1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9961548

Besoekers aanlyn

Ons het 80 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Godsdiens

SAL EK SY STEM HOOR?

BybelOpenbaring 3:14-22

“Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”  (Vers 22).

Een van die hoofredes, na my mening, waarom leraars nie graag uit die boek van Openbaring preek nie en mense dit derhalwe ook nie graag lees nie, is weens die feit dat dit baie reguit en op die man af met ‘n mens praat.  Menige mense is bang dat die skoen dalk by nadere ondersoek te goed sal pas en weet nie of hulle bereid is om die skoen aan te trek nie?  Dit is makliker om in ontkenning te leef, nie waar nie?

Ek wonder of mense besef watter fatale fout hulle sou maak om hul lewe in hierdie sorgeloosheid en ontkenning voort te sit?  Sou ‘n persoon of onderneming finansiële probleme ondervind en die probleem nie erken en aangespreek word nie, sal die probleem nie vanself verdwyn nie.  Kort voor lank sal die entiteit se bates opgeskryf word om die skuldeisers se skuld te vereffen.  Net so wanneer ‘n persoon ‘n ernstige siekte onder lede het en weier om medici te raadpleeg vir ‘n diagnose, beteken dit nie dat die persoon nie siek is of selfs sondermeer gesond sal word nie.  Ontkenning los nie probleme op nie – dit stel dit bloot uit, soms totdat dit te laat is om dit aan te spreek.  Wil ons regtig die risiko loop om nie ‘n gesonde analise van ons geestelike lewens te maak nie, terwyl hierdie keuse ons ewige lotsbestemming raak?  Waarom sou ons so hardkoppig wees om nie die aardse en vleeslike begeertes prys te gee ten einde ons ewige heil te verseker nie? 

 

Daar is soveel mense wat in ons hedendaagse samelewing ook maar sukkel om warm te wees in hul diens aan God.  Wanneer ‘n mens kies om God te dien, maar op jóú voorwaardes, dan beweeg jy op hierdie gevaarlike terrein.  Jy dien God om iemand te hê na wie jy kan roep wanneer jy in die nood verkeer, maar jy wil Hom nie dien wanneer dit tyd is vir selfondersoek en wanneer daar offers gebring moet word nie.  Jy wil nie hoor van die verkeerde in jou lewe nie, omdat jy tog getrou jou kerk bywoon, tiendes gee en dalk selfs die armes help waar jy kan.  Al hierdie dinge het jy dalk gedoen van jou jeug af, maar kom jy nie iets kort nie?  Het jy God waarlik lief met jou hele hart en jou hele siel en jou hele verstand omdat jy Hom waarlik ken en Hom in opregtheid dien of is jy maar net godsdienstig omdat jy weet van ‘n God wat iewers bestaan?

Dalk kom u vandag tot die besef dat u godsdienstig is, maar nie waarlik vir God ken nie?  Indien dit die geval is, is dit raadsaam om te weet dat Hy ook by u hart se deur staan en klop en wag om ingenooi te word, omdat Hy in u lewe wil inwoon.  “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”  Hy wil nie net so nou en dan kom kuier (wanneer u lus voel om Hom so nou en dan te dien nie) – nee, Hy wil op die troon van u hart regeer!  Hy sal egter nie die deur van u hart oopforseer en met geweld daar indring nie, maar eerder sagmoedig en geduldig daaraan klop, maar nie vir ewig nie.  Sou u verkies om Hom nie in u lewe toe te laat nie, sal Hy u dalk verbygaan om nie weer langs daardie pad te gaan nie.  Dit is egter nie te laat om Hom in u lewe toe te laat wanneer u Sy roepstem hoor nie – onthou, daar was selfs vir die rower aan die kruis in sy laaste uur nog redding! 

Dit is nie God se wil dat siele verlore moet gaan nie, juis daarom tugtig Hy ons soms wanneer ons van Hom af wegdwaal en dreig om verlore te raak.  God tugtig en straf ons egter nie as ‘n ongenadige God wat net wag om te kyk waar Hy ons kan straf nie, maar juis omdat Hy ons liefhet en oor ons sieleheil waak as die kosbaarste besitting in ons lewens.  Die wonderlike versoening wat vir elke ware gelowige in Jesus Christus bewerkstellig is, gee ons die voorreg, mag en verantwoordelikheid om ook oor die sonde  in ons eie lewens te heers en dit eindelik te oorwin.  Geen mens is sonder sonde nie en ons gaan ook nie deur goeie werke die ewige Koninkryk van God beërwe nie, maar dit is God se wil dat die bose oorwin moet word en dat ons ywerig, warm moet veg teen die aanslae van die satan en sy vernietigingswerke hier op aarde, juis omdat ons weet dat ons alreeds die ewige oorwinning deur Jesus Christus verkry het.  Ons het die verantwoordelikheid om saam met Hom (wat in ons harte woon) te stry vir Sy koninkryk hier op aarde om die weg te baan vir Hom wat weer sal kom om die aarde te oordeel, want daardie dag sal ons die finale oorwinning geskenk word en die voorreg ontvang om saam met Hom te regeer.

Die Woord van God stel dit vir ons duidelik in verse 15&16 van hierdie gedeelte dat ons God nie op ons voorwaardes kan dien nie.  Ons kan Hom nie dien en doelbewus vasklou aan die verkeerde en vleeslike dinge in ons lewens nie, want dan sal dit net ‘n kwessie van tyd wees voordat Hy ons uit Sy mond sal spuug.  Die Roepstem is daar om dringende selfondersoek in u lewe in te stel oor die temperatuur van u geestelike lewe, maar onthou dat u nie ‘n ewigheid gegun sal word om die besluit te neem nie.  U besluit sal egter gevolge inhou wat ‘n ewigheid sal duur!  Moenie uitstel nie, want u weet nie wanneer die laaste klop aan die deur sal wees en sou u te laat oopmaak, die Eregas nie meer voor die deur te vinde wees nie. . .

U is dalk bang om die deur van u hart vir Hom oop te maak, aangesien daar baie dinge in u geestelike huis is wat u voor u siel weet nie tuishoort nie, maar wees verseker dat Hy dit ook weet.  Hy staan nie voor die deur en klop om te kom veroordeel nie – Hy staan reeds daar om in te gaan en u te help om die verkeerde reg te stel.  As u Hom vertrou, na Hom sal luister, bereid sal wees om aan Hom gehoorsaam te wees, wees verseker dat wanneer Hy eers toegelaat is in u huis, Hy verseker sal toesien dat die verkeerde daaruit weggeruim word.  Daar is geen sonde, geen hartseer, geen verkeerdheid wat Hom sal oorweldig in u lewe nie.  Hy, Jesus Christus, is die ewige Oorwinnaar, die onoorwinlike wat in ‘n oogwink die dreigende vyande van sonde ook in u lewe kan oorwin.  Hierdie stryd mag dalk ‘n hewige stryd raak, ‘n lang en uitgerekte stryd met veel beproewing, hartseer en opofferings, maar wees verseker dat die oorwinning wél sal uitkom, sou u volhard in die stryd. 

“Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek.  Wees dan ywerig en bekeer jou.” 

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie