1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9961261

Besoekers aanlyn

Ons het 92 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Godsdiens

Hoor U Werklik?

Bybel1 Samuel 3:1 – 21

Ons lees in die gelese gedeelte van die seun Samuel wat voor Eli diens gedoen het in die huis van God nadat sy moeder hom hierheen afgebring het om aan God diensbaar te wees, volgens haar belofte. 

Samuel het daagliks in die tempel geleef en selfs daar gewoon, maar tog lees ons in vers 7 die ontnugterende woorde:  “Maar Samuel het die HERE nog nie geken nie;…”.  Op hierdie stadium lyk dinge glad nie pluis nie, want Samuel het dan voor die HERE geleef en elke dag diens gedoen in die tempel?  Was Samuel dan die enigste persoon wat “godsdienstig” was sonder om God waarlik te ken?  Ons lees in die Nuwe Testament van ‘n man wat ‘n baie ywerige godsdienstige was, maar nie ‘n dienaar van God nie – inteendeel, hy het ywerig die kerk van Christus vervolg.  Paulus, wat deur God voorgekeer en aangespreek is, het egter nie in sy verkeerdheid volhard nie.  Nadat hy kennis gemaak het met God, het hy hom waarlik tot Hom bekeer en Hom met oorgawe begin dien. 

 

Samuel is deur Eli, wat wél vir God geken het, aangeraai om na God se roepstem te luister.  In gehoorsaamheid het Samuel dit dan ook gedoen en was sy eerste opdrag van God, allermins ‘n aangename een.  Samuel het voor die keuse te staan gekom of hy God se opdrag sou uitvoer en aan Hom gehoorsaam sou wees en of hy eerder sou probeer om Eli se gevoelens te spaar.  Samuel het egter baie wys opgetree en, op versoek van Eli, God se waarskuwende oordeel oor Eli aangekondig.  Eli, wat vir God geken het, maar ongehoorsaam aan Hom was deur sy aangesig weg te draai vir die onreg van sy seuns, het bes moontlik vermoed dat God se besoeking aan Samuel met hom te doen gehad het en daarom het hy Samuel so streng versoek om niks vir hom weg te steek nie.  Eli was bewus van sy seuns se ongeregtigheid voor God se aangesig, maar ook bewus van sy sonde van versuim om hulle aan te spreek en teen hulle op te tree, Eli het ongelukkig steeds nie tot inkeer gekom nie.

Hoeveel mense is daar in vandag se lewe wat nie ook maar godsdienstig is, maar nie vir God ken nie?  Mense gaan maar kerk toe uit gewoonte en volg dalk selfs ‘n hele reeks menslike tradisies slaafs na sonder om te weet waarom hulle dit doen.  Daar is selfs menige predikante wat hul leraarskap net as ‘n beroep beskou en dus diens doen, op die oog af aan God, maar wat Hom nie waarlik ken nie.  Hierdie tipe optrede verklaar vir ons waarom daar soveel mense is wat ‘n eiesoortige lewe vir Sondae se erediens het, maar weer ‘n heeltemal teenoorgestelde lewe van Maandag tot Saterdag wanneer die wêreld en sonde gedien word.  Dit verklaar waarom daar so baie gemeentes is wat leegloop, aangesien die leraars en herders van gemeentes in diens staan van organisasies en menslike instellings, maar hulle ken God nie.  Hierdie is die rede waarom menige leraars in versuim is om te vermaan en te berispe en te tugtig, omdat hulle God nie waarlik ken nie.  Hoeveel leraars is daar nie wat ook maar die aangesig weg draai vir die verkeerde en ongeregtigheid nie, omdat hulle bang is om ongewild in hul geledere te wees of om selfs die “verkeerde lidmate” aanstoot te gee?  Die aanvaarding van mense weeg vir hul swaarder as gehoorsaamheid aan God.

Die toestand van ons volk se sielegesondheid is rede tot groot kommer.  Solank as wat mense godsdienstig gaan aanhou voortploeter sonder om God te soek met hul hele hart en hul hele siel en Hom sodoende te vind en in waarheid te leer ken, sal die geestelike verrotting net dieper en groter in die vlees van ons volk word.  Ons kan egter verseker weet dat die God wat ons volk dien en aanbid, ‘n getroue en waaragtige God is wat nooit die werk van Sy Hande laat vaar nie.  Sodra die maat van ongeregtigheid ook vir ons afvallige volkie vol geloop het, sal Hy self reg staan om Sy oordeel ook oor die huis van ons volk te voltrek.  Solank as wat daar egter nog vir ons genadetyd oor is, is dit ons verantwoordelikheid om ons aangesig nie langer weg te draai van die verkeerde nie.  Dit is ons verantwoordelikheid om die verkeerde aan te spreek sonder om die reaksie van volksgenote hierop te vrees.  Dit is tyd dat ons onsself sal bekeer van ons verkeerde weë wanneer ons tereg gewys word en nie ook maar net gelate sal aanvaar dat ons verderflik handel voor God en geen berou daaroor toon of selfs ‘n poging en begeerte toon om die verderflikheid te laat vaar nie.

Mag God so daaraan doen en so daaraan toedoen om ook vir ons verdwaalde volk leiers te verwek wat God waarlik ken en Sy Woorde in waarheid sal spreek.  Leiers wat, al is die strafoordeel, vermaning of waarskuwing dalk ook hoe swaar en hard om aan te kondig, sal spreek presies soos wat God hulle beveel om te spreek sonder om enige van Sy Woorde te verdraai of te verberg.  Dit is leiers wat sal kan duidelike rigting gee om ons volk terug te lei op die ongelooflike krom weg waarop ons nou verdwaal het.  Daar is vir ons een pad terug na ons God en dit is die weg langs die waarheid met Jesus Christus alleen as Leidsman, want Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe.

Ons voorouers het ons ook met ‘n verbond aan Hom opgedra om as diensvolk aan Hom diensbaar te wees en Hy roep na ons wat van Hom weet, maar dalk nog Sy stem moet leer ken!  As Hy Sy volk vandag roep, laat ons ook gehoorsaam antwoord, Spreek HERE, want U kneg hoor, om weer vir U diensbaar te wees. 

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie