1 Sam. 26:1-25:“En Abísai sê vir Dawid: Vandag het God u vyand in u hand oorgelewer; laat ek hom tog nou met sy spies in een slag teen die grond vassteek sonder om dit ’n tweede keer te doen. Maar Dawid sê vir Abísai: Bring hom nie om nie, want wie slaan sy hand aan die gesalfde van die HERE en bly ongestraf? Verder sê Dawid: So waar as die HERE leef, sekerlik sal die HERE hom slaan, òf sy dag sal kom dat hy sterwe, òf hy sal aftrek in die geveg en omkom! Mag die HERE my bewaar dat ek my hand aan die gesalfde van die HERE sou slaan! ...” (:8-11).
Die optrede van Dawid in hierdie saak is bewonderingswaardig, geliefdes. Hy vlug gedurig voor Saul vir die behoud van sy lewe. En dit terwyl daar niks is waaraan hy homself teenoor Saul skuldig gemaak het nie.
Inteendeel, dit is Saul se jaloesie en magsug wat hierdie gejaag na die lewe van Dawid tot gevolg gehad het. Dit is
derhalwe heeltemal te verstane dat Abísai vir Dawid om toestemming vra om Saul te verslaan hier waar hulle hom geheel weerloos aantref.
Dit sou tog maar op selfverdediging neerkom om hom te verslaan. Dawid se optrede in hierdie saak onderstreep egter vir ons waarop hy fokus. Hy fokus nie primêr op sy eie ambisies en begeertes nie – dan sou hy ongetwyfeld vir Saul net daar verslaan het ten einde die nuwe koning in Israel te word. Hy fokus ook nie op homself en sy eie
verontregting om onregverdig deur Saul behandel en agtervolg te word nie, want dan sou hy ook nie gehuiwer het om hom op Saul vir hierdie onreg te wreek nie. Dawid se fokus is om aan God gehoorsaam te wees en daarom weerhou hy homself daarvan om sy hand teen die gesalfde van God op te hef.
Daar is vir ons baie te leer uit die voorbeeld van Dawid in hierdie saak, geliefdes. Hierdie man het op merkwaardige wyse met sy optrede bewys dat hy die vertroue van sy lot en toekoms volkome in God se Hand stel. Ons weet uit sy belydenis in Ps. 16:5 dat Dawid geglo het dat God sy erfenis en lot bepaal. “Die Here is die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot.” Dawid se optrede bevestig dat dit nie net ’n geloofsbelydenis met die mond was nie, maar sy optrede het ook hiervan getuig. Dawid probeer nie met sy eie ingrype of planne om sy eie toekoms te vorm of tot sy voordeel aan te gryp nie. Dawid fokus daarop om te doen wat reg is in God se oë en laat sy toekoms en lot in Sy Hande oor. Sy handeling getuig van ’n opregte geloof van God se woorde in Matt. 10:30 wat vir ons benadruk tot watter intense mate God homself met ons en ons lot bemoei.
“En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.” Dit is duidelik uit Dawid se optrede dat hy verstaan en geglo het dat laasgenoemde nie net by wyse van spreuke is nie. God bedoel elke woord wat Hy spreek. “Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in ’n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal.” (Ps. 12:7). Dit word ook vir ons in Spr. 30:5 bevestig. “Elke woord van God is gelouter;...”.
Ons leer uit hierdie optrede van Dawid dat hy nie alleen verstaan en geglo het dat God elke woord wat Hy spreek, bedoel nie. Dawid het ook verstaan en geglo dat God by magte is om enigiets wat Hy sê tot uitvoer te bring. “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of 'n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” (Núm. 23:19). En hierdie is twee baie belangrike faktore vir gesonde geloofsvertroue, geliefdes. Indien ons nie glo dat dit wat God spreek opreg bedoel word nie sal ons nie werklik kan glo nie aangesien ons die waarheid of egtheid daarvan in twyfel trek. En wat ’n belediging is dit nie vir Hom nie! Wanneer ons andersyds twyfel of God by magte is om dit wat Hy gesê het tot uitvoer te bring, sal ons ook nie onwrikbaar op Hom vertrou nie aangesien ons dan Sy vermoë, eerder as die waarheid van Sy Woorde, in twyfel trek.
En dit is eweneens vir Hom ’n belediging. Dit word vir ons duidelik in God se Woord gestel dat ons nie die waarheid van Sy Woorde, nog Sy vermoë in twyfel mag trek nie. “Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?” (Núm. 14:11). En Dawid se optrede in hierdie saak teenoor Saul onderstreep derhalwe vir ons sy eerbied teenoor God deurdat hy in ootmoedige geloofsvertroue sy toekoms en lot in God se Hand oorgelaat het. Dawid berus hom in hierdie optrede daarin dat God se raad en tyd ook beter as sy eie is. Hy probeer nie in eie krag sy eie heil bewerk en toekoms bevorder nie, maar laat sy toekoms ootmoedig in God se Hand.
Dawid se krag was nie in homself nie, maar in sy geloof en vertroue in die waarheid van God se woorde en krag. “Want so sê die Here Here, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag;...” (Jes. 30:15). En in hierdie stille krag het Dawid ook eindelik die oorwinning behaal. Dit is dalk vir my en u vandag nodig om vir ’n oomblik stil te raak en te besin waarop ons in ons lewe staatmaak, geliefdes. Vertrou ons dalk te veel op ons eie insig of op die insig van daardie vertrouelinge in ons lewens? Ons word hierteen gewaarsku. Dit gebeur maklik. “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.” (Ps. 146:3&4). Vertrou ons dalk op ons eie ervaring, ons rykdom, ons kennis, ons goeie versekeringspolisse of wat ook al anders meer as op God om ons heil en lot vir ons te bewerk en te bestuur? Hoe dikwels probeer ons nie ons eie heil en lot uitwerk eerder as om dit ootmoedig in God se Hand te laat nie? Dit is vrae wat elkeen van ons vir onsself moet beantwoord, geliefdes. Maar weet dat ons vandag met hierdie vrae gekonfronteer word omdat God dit dalk onder ons aandag wil bring
dat ons hom deur hierdie misplaaste vertroue in ons lewens beledig. Hy verwag van ons as Sy kinders om Hom met ons hele wese te vertrou.
Mag ons Hom die eer aandoen wat Hy verdien deur Hom in opregtheid en met ootmoed te vertrou en Hom
sodoende behaag. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek.” (Heb. 11:6).
Amen.