’n tyd onder die mat was!
Wysig die ding, solat die waarheid kan uit en die waarheid die waarheid kan bly, skree almal, maar die kwessies, Buurman, die kwessies is die moeilikheid seg ek jou. Dis mos die stuurman, of is dit nou liewer die “stortman”, wat die kwessie van die wapens dalkies te gou weer op die tafel gesit het. Die stimmery is mos weer naby en politiek is mos politiek, seg ek altyd. Maar die tafel is te klein, Buurman, seg ek jou die waarheid, die mat is beter! So seg ou Maharaj vir wie se mense Malema laasweek skuus moes sê toe hy hulle Makulas genoem het.
Dit was net toe daai M&G krant, Buurman, jy weet mos daai Pos en Wag blaadjie die waarheid wou seg van wie wat gevat het en hoeveel, dat ou Mac dreig met prosedeer oor dié waarheid wat nog onner die mat moet bly! Ou Mac praat mos vir die ANC se stortman, of is dit nou stuurman kan ek nie nie nou al vir jou die waarheid seg nie, Buurman. Kom die waarheid onner die mat uit voor die verkiesing, stort ’n hele paar van hulle van hulle se knusse sitplekke af, seg ek jou die waarheid!
Nou moet jy maar saam met my die spulletjie dophou Buurman en sien hoeveel besems gaan uitkom en hoe klein die mat gaan word, seg ek jou. Of die mat nou rond is of hoekig, Buurman, as elkeen met ’n besem, aan die mat beginne trek, sal die waarheid se punte al meer uitsteek, seg ek jou die waarheid Buurman en dan word die waarheid sommer ’n erge naarheid waarvoor daar nog nie anti verinale merisyne gekry is nie seg ek jou.
Groete van besem tot besem.
Klaas.