Jeremia 17:1-18
Vers 7 van die gelese gedeelte lui “Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is.”
Een van die kernboodskappe wat regdeur die Woord van die Here aan elke man gegee word is dat ‘n mens nooit jou vertroue op mense moet plaas nie, want mense stel teleur, mense verander, maar selfs die getroue en standvastige mense wat navolgingswaardig is, is verganklik. Wanneer selfs hierdie goeie en standvastige leiers wegval, moet ‘n mens steeds na God kan kyk vir leiding.
Met ‘n vaste geloofsvertroue in God is ons volk gevestig hier aan die Suidpunt van Afrika. A.g.v. ‘n vaste geloofsvertrou in en liefde vir God, het ons voorouers uit Europa gevlug na Suid-Afrika om hier in die wildernis te kom soek na ‘n tuiste. Met ‘n vaste geloofsvertroue het ons voorouers die binneland ingetrek, die wildernis onderwerp en ‘n beskawing gevestig waar ons nageslagte ons God kon dien en aanbid. Hierdie vaste geloofsvertroue het God se rykste seën oor ons gebied, soos wat Hy beloof, en ons as volk is selfs geseënd met Godvresende volksleiers wat ons volk oor hoogtes laat beweeg het, waarvan ons kwalik sou kon droom.
Ons het egter ons geloofsvertroue in God verloor en begin om op mense te vertrou vir ons heil, wat veroorsaak het dat ons selfs nie kon sien toe hierdie Godvresende leiers van ons volk vervang is deur Godloënde misleiers wat Sy weë verlaat het agter die wêreldse aanvaarding en dwaalweë van humanisme en eenwêreldstaatkunde aan nie. “So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk.” Vandat ons vertroue in God begrawe is saam met ons Godvresende leiers, het ons as volk ‘n vervloeking geword. Ons het minder regte in ons eie land as enige ander minderheidsgroep of selfs enige vreemdeling afkomstig uit die verste lande wat hierheen stroom. Enige vorm van voorregte, gesag en eiendom word toenemend bedreig deur die skadu van vernietiging wat al nouer trek rondom ons volk wat vir homself afskuwelik geraak het omdat hy van sy God vergeet het. ‘n Volk wat sy God nie ken nie, kan onmoontlik in Sy weë wandel en kan Hom onmoontlik vertrou met sy toekoms. Daarom kan ons volk nie geseënd wees, solank ons nie op Hom vertrou nie. Solank as wat ons ons vertroue op mense plaas, sal ons ‘n vervloeking en ‘n spot bly.
Ons maak die dagblaaie oop en sien hoe almal raas en skree en huil en opgewonde raak oor ons land wat in duie stort, munisipaliteite wat tot niet gaan, korrupte staatsamptenary, xenofobie, moord op volksgenote, barbaristiese verkragtings – alles dinge wat enige beskaafde mens se siel sal grief. Dit is egter nie asof ons nie gewaarsku is nie. Bykans 100 gelede het die stem van ‘n profeet hierdie waarskuwings laat hoor en tog het hierdie volk hom nie daaraan gesteur nie. Steeds het hierdie volk in 1982 ten tye van ‘n referendum gaan stem teen die Evangelie van Vrede wat ‘n beskaafde en gedissiplineerde regering gewaarborg het wat bogenoemde gruwels sou teenstaan en beveg, omdat hulle geskrik het vir die dreiging van valse staatsamptenare. Volksgenote was bevrees dat die internasionale wêreld ons sou versaak en dat ons “voorreg” van wêreldse aanvaarding en die oppervlakkige genietinge wat daarmee gepaardgaan, tot niet sou gaan! Ons vrees was so groot en die sonde was so die geskrywe op hierdie volk se hart met ‘n ystergriffel, met ‘n diamantpunt, dat ons nie vir een oomblik bevrees gestaan het dat ons van ons God vervreem sou raak nie. Ons het nie eers gedink daaraan dat ons die fontein van lewende water verlaat agter die wêreldse oppervlakkigheid aan nie. “o HERE, Verwagting van Israel! almal wat U verlaat, sal beskaamd staan; wie van My afwyk, sal op die aarde geskryf word; want hulle het die HERE, die fontein van lewende water, verlaat.” (Vers 13).
Hoeveel volksgenote lees hierdie vermaning en sal dit selfs heelhartig erken en beaam en dalk self verder verkondig, maar die selfondersoek en regstelling is nie daar nie. Steeds sal hulle voortgaan om te deel in gemengde sport en hul beginsels te versaak! Steeds sal hulle hul kinders besig hou met die duiwelsdoos en drakoniese televisieprogramme in plaas daarvan om tyd in te ruim om die huisaltaar in te stel in hulle huise en hul kinders in die weë van die HERE te onderrig. Steeds sal hulle gelate aanvaar en toekyk hoe hulle kinders dergelike booshede in die skole geleer word en net ‘n aangesig wegdraai sonder om eers die moeite te doen om die kinders reg te help, die waarheid te leer of selfs te probeer om dergelike leermateriaal in die skole aan kinders te weier of om dit in die skole teen te gaan! Ons sal eerder verskonings soek oor waarom ons maar so verdraagsaam teenoor die gruwelikheid in ons midde moet wees as om ons knieë voor God te buig en met ‘n stukkende siel uit te skree om hulp: “Maak my gesond, HERE, dan sal ek gesond word; verlos my, dan sal ek verlos word; want U is my lof.” (Vers 14).
Een ding is egter seker – u kan medevolksgenote en ander mense bedrieg met saampratery om polities korrek te probeer wees, om mense se guns te probeer soek of om mense te behaag, maar die HERE ken die harte. “Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.” (Vers 10). Ons is gewaarsku dat hierdie groot onheil ons volk sou tref en noudat dit gebeur, kan diegene wie se harte trou is aan Hom hoop op verlossing in die wete dat Hy ons Verwagting is en dat ons heil by Hom alleen lê. Ons kan rustig en ywerig vir Hom voortwerk in die verskering van vers 8 van die gelese gedeelte: “Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.”
Dit is ongelooflik tragies hoe ‘n mens selfs in hierdie toestand van verskrikking en wanhoop wat ons volk beetpak, gereeld afkom op mense wat God bely as die hoogste gesag van hemel en aarde en hul uitgangspunt vir ons volk se verlossing is dat ons tot geweld sal moet oorgaan of ons tot selfbeskikking sal moet wend op ‘n eie grondgebied (waarin ons noodwendig ‘n mens sal moet vertrou vir die leiding) sonder om iewers melding te maak daarvan dat ons volk se terugkeer met hart en siel ‘n voorvereiste vir enige verlossing is! Het hierdie volk dan so blind geraak? Handelinge 28:26-27: “…Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.”
Dit is maklik om na bogenoemde teksvers te kyk en moedeloos te raak en te voel dat u die enigste volksgenoot is wat God se weë nie verlaat het nie en probeer om reg te doen terwyl die groter meerderheid van die volk se oë nie sal oopgaan nie – waarom sou ‘n mens jouself dan só vermoei? Onthou, dat God deur genade, altyd vir Hom slegs ‘n klein oorblyfsel laat oorbly wie se oë betyds oopgaan om Hom te sien, voordat Sy genadetyd vir goed verby is. . .
Laat ons as ware Godvresende kinders van God met ‘n vaste geloofsvertroue aanhou om vir Hom vrug te dra hier aan die Suidpunt van Afrika, terwyl ons bid dat Hy, op Sy tyd, vir ons ‘n diep Godvresende leier sal stuur om ons terug te lei op die ou paaie, die reguit pad – die pad terug na Hom, ons Verwagting