Deuteronómium 4:1-40
“Want doen tog ondersoek na die vorige dae wat voor jou gewees het, van die dag af dat God mense op die aarde geskape het, en van die een einde van die hemel tot by die ander einde van die hemel, of so iets groots gebeur het of iets dergeliks gehoor is. Of het ‘n god probeer om vir hom ‘n nasie uit ‘n ander nasie te gaan neem deur versoekinge, deur tekens en wonders en deur oorlog en deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade soos die HERE julle God met julle voor jou oë in Egipte gedoen het?” (Vers 32&34)
Naas die volk Israel, gaan ons ver soek om ‘n volk te kry wat deur die Hand van God uit een land na ‘n ander gelei is om daar voor Sy Aangesig te leef. Ons gaan ver soek na ‘n volk wat, soos die volk Israel, ‘n gelofte aan God afgelê het voordat hulle opgetrek het in oorlog teen hul vyand wat hulle bedreig het. Ons gaan ver soek na ‘n volk wat die pand van God se insettinge en verordeninge toevertrou is om dit te onderhou en te bewaar tot eer van Sy Naam. Ons gaan so ver soek dat ons sal moet reis tot aan die Suidpunt van Afrika – die land wat geboorte geskenk het aan só ‘n volk – die Afrikaner! Hierdie volk is sekerlik gebore uit die hartseer, ellende en benoudheid van mense wat uit Europa moes vlug omdat hulle dit nie kon regkry om die Evangelie van Christus te verloën nie en daarom bereid was om die vreemde in te vlug om aan Hom getrou te bly. God, Wie se oë alles sien, het ook hierdie ellendige, ongetrooste en deur storm-gejaagde groepie volgelinge se liefde en trou aangesien en hulle en hul nageslag gevestig en sy insettinge vir hulle gegee om daarin te leef.
Hy het ons voorsate ook meer as eenmaal deur ‘n ystersmeltoond gelei om ons as sy erfvolk te reinig en te louter, na Sy welbehae. Soos die volk Israel van ouds, is die Afrikanervolk ook ongelukkig ‘n hardnekkige volk – ‘n volk wat in tye van voorspoed dink dat hy nou in eie krag kan voortgaan op sy lewensreis en sy eie ideale begin koester en vergeet van die ideale en gedagtes wat God vir hom koester. Die ideale van voorspoed en liefde as ‘n volk met ‘n lewensroeping uitgedeel deur die Almagtige, word spoedig vervang met verganklike ideale van politieke hoogtepunte, ekonomiese voorspoed, oppervlakkige vermaak en genot en die ideale wat ewigheidswaarde het, word maar net agterna gesleep sodat ons daarop kan terugval, sou dit dalk nodig wees. Dalk sou hierdie nietige afgode van geld en die werke van mense hande nie standhoudend wees nie (ons weet dit baie diep in ons wese, want dit is deur ons Skepper daar ingegraveer), sou ons darem ‘n ideaal hê om op terug te val. Jy kan darem nie so sê nie, want dit klink asof ons God net probeer gebruik wanneer ons Hom nodig het en dit is darem nie waar nie! Regtig nie? Eis God nie ook van ons eerlikheid en opregtheid in ons Godsdiens aan Hom nie? (Deut. 18:13:”Opreg met jy wees met die HERE jou God.”). Is dit reg dat ons volk telkens in doodsbenoudheid uitwissing in die gesig moet staar en dan ewe skielik verwaard wil begin soek na Hom? In tye van benoudheid wil ons huil en uitskree waarom Hy ons verlaat het terwyl ons Sy stem ignoreer het terwyl Hy na ons geskreeu het as volk – Waarom is julle besig om My weë te verlaat agter die wêreld aan?
Vandag is dit ‘n man wat hier skryf met ‘n hart wat bloei en ‘n siel wat leegloop van hartseer – ‘n man wat eintlik nie meer sy volk wil dien nie, want ‘n volk wat so handel met sy God, om Hom net te ken wanneer hulle Hom nodig het, is inderdaad veragtelike optrede. Dit is egter ook ‘n man wat weet dat hyself nie sonder sonde is nie en daarom geen reg het tot oordeel nie en met hierdie besef opnuut tot die insig kom dat die genade en barmhartigheid van ons God vir ons menslike verstand onbegryplik is. (Deut. 4:31:”Want die HERE jou God is ‘n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie.”). ‘n Man wat weet dat hy nie durf ‘n volk verwerp wat deur God geplant en liefgekry is nie – ‘n man wat nie durf ‘n volk veragterlik noem, terwyl God dit gekies het om Sy erfvolk te wees nie, al is ons optrede teenoor Hom selfs soms ook hoe afgryslik en veragtelik en veroorsaak ons met ons afvalligheid van Hom dieselfde spot, hartseer, pyn en hoon wat die Jode Christus aangedoen het toe hulle Hom verwerp en aan ‘n kruishout opgehang het, sou dit dan nou nie op ‘n letterlike wyse wees nie.
Vers 35: “Jy self het dit te sien gekry, dat jy kan weet dat die HERE God is; daar is geen ander buiten Hom nie.” Ons volksgeskiedenis loop oor van die waarheid in vers 35 van die gelese gedeelte hoe ons met volksplanting, die Hugenote se aankoms, die Groot Trek, Bloedrivier, die Vryheidsoorloë, Republiekwording en soveel ander gebeure self kon sien dat die HERE God is en daar vir ons geen ander is nie. Ons kon selfs sien hoe ons volk verstrooi is na ander lande nadat ons Sy weë verlaat het agter die wêreld aan en hoe die hemel en die aarde teen ons getuig het. (Verse 26&27). Met die waarheid wat lewensgroot in ons gesig staan en ons aankla, staan ons verward asof ons nie weet waar ons heil lê nie!
“Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister.” (Verse 29&30). Ons God van genade, barmhartigheid en goedertierenheid stel dit ook vir ons duidelik dat ons Hom nie sal vind as ons half-hartig na Hom probeer terugkeer as sy volk nie. As ons dan wil kies om ons wêreldse afgodery voort te sit en Hom daarby te dien, sal ons Hom nie vind nie. Ons gaan Hom nie dien op ons voorwaardes nie – Sy voorwaarde is:
Ons sal Hom soek en ons sal Hom vind as ons Hom soek met ons hele hart en met ons hele siel!
God sal ons as Sy volk groot genade op ons hulpgeroep bewys, wanneer ons opnuut besef dat dit ons voorreg, ons roeping ons eer is om Hom te dien op Sy voorwaardes! Dit is ons voorreg om die Evangelie van Christus uit te leef en te beskerm in plaas daarvan dat ons gedurigdeur aan verskonings dink waarom ons nie ons kruis opneem om Hom te volg nie!