1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
8781111

Besoekers aanlyn

Ons het 182 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

LAAT ELKE GELOWIGE AFRIKANER OPNUUT HIER LEES! DIT IS STEEDS KOSBAARDER AS KORALE!

 

Dr Tobie Muller

Spreuke 1:7:    Die vrese van die Here is die beginsel van die wetenskap.

Spreuke 9:10:  Die vrese van die Here is die beginsel van die wysheid.

Plato, die beroemde Griekse wysgeer, het bokant die ingang tot die plek waar hy geleer het, hierdie woorde gesit:  “Laat niemand wat nie bedrewe is in die geometrie hier inkom nie.”

Die verkondigers van die Bybelse spreuke was wyse manne, wyser as hulle geslag, en in die Godskennis seker wyser as Plato.

En tog staan bokant die deur van hulle skool in Hoofstuk 1:4:  “Om aan die eenvoudige kloeksinnigheid te gee, aan die jongeling wetenskap en bedagsaamheid.”  D.w.s. waar Plato sy wysheid net aan diegene wou meedeel wat reeds ‘n hoë mate van ontwikkeling besit het, is die goddelike wysheid van die Spreuke ook toeganklik vir jonge en dwase en ongeletterde.  En het nie Een, wat meer is as Salomo, gesê nie: “Ek dank U, Vader, Heer van hemel en aarde, dat u hierdie dinge van die wyse en verstandige verberg het en dit vir die kindertjies openbaar?”.

Met Christus se dood skeur die voorhangsel in twee, sodat die heilsplan van God wat verborge was onder geheimenisse, openbaar word aan alle volke en tale en nasies as die blye boodskap van redding.  So word wat alle menslike wysheid oneindig oortref, binne die bereik gestel van selfs die jongste en onkundigste onder ons.  Die deur tot die skool van Salomo staan oop vir almal:  maar die leerskool van Christus het geen deure nie, want sy stem klink deur die hele wêreld:  “Wie in My geloof het die ewige lewe.  Niemand kom na die Vader toe, dan deur My nie.”

Ons tekswoord lê egter veral klem op ‘n tweede opsig, waarin die ware wysheid verskil van die wysheid van hierdie wêreld, nl. daarin, dat die vrese van die Here die beginsel daarvan is.

Daar is groot onderskeid tussen geleerdheid en opvoeding.  Het u na Stellenbosch gekom alleen om ‘n mate van vaardigheid in letterkunde, musiek, skilderkuns, natuurkunde, wiskunde, ens., te verkry, of wel om opgevoed te word in die hoosgte sin van die woord?  As die laaste u doel is, dan moet ook u beginsel wees, die vrese van die Here.  Sonder dit is ware opvoeding onmoontlik.  Want al kan iemand skilder soos ‘n Rembrandt, komponeer soos ‘n Beethoven, en al het hy ook die dinkkrag van ‘n Aristoteles, die digkuns van Homerus, en die natuurkunde van ‘n Helmholz of ‘n Darwin, maat weet nie wat dit is om God te vrees nie, dan is hy minder opgevoed as die vissers van Galilea.  Want ware opvoeding is ‘n saak van die wil en die hart net soveel as van die verstand – dit is karaktervorming.  En geen karakter is waarlik gevorm, wat nie in die hande gewees het van die almagtige Pottebakker nie, wat sy beeld afdruk op die menslike kleiklomp.

Die vrese van die Here in die Ou Testament is die liefde tot God in die Nuwe Testament.  Die twee stry nie met mekaar nie, maar vul juis mekaar aan.  Vrese en liefde dra albei iets by om ware vroomheid te vorm.  Vrese is nodig om die heilige God ons voor oë te hou; liefde sit Hom op die troon van ons hart.  Vrese waarsku teen en vermy wat aan God aanstoot kan gee; liefde dring tot bereidwillige, blymoedige diens.  Vrese beskou God as die gesaghebbende, almagtige, alomteenwoordige, heilige; liefde kleef Hom aan as vriend en Vader.  Die twee gaan saam.  Liefde bewaar die vrese van slaafs en wantrouend te wees; en vrese verhinder die liefde van vermetel en oneerbiedig te word. Of soos iemand gesê het, die liefde en die vrese is die middelpuntsoekende en middelpuntvliedende kragte van die sedelike wêreld.  Die liefde gryp God kinderlik aan, terwyl die vrese sy voete ontbloot en met gebuigde hoof en in ootmoedige houding die oneindige Skepper en Onderhouder, soos die tollenaar, van ver aanbid.  Die vrese bewaar ons vir heiligskennis; die liefde maak die heilige aantreklik.

Die vrese van die Here is dan die eerbied wat die skepsel pas teenoor sy Skepper.  Dit is die gewaarwording, wat die mens met ontsag vervul, wanneer hy staan teenoor die oneindige wese van God.  Dink bv. aan die heiligheid van die Here.  Om onder die ontsagwekkende indruk hiervan te kom, is die beginsel van die wysheid.  Want hier staan die mens met sy gewete wat hom aankla teenoor God en hy kom onder die besef van die majesteit van die gesag van God se sedelike wette, ‘n gesag wat in die tien gebooie tot ons spreek met ‘n groot: jy sal nie; en in die bergrede ons oorweldig met ‘n nog groter: jy sal!

Toehoorder, lees die tien gebooie, bestudeer die bergrede, en is daar iemand teenwoordig aan wie Gods Woord en Sy gewete nie sal sê nie:  Jy is die man; jy is die skuldige; jy sal maai wat jy gesaai het; jy is die ewige dood skuldig?  Dan is dit, dat die vrese van die Here nie alleen eerbied is nie, maar ‘n werklike verskrikking word.  Dan is dit, dat ons in ons eie siel deurleef wat Christus voorspel het van die onboetvaardige wat eenmaal sal uitroep:  berge val op ons, heuwels bedek ons!  Ja, die eerste beginsel van die wysheid begin met die vrees en bewing van ‘n skuldgevoel, wat die sondaar na God laat uitroep:  ek ellendige mens, wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood!  Tot die driemaal Heilige kan alleen die heilge nader.  En dit is wanneer die mens in al sy diepe sondigheid verpletterd lê voor Gods aangesig, dat vir hom soos vir die stokbewaarder, daar net een groot probleem in die heelal is:  Wat moet ek doen om salig te word?

Toehoorder, is daar in u lewe oomblikke gewees, wanneer oor u hele gemoed die vraagteken gestaan het – ‘n vraag na die weg om versoen te word met die God voor wie se toorn u gevrees het?  As dit so is, dan het daarin gelê die beginsel van die wysheid, want sonder so ‘n oorweldigende besef van skuld en die belydenis wat daarop volg, is daar geen toegang tot die noue gemeenskap met dié God wat die bron van alle wysheid is nie.  Luther het eenmaal gesê:  “Die een wat waarlik wil leer, moet eers ‘n mens wees wat God vrees.  Die een egter wat God verag, vra na geen wysheid, verdra geen kastyding of tugtiging nie.”

Vir die sondaar is die vrese van die Here ‘n verskrikking; vir die verloste verander dit in die kinderlike eerbied, wat vir ‘n vader gekoester word.  Die gesag van Gods wet, wek ontsag by die mens.  Soos Moses voel hy dat hy in die binnekamer, die biduur, die kerk, heilige grond betree, en dat alles wat oneerbiedig is, eintlik majesteitskennis is.

Van ‘n seker heidense stam in Midde-Afrika word vertel, dat hulle hul afgod op ‘n hoë paal in die middel van hulle kraal sit.  Die afgod moet so in staat wees om die hele omtrek te oorsien en ‘n oog te hou op die gedrag van dienare.  Solank die swartes van hierdie stam binne die gesig van hulle afgod bly, is hulle eerlik in die handel en pleeg geen diefstal of ander misdade nie.  Maar so gou as hulle agter ‘n bos is, of ver weg, dan lieg, bedrieg en steel hulle na hartelus, omdat hulle meen dat die afgod nou nie kan straf nie.  Die ware vrese van die Almagtige verkeer altyd onder die besef van Gods heilige alomteenwoordigheid; dit wandel steeds onder toesig van die alsiende oog;  ook die verborge gedagtes van die siel het hier ontsag vir die alwetende God.  Dit sien op tot God vir leiding; dit smeek wysheid van Hom af; dit gee die teuels van die lewe in sy hande.  So word die vrese van die Here nie alleen die beginsel, maak ook die voortgang van die wyshied en bring die karaktervorming voort, wat die ware opvoeding is.

Verstand en karakter is nou aan mekaar verbonde.  Menige opgevoede boer het ‘n oneindige beter oordeel, meer gesonde verstand en is ‘n beter raadgewer, as baie geleerdes wat die gesag van God nie erken nie.  Dit is die dwaas wat in sy hart sê, daar is geen God nie; maar dit is die wyse man wat Gods bestaan met heilige ontsag eerbiedig en Hom as sy raadsman kies.  Want wie God se onverbiddelike gebooie en wette verontagsaam, sal net verbrysel word in die ewige raderwerk, wat die krag van die weerspannige verbreek.

Geleerdheid sonder karakter is dikwels ‘n vloek.  ‘n Latynse skrywer het gesê:  “Tensy jou vat heeltemal skoon is, sal alles wat jy daarin gooi suur word.”  Dit geld veral van die opvoeding.  ‘n Volle hoof met ‘n sondige gemoed gee net meer plek en krag aan die magte van die verderf.  Dink net aan die invloed ten kwade van ‘n Voltaire, ‘n Epikurus of ‘n Haeckel gehad het, ten spyte van al hulle verstandelike gawes.  Sonder die vrese van God word die kennis dikwels suur en bitter.  Dit slaan dikwels oor in ‘n swaarmoedige pessimisme, wat die lewenslus ondermyn en die ideale van die jeug versmoor; of dit verval in die leer:  laat ons eet en drink, want môre sterf ons.

Toe aan die heiden Agesilaus die vraag gestel is: wat is die beste wat die jeug kan leer?  Het hy gesê:  “Wat jongmense behoort te doen, as hulle groot is.”  Nog beter is die raad van die vrome Spurgeon: “O, jonge man, bou jou studeerkamer op Golgota; laat daar jou sterrewag verrys en aanskou van daar deur die geloof die hoë dinge van die natuur.  Neem vir jou ‘n sel in die tuin van Getsèmane en doop jou voorhoof in die waters van Siloam.  Laat die Bybel jou standaardwerk wees, jou hoogste hof van appèl in strydvrae; laat sy lig jou verligting wees en hy sal wyser word as Plato en meer ware kennis besit as die sewe wyse van die oudheid.”

Sonder die vrese van die Here maak die kennis opgeblaas.  ‘n Hoof sonder hart maak ‘n mens topswaar, sodat hy sy balans verloor.  Want karakter is die anker van die intellek.  Dit hou die verstand vas aan die ewige dinge van God te midde van alle storme van beproewing, alle orkane van versoeking en alle bare van twyfel.  Die lewensbootjie van die godvresende behou sy ewewig te midde van die woelinge van die tyd en die golwende strominge van die mensheid.  Want dit dra ‘n vrag van ware Godskennis en, geanker aan die fondamente van die Godsryk, ry dit veilig deur alle winde heen.

Veral in onstuimige dae, soos nou, is die vrese van die Here by uitnemendheid die beginsel van die wysheid.  Alles om ons word spoedig self deur ‘n duiseling verbyster, wat hom laat wankel op sy weë en sy hoof in die war bring.  Maar wie in heilige eerbied buig voor die almagtige God, wat oor alles regeer, sal ‘n kalmte van gemoed geniet en ‘n helderheid van blik bewaar, wat veral nou so nodig is.

Karakter gee ewewig aan die hoof; maar dit skenk ook gewig aan die verstand.  Wie van ons merk nie dadelik op die onderskeid tussen die redenerings van die een wat, op die wyse van ‘n debatsvereniging speel met argumente, en die ander wat ‘n betoog lewer met die volle oortuigingskrag van sy persoonlikheid?  Byna alles wat sommige groot manne sê maak ‘n indruk deur die gewig van karakter wat daaragter sit; dit is asof die vrese van God soos ‘n stoomhamer hulle woorde in die siel inpers.

Eerbied vir die grootheid van God kan ons baie help in ons studie.  Vroomheid sal wel nie van die stommeling plotseling ‘n genie maak nie; maar dit sal gewis die beste wat in hom is uithaal en verhoed dat hy sy verstandelike kragte in die sonde sal verspil.  Baie jong mense het reeds ‘n skrander brein met dronkenskap en bandeloosheid verderf, of deur luiheid en onverskilligheid ongeskik gemaak vir moeisame inspanning.  Meer as een het reeds Stellenbosch onverrigter sake verlaat, omdat geen vrese van die Here hom daarvan teruggehou het om sy tyd en talente hier te verkwis nie.

Die hele geskiedenis toon aan dat vroomheid dikwels die moeder van die geleerdheid was. Trouens, die vissers van Galilea, vir wie Jesus in hulle onbeskaafde onkunde gekry het, is deur gemeenskap met Hom en die Heilige Gees later in staat gestel om briewe te skryf wat in verstandelike krag sowel as in sedelike verhewenheid behoort tot die grootste voortbrengsels van die mensheid.  Geagte studente! die vrese van die Here kan u ook genees van die traagheid of verstrooidheid of lusteloosheid wat u verstandelike gawes verhinder om tot volle bloei te kom.

Waar hy spreek oor die lewe van wyle Principa; John Cairns, skryf iemand:  “Die huis op Dunglass waar die godsdiens altyd die vernaamste saak was, was die kweekplek van ‘n kragtige verstand sowel as van ‘n sterke siel, en albei is gevoed uit dieselfde bron.  In hierdie geval, soos in soveel ander, het geestelike krag in die tweede geslag intellektuele krag geword.”  Ook in Suid-Afrika het dit menigmaal reeds geblyk, dat huisgesinne, waar die vrese van die Here woon, kinders produseer, wat die vernaamste betrekkings in ons land met bekwaamheid kan beklee.  Des te groter skande is dit, wanneer sulke kinders meermaal die godsdiens van hulle vaders oorboord gooi – die godsdiens wat die voedster van hulle intellektuele krag was.

En omgekeerd weet elkeen van ons dat die sonde die senugestel verswak en die brein verlam.  Die kinders van die dronkaard en die wellusteling erg meermaal oor die verswakte brein van hulle vaders.  En gaan maar na die gestigte vir senuweelyers en kranksinniges en u sal met die wrede letters van ellende geskryg sien, dat veragting van Gods heilige wette die verstand van die mens meermaal uitdoof.

Kennis sonder die vrese van die Here maak dikwels hoogmoedig.  Chesterfield het êrens geskryf:  “Jong mense is geneig om te dink dat hulle wys genoeg is, net soos dronk mense meen dat hulle sober genoeg is.”  Maar wie eerbiediglik wandel onder die skaduwee van die Allerhoogste sal hoe langer hoe meer sy onkunde leer insien en sal bewaard bly vir die pedanterie, wat die onkunde met ‘n geleerde taal en groot woorde uitdos.  Die student wat soos die Skrif in God die oorsprong en laaste grond van alle dinge sien, sal met ‘n ander gemoedstemming studeer, dan die een wat in die wetenskap en kuns met menslike vernuf verheerlik.  Sy studeerkamer sal vir hom ‘n heiligdom word, waarin te midde van sy werk sy siel in aanbidding sal opsien tot die Almagtige.  So sal sy studie en sy godsdiens mekaar weerkerig bevorder.  Sy intellek sal soos glas word wat die lig van die hemel binnelaat en weerkaats.  Sy verstand sal ‘n tempel van die Heilige Gees wees.

Iemand wat later ‘n uitstekende evengeliedienaar geword het, kom eenmaal met ‘n vrome geleerde praat oor verstandelike twyfelinge waarmee hy worstel.  Hy dra sy wetenskaplike besware voor, toe die geleerde hom in die rede van met die vraag: “Het u al vanoggend vir God gebid om u ‘n oplossing van u moeilikhede te gee?  Het u by die bron van alle lig informasie gesoek?”  Hy erken toe, dat hy dit versuim het, waarop die geleerde sê:  “Meneer, u sal my verskoon as ek u nuuskierigheid omtrent die openbaring nie tevrede stel nie, solang as u skuldig is aan versuim van die eenvoudigste pligte van die godsdiens.”  Ja, ook op die gebied van die twyfel is die vrese van die Here die beginsel van die wysheid.  Wie te midde van sy verstandelike moeilikhede omtrent die godsdiens en die Bybel God getrou dien, volgens die lig wat hy het, sal nie beskaamd uitkom nie, al gaan hy deur diepe waters.  Dit is wanneer die twyfel ontaard tot ‘n ligsinnige spel met geleerde argumente, waaraan sedelike, godsdienstige erns ontbreek, dat dit lei tot ‘n doolweg sonder uitgang.

Toehoorders, die studiejaar het net begin:  laat ons tot die beginsel daarvan kies: die vrese van die Here.  En dan sal u ondervind wat Jakobus sê:  “Die wysheid wat van bo is, is vereers suiwer, daarna vreedsaam, beskeie, geseglik, vol van barmhartigheid en van goeie vrugte, nie partydig van oordeel nie en ongeveinsd.”  Maar bo alles is dit ‘n wysheid wat ‘n ewige betekenis het en wat, wanneer eenmaal alles wat u nou studeer in die ander wêreld dwaas sal lyk, nog sal voortleef as die kennis van God deur Jesus Christus onse Heer.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie