Núm. 21:1-10:“En die volk het teen God en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit Egipte
laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie,
en ons siel walg van die ellendige kos. Toe stuur die HERE giftige slange onder die
volk wat die volk gebyt het; en baie mense uit Israel het gesterwe. En die volk het na
Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen die HERE en teen u
gespreek het. Bid tot die HERE, dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het
vir die volk gebid. Daarop sê die HERE aan Moses: Maak vir jou ’n giftige slang en
sit dit op ’n paal; dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe. Toe het Moses ’n
koperslang gemaak en dit op ’n paal gesit: en as ’n slang iemand gebyt het en hy
kyk na die koperslang, het hy in die lewe gebly.” (:5-9).
Ons lees in hierdie gedeelte maar van een van vele kere wat Israel teen God opstandig geraak het. Hierdie was eintlik nie ongewone gedrag van hulle kant af nie. Ons lees in Núm. 14 van God se ongeduld met hulle hieroor. “Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie
glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei; en Ek sal jou ’n groter en sterker nasie maak as hulle.”
(Núm. 14:11&12). Ons sien egter ook in dieselfde hoofstuk dat God se lankmoedigheid, genade, barmhartigheid en goedertierendheid onbegryplik groot is. “Die HERE is lankmoedig en groot van goedertierenheid, wat die ongeregtigheid en oortreding vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie, wat die ongeregtigheid van die
vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag. Vergeef tog die ongeregtigheid van hierdie volk na die grootheid van u goedertierenheid, en soos U hierdie volk van Egipte tot hiertoe vergewe het. Toe sê die HERE: Ek vergewe, volgens jou woord.” (Núm. 14:18-20).
Die spesifieke gebeure in hierdie opstand van Israel teen God herinner ons daaraan dat die volk Israel nie die eerste was om God op hierdie wyse te vertoorn nie. En hulle was ook nie die laaste nie. Hierdie opstandigheid teen God is ouer as die mensdom self. En die giftige slange wat God gestuur het om die volk te byt a.g.v. hul opstand teen Hom, herinner ons aan die opstand van die eerste mense – Adam en Eva. “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.” (Gén.
3:15). Laasgenoemde herinner ons dan ook weer aan die ewigdurende stryd tussen die mens en sonde. Hierdie stryd was nie alleen die lot van die mense in die Ou Testament nie. Hierdie stryd het ook nie geëindig met Christus se sterwe nie. Hierdie stryd is ’n stryd wat ons elkeen voortdurend moet voortsit. Maar dit is belangrik dat
ons sal verstaan dat ons nie uit eie krag die oorwinning in hierdie stryd kan behaal nie.
Geliefdes, kom ons kyk wat Israel se reaksie was nadat God die giftige slange onder hulle gestuur het wat tot die lewensverlies van baie mense onder hulle gelei het. Het hulle probeer om hierdie slange in eie krag dood te maak? Dit is nie wat daar geskrywe staan nie. Het hulle op vlug geslaan en so vinnig so ver moontlik van hierdie slange probeer wegkom? Dit staan ook nie daar geskrywe nie. Het hulle hul toevlug tot God geneem om hulle uit hierdie toestand van nood te red? Dit is wat daar geskrywe staan. Ek weet nie of die oplossing wat God vir Moses in hierdie
toestand gee vir u dalk nie vreemd is nie, maar dit is vir myself geweldig vreemd – maak ’n koperslang en sit dit op ’n paal en hulle wat na hierdie koperslang kyk nadat hulle gebyt is, het in die lewe gebly. Hoe sal ’n mens van ’n dodelike slangbyt genees kan word deur na ’n koperslang op ’n paal te kyk? Wanneer ons egter mooi oplet, sal ons besef dat die genesing en redding van hierdie mense in geloof en gehoorsaamheid aan God se opdrag opgesluit was – hoe vreemd die opdrag ookal sou voorkom.
Daar is geskrywe dat as ’n slang iemand gebyt het en hy kyk na die koperslang, het hy in die lewe gebly. Hierin is ’n hele paar belangrike punte. Dit blyk dat diegene wat deur die slange gebyt is en na hierdie koperslang gekyk het volgens God se opdrag, die lewe behou het. Dit is seker veilig om te aanvaar dat daar mense was wat ook in hierdie toestand van nood nie God se opdrag gehoorsaam het nie en derhalwe in hul opstand teen God volhard het. Hulle sou nie in die lewe gebly het nie, omdat hulle God se opdrag wat tot hul heil sou wees nie geglo en nie gehoorsaam het nie. Hulle wou nie die redding wat Hy vir hulle bewerk het, aanvaar nie vir welke rede ookal. En die loon van hierdie ongeloof en ongehoorsaamheid aan die woorde en opdrag van God was natuurlik die dood. “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” (Rom. 6:23).
Hierdie situasie van Israel laat my nie alleen terug dink aan Adam en Eva nie, maar ook van die gebeure in die lewe van Israel in die woestyn af vorentoe. Dit laat my dink aan die heenwysing na die Nuwe Testament waar ons lees van die sonde wat deur die gehoorsaamheid van Christus aan God ook aan die vloekhout vasgenael is soos wat die slang op ’n koperpaal gesit is. “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,” (Kol. 2:13&14). Hierdie kosbare heenwysing en herinnering hoedat ons ook van die sonde wat elkeen van ons nog dikwels oorweldig, gered word. Ons redding uit die mag van die sonde en die dood is om in gehoorsaamheid ons oë te rig en gevestig te hou op Hom wat ter wille van ons misdade deurboor en aan die vloekhout opgehang is. So mooi het die profeet Jesaja dit vir ons in Jesaja 53:5 gestel. “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons
ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” En dan handel Romeine 4 ook op duidelike wyse hiermee om ons te herinner dat ons nie ons eie redding en genesing kan bewerk nie, geliefdes. Soos in die geval van die volk Israel is daar vir ons ook maar net één manier om van hierdie dood van die sonde gered te word en dit is gehoorsaamheid en geloof in Hom. “Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.” (:4&5).
“Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie, maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het, wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.” (:23-25). Hierdie gebeure in die lewe van Israel in die woestyn wat deur die giftige slange gebyt is laat my ook dink aan ’n bede van Paulus. God het deur hierdie man besondere werk verrig deurdat God hom as ’n instrument gebruik het om soveel mense tot geloof te bring en die Evangelie kragtig uit te dra. En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen. “En God het
buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen, sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.” (Hand. 19:11&12).
Maar ten spyte hiervan moes Paulus soos elke ander mensekind hierdie stryd teen sonde stry. “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ’n doring in die vlees gegee, ’n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk.” Paulus is nie hierdie stryd gespaar nie, nog kon kon op ‘n alternatiewe wyse vir homself redding of regverdiging voor God bewerk. “En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” (2 Kor. 12:9).
Geliefdes, mag ons uit die lewe en foute van die volk Israel opnuut tot die besef gebring word dat ons heil en redding van God afhang en dat ons Hom in geloof en gehoorsaamheid moet vertrou. Daar is vir ons geen ander manier om ons eie redding te bewerk nie en ongehoorsaamheid in hierdie belangrike saak sal vir ons geen ander loon as die dood inhou nie. “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” (Hand. 4:12).
Amen.