Kol. 3:18-25 “En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,”(:23). Daar is weinig van ons wat nie in enige gegewe week die frustrasie van absolute swak dienslewering ervaar nie. En die voorbeeld aan die samelewing word deur die goddelose, korrupte staatsamptenare wêreldwyd gestel. Sogenaamde hooggeplaastes, maar eerlose mense. Oneerlike mense,onsedelike mense, selfsugtige, geldgierige, magbehepte mense – ja, goddelose mense.
Hierdie mense word tog deurgaans aan die samelewing as die heersers en aansienlikes voorgehou en op die wyse raak mense aan hierdie verkeerde gedrag gewoond en begin daaraan meedoen.
Dit is hartseer om te erken, maar ons eens diepgelowige en Godvresende volk het nie hierdie strik van Satan ontkom nie. Ons kry te make met Afrikanermense wat ewe eerloos leef. Mense wie se lewens openlik getuig dat hulle nie meer wandel op die weë soos in die Woord vir ons geleer nie, maar eerder saam met die wêreld agter die begeerlikhede van selfsug en goddeloosheid aan dwaal. Dit is veral die optrede van die jeug wat ‘n mens tot groot kommer stem. Die groot meerderheid wat dit sommer openlik sal stel dat hulle nie iets doen as daar nie pertinent (dalk selfs uitsluitlik) vir hulself voordeel in is nie. Hierdie is openlike ongehoorsaamheid aan die Woord van die HERE. “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.” (Fil. 2:3&4).
Ons leer uit Romeine 12 duidelik dat ons Godsdiens van ons veel meer vra as om net eenmaal per week in die kerk te sit, een maal in my lewe my geloof te bely en te probeer om die Tien Gebooie na kom. Ons leer dat ons Godsdiens oor veel meer as net myself gaan. Die geloof in Christus lê ons die verantwoordelikheid op om die HERE met toewyding te volg. En dit beteken dat ons as gelowige kinders van God, volgens die voorbeeld van Christus, ook tot selfopoffering en diensbaarheid bereid moet wees. “EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” (Rom. 12:1&2). Ja, luister hoedat ons pertinent hierin die waarskuwing ontvang dat ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig moet word nie. Is dit nie vandag ook só toepaslik op ons omstandighede nie!
En wat ‘n duidelike herinnering dat dit wat ons doen nie uit selfsug en uitsluitlik tot ons eie voordeel moet wees nie, maar met ‘n gesindheid van diensbaarheid asof dit vir die HERE is. Geliefdes, in ‘n samelewing waarin selfsugtige optrede nie alleen ‘n algemene verskynsel geword het nie, maar ook daagliks deur die hooggeplaastes in die wêreld ten toon gestel word, is dit van groot belang dat ons oog nie op hierdie mense gerig is as ons voorbeeld nie. Maar laat ons deur hierdie vermaning herinner word om die oog gevestig te hou op ons Leidsman wat ons langs die weg van waarheid lei. Ons sal met ons oog op Hom gevestig langs die weg van onselfsugtigheid wandel. En dit is ook langs hierdie weg wat ons ‘n eerbare lewenswandel en ‘n vol lewe sal vind.Dit is langs hierdie weg waar ons sal voel asof ons ‘n sinvolle bydrae tot diesamelewing en tot God se skepping lewer. En dit is langs hierdie weg waar ons toekoms nie vir ons sinloos, uitsigloos en donker sal lyk nie, maar langs hierdie weg sal ons oog ons ewige eindbestemming raaksien. Ja, langs hierdie weg sal ons die eindbestemming sien waar ons van Hom die loon sal ontvang vir alles wat ons dalk hier ter wille van Hom moes opoffer.
Mag ons gedurig gedagtig wees aan die selfopofferende diensbaarheid van ons Here en Meester. Hy wat nie alleen vir ons die voorbeeld gestel het van ware, onselfsugtige diensbaarheid aan God in Sy daaglikse wandel hier op aarde nie, maar selfs bereid was om in absolute onselfsugtigheid Homself, Sy eie lewe aan die Vader te offer. En mag ons liefdie vir Hom ons besiel om hierdie lewe van selfopofferende en onselfsugtige diensbaarheid na te volg. Ja, mag ons dit voor oë stel om dit wat ons doen van harte te doen asof vir die HERE! En mag elke offer van onselfsugtigheid en selfoppering aan Hom vir ons ‘n voorreg en eer wees.
Amen.