1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
8781117

Besoekers aanlyn

Ons het 181 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

DIE LIEFDE VAN GOD

BybelRom. 5:1-11: “Want nouliks sal iemand vir ’n regverdige sterwe – vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe - maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (:7&8).

Ek dink dat enige gelowige kind van God wat tot ’n eerlike besef van sy eie sondigheid kom op een of ander stadium wonder of God hom of haar werklik liefhet. Hoe kan Hy liefhê as ek dan soveel verskriklike en verkeerde dinge in my lewe gedoen het? Sal God my regtig vir die een of die ander verskriklike sonde kan vergeef? Ek het God dan só gruwelik met my sondige optrede beledig en bedroef – sou Sy liefde vir my voortduur? Al hierdie vrae word vir ons in Romeine 5 deeglik beantwoord. God se liefde is onvoorwaardelik. Let mooi daarop dat Sy liefde onvoorwaardelik is – NIE GOEDKOOP NIE. Daar is ’n baie groot verskil.

Wanneer ons sê dat God se liefde onvoorwaardelik is, bedoel ons nie dat ons onder die dekmantel van God se liefde ’n lewe van sonde en ongebondenheid kan leef nie. Hiermee word bedoel dat God nie vir enige van ons as Sy kinders as voorwaarde gestel het dat ons eers hierdie of daardie vlak van reinheid of heiligheid moet bereik alvorens Hy ons sal liefhê nie. Inteendeel, dit word vir ons in Romeine 5 duidelik gestel dat Hy Sy lewe vir ons afgelê het toe ons nog sondaars was – m.a.w. Hy het hierdeur reeds Sy liefde aan ons bewys. Hy het die prys vir ons sonde betaal omdat Hy ons liefgehad het en nie omdat ons daarop geregtig was of dit verdien het nie.

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Joh. 3:16). Dit beteken nie dat die liefde van God gebruik kan word as ’n verskoning dat ons ons nie van ons verkeerde weë hoef te bekeer nie. Dit is dan juis omdat God se liefde vir ons so groot is dat Hy ons tot bekering roep en ons van die duiseternis tot die lig roep. “Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,” (1 Pet. 2:9). En omdat Hy ons liefhet, red Hy ons van die mag van sonde en wil Hy deur Sy Gees by ons woning maak om ons uit die mag van duisternis te red.

Dit is juis omdat Hy ons liefhet dat Hy ons nie in die slawerny van sonde as gevangenes wil laat nie en die vyandskap tussen ons en God die Vader tot niet wil maak. Dit is juis omdat Hy ons liefhet dat Hy die vrede tussen ons en God die Vader wil bewerk. Efés. 2:13-18:”Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het. En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was;

want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.” Geliefdes, God bewys Sy liefde aan ons ook nie omdat Hy van ons afhanlik is vir enigiets nie. Daar is absoluut niks in die heelal wat enigeen van ons het om Hom te bied waaroor Hy teenoor ons verleë of afhanklik kon wees nie. “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”

(Rom. 11:36). Ons kan hierdie verder aan die hand van ’n paar voorbeelde nog meer duidelik sien. So bewys God Sy liefde aan Dawid as ’n skaapwagter met niks om Hom te bied nie. En is hierdie liefde van God in Christus nie duidelik bewys deur Sy optrede teenoor die besetene van Gádara, die verlamde man in Kapérnaüm, die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, die man met die verdorde hand, die twee blindes van Jérigo en soveel ander wat niks gehad het om Hom te bied nie? Hierdie mense het hul almal tot Hom gewend in geloof op Sy barmhartigheid en liefde.

Niemand van hulle was op ’n hoogtepunt in hul lewens nie – ten minste totdat Hy Hom oor hul ontferm het nie. Geliefdes, God bewys Sy liefde gewoon aan ons omdat Hy wil. Daar is tog niemand wat Hom op enige wyse kan verplig om dit te doen nie, hetsy deur ’n bevel of deur motivering van ’n beloning van een of ander aard nie. Hieruit kan ons sien en word dit duidelik dat God se liefde aan ons eenvoudig spruit uit Wie Hy is – God is liefde. “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.” (1 Joh. 4:8). Die feit dat ons sondige mense is wat Hom bedroef en teleurstel verander absoluut niks aan hierdie liefdevolle karakter van God nie – daarom dat Hy ons as swak en sondige mense steeds liefhet. Sy liefde tot ons spruit uit Sy karakter en nie ons verdienste nie. Dit word tog vir ons duidelik in die lewe van Paulus onderstreep.

Het Paulus dalk vir God beïndruk toe hy die gemeente van God vervolg het en gelowiges in Christus ter dood gebring het? Natuurlik nie. Het Paulus dit verdien dat God Sy liefde aan Hom bewys het deur hom op die pad na Damaskus voor te keer en hom van sy dwaalweg te bekeer? Net so min as ek en u. Maar tog doen God dit om hierdeur die aard van Sy liefde, Sy liefdevolle karakter te bewys. “En ek dank Hom wat my krag gegee het, Christus Jesus, onse Here, dat Hy my getrou geag en in die bediening gestel het, my wat vroeër 'n lasteraar en 'n vervolger en 'n geweldenaar was. Maar aan my is armhartigheid bewys, omdat ek dit onwetend gedoen het in ongeloof. En die genade van onse Here was baie oorvloedig met geloof en liefde wat in Christus Jesus is. Dit is 'n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om 'n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe.” (1 Tim. 1:12-16).

Geliefdes, God het ons nie lief omdat ons Hom eerste liefgehad het nie. Ons het Hom lief omdat Hy ons eerste liefgehad het. Ons het deur Sy liefde vir ons met liefde kennis gemaak en daarom kan ons liefhê. Mag die besef van hierdie wonderlike gawe wat ons van God ontvang het ons harte ook aanroer om die gawe van liefde wat ons aan Hom en ons naaste verskuldig is, aan te wakker en te laat groei. “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het. As iemand sê: Ek het God lief — en sy broeder haat, is hy 'n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.” (1 Joh. 4:19-21).

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie