1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9962157

Besoekers aanlyn

Ons het 87 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Godsdiens

WIE SE DIENSKNEG IS JY?

Galásiërs 1:6-24

“EK verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.”  (vers6&7).           Bybel

 

In die dae van die apostels was dit al praktyk vir menige mense om die evangelie van Christus te probeer aanwend tot hul eie voordeel.  Hierdie mense sou die evangelie nie gebruik tot lering en stigting nie, maar sou dit verdraai om hulle eie menslike sienswyses te probeer regverdig of selfs geloofwaardigheid te probeer gee.  In ons huidige samelewing is daar min slinkse verdraaiing van hierdie evangelie van Christus wat in ons volkslewe, ons land, maar ook wêreldwyd soveel vernietiging aangerig het as die sataniese dwaalleer van HUMANISME.  Daardie afgodediens wat die mens verhef tot ‘n wese bo God wat die mens totaal en al laat vergeet van sy verantwoordelikheid terwyl dit in die proses dieselfde mens wysmaak dat hy die REG tot al meer VOORREGTE het en dit terwyl die verantwoordelikhede minder gemaak word!  Dit maak amper soveel sin om iemand aan te spoor om hard te werk deur hom te verseker dat hy al hoe minder betaal sal word elke keer wanneer hy bevorder word.

 

Die humanisme het natuurlik nie uit blatante leuens ontstaan nie, want dan sou die mens regdeur dit kon sien.  Dit het sy oorsprong in die waarheid, maar verkondig doelbewus net ‘n gedeelte van die waarheid.  Die waarheid lê opgesluit in die feit dat God ‘n God van liefde is, maar dit is waar die waarheid van hierdie dwaalleer ophou.  Daar is geen plek vir God se eienskappe van waarheid, reg, geregtigheid, regverdigheid, trou, goedertierenheid, ontferming, wraak en talle ander eienskappe is nie.  Om God te wil verwater tot bloot ‘n God van liefde en niks anders nie, is verwaand om die minste te sê.  Ons kan nie eers begin om God se Wese met ons menslike verstand te begryp nie, maar dwaalleraars dink dat hulle God kan vasvang in ‘n enkele eienskap – selfs meer ‘n emosie in die konteks waarin die humanisme die eienskap van God se liefde aanwend.

Die humanisme het soveel volksgenote laat val en in ellende laat wegsak deur ‘n skuldgevoel by mense te kweek deur hulle leuens wat selfs vanaf kansels verkondig is.  Mense moes skuldig voel teenoor diegene wat swaarkry weens hul keuse om sonder God te leef en moes ruim uitdeel wat deur soveel geslagte duur gekoop en opgebou is.  Met ‘n skuldgevoel wat diep in ons volksharte geplant is, was die teelaarde gereed om mense te laat vergeet wie hulle eintlik dien en kon mense só besig gehou word met nuttelose, dog tydrowende vermaaklikhede, dat ons vinnig kon vergeet dat ons verantwoordelikhede in ons samelewing het om na te kom.  God is ‘n God van liefde en ek kan voortaan doen wat reg is solank as wat ek eenmaal in my lewe erken het dat Jesus Christus my Verlosser is.  Is laasgenoemde werklik die waarheid?  Ontneem ons belydenis met die lippe ons van ons Christelike verantwoordelikheid om God te behaag en gehoorsaam te wees aan Hom?  Leer Christus ons nie self dat nie almal wat vir Hom sê:  “Here, Here”, sal ingaan in Sy Koninkryk nie.  Die vraag vanoggend wat elke ware gelowige in Jesus Christus homself moet afvra en in WAARHEID beantwoord moet word, is die vraag in vers 10 van die gelese gedeelte:  “Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie.” 

Wat is ek besig om te doen met my lewe?  Is dit die God van liefde se wil vir my dat:

  • Ek die grootste deel van my dag voor die duiwelsdoos (televisie) moet lê en na programme kyk waar mense laster, bes moontlik ontrou is aan hul huweliksmaats en sedeloos lewe, mekaar verkul, vermoor, ligsinnig grappies maak, die lewe een groot grappie en vermaaklikheidsverhaal is? Wat beteken ek vir God en my medemens hierdeur?

  • Ek myself konstant probeer verander om aan mense se vereistes vir my lewe te voldoen? Ek as ‘n tiener ook maar begin rook, drink en met die slegte maats begin kuier om maar net nie alleen te wees of eenkant toe geskuif te word nie. Ek begin met die mooi verskoning dat ek eintlik met die verkeerde mense maats maak om hulle na Jesus te lei, maar kort voor lank, weet ek nie meer waar daardie pad is nie?

  • Ek bedrieglik sake doen en mense by elke geleentheid inloop, want sukses is my grootste dryfveer en ek sal immers ‘n groot skenking aan die kerk maak sodat mense my beeld weer kan poets vir my ruimhartigheid. Die lewe gaan mos volgens humanisme net oor die individu en daarom het die individu ook seker die reg om sy eie regter te wees om te oordeel dat dit regverdig is om ‘n klein sakeonderneming te kelder a.g.v. sy gierigheid, solank hy darem net ‘n bietjie daarvan aan ‘n arm persoon (wat dalk te lui is om te werk) afstaan? Dalk is jy van mening dat jou werkgewer baie geld het en daarom is jy jou eie regter aldus die humanisme en sien jy geen sonde daarin om met ‘n “Robin Hood” gesindheid te besluit om van die rykes te neem om dit te gee aan diegene wat dit meer nodig het nie?

  • Doen jy jou werk net om die dag verby te kry en is in die proses geensins bekommerd oor hoeveel skade ander mense berokken word deur jou foute en nalatige optrede nie, solank jy net jou salaris kan kry om jou behoeftes te bevredig?

Die eindresultaat van ‘n misleidende godsdiens is natuurlik gevul met smart en ellende.  Hierdie smart en ellende is te bespeur in ons eie land waar die ellende feitlik daagliks groter word en dit blyk asof soveel mense se oë gesluit bly vir die waarheid.  Ek en u moet egter versigtig wees om nie in geestelike hoogmoed genot te put uit die ellende van die samelewing rondom ons of self elke kort-kort mense toe te snou met ‘n hofvaardige houding dat hulle hierteen gewaarsku is nie, alhoewel laasgenoemde die geval mag wees. 

Ons het tot die dag van Sy Wederkoms die verantwoordelikheid om in nederige onderdanigheid (ootmoed) vir Hom diensbaar te wees hier op aarde.  Wanneer Hy weer kom op die wolke, waarmee sal Hy my en u besig vind – besig met ons nuttelose gejaag na wind en selfs die nuttelose verkwisting van ons geleende tyd hier op aarde voor ‘n TV of in ‘n nagklub?

Sou ons as volk hard genoeg ywer en genade in Sy oë vind, mag Hy ons dalk besig vind as knegte van die Allerhoogste teen die hele wêreld vry – besig in Sy diens om die weg te baan vir die Here, ons Verwagting, die Here ons Geregtigheid wat vir ewig oor ons sal heers in liefde, regverdigheid, reg en geregtigheid!

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie