Die AVP herhaal hierdie oordenking van Hannes Ollewagen, aangesien die behoefte om saam te bid, elke dag dringender word en ons graag klem daarop wil lê.
Luk. 18:1-8 “EN Hy het ook aan hulle 'n gelykenis vertel met die oog daarop dat 'n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie,” (:1).
Dit is interessant hoedat die skrywer, Lukas, begin deur aan ons die rede agter hierdie gelykenis van Christus te verduidelik. Dit is dus belangrik dat ons weet waarom Christus hierdie gelykenis vertel het. Ons moet verstaan dat dit vir die HERE belangrik is dat ons bid. Ja, dit is nie net belangrik om te bid nie, maar dat ons dit op gereelde grondslag moet doen – dat ons gedurig moet bid sonder om moedeloos te word.
Hierdie opdrag word aan ons nie net in hierdie gelykenis gegee nie, geliefdes. Die HERE onderrig ons op verskeie plekke in Sy Woord in hierdie verband. Luister maar na die maklik verstaanbare en duidelike opdrag uit 1 Thes. 5:17. “Bid sonder ophou.” En ook in Lukas 21:36 vind ons hierdie opdrag in geen onduidelike taal nie. “Waak dan en bid altyddeur, ...”. En dan word hierdie saak ook in die brief aan die Romeine aangeraak. “verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.” (Rom. 12:12).
Hierdie klink tog na ‘n heel eenvoudige opdrag nie waar nie, geliefdes? Maar hoeveel van ons kom hierdie “eenvoudige opdra” van die HERE na? En nou tel ons nie daardie prewel gebedjie wat uit gewoonte gedoen word nie. Ons praat van opregte gebede waarin ons van harte die aangesig van God soek en in waarheid en gees tot Hom bid soos wat ons veronderstel is om te bid. “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” (Joh. 4:24). Hierdie opdrag om te bid word dalk om meer as een rede soveel maal in die Woord van die HERE herhaal. Dit is om die belangrikheid daarvan te benadruk, maar ook omdat die HERE weet hoe sleg ons as mens in hierdie “eenvoudige oprdag” van Hom vaar. Dink maar aan die gebeure in Getsémané waar Christus aan Sy dissipels ook hierdie “eenvoudige opdrag” gee wat hulle nie in staat was om tot uitvoer te bring nie. “En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” (Matt. 26:40&41).
Ons is baie vinnig om te kla oor die toestand in hierdie wêreld, geliefdes. En ewe haastig om kritiek oor sake uit te spreek. En wat baat dit eindelik? Dit is natuurlik ‘n manier om van emosie en frustrasie ontslae te raak. Maar dink ons ooit daaraan dat ons ‘n groter verskil aan probleme kan maak as wat ons besef? Geliefdes, ‘n ware gelowige kind van God het veel meer krag tot sy beskikking as wat ons verstand kan omvat. “...Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag. Elía was 'n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit. (Jak. 516-18). Bedink uself die krag tot u beskikking om ‘n probleem, ‘n saak, te dra en te mag lê voor die troon van die Heilige, Almagtige Skepper, God en Koning van die heelal. Ja, dinge waarin ons in menslike vermoë absoluut géén verskil kan maak nie. Maar ons ken die Een wat enigiets kan doen. Ja, ons ken Hom wat selfs tye en geleenthede verander! “Daniël het toe gespreek en gesê: Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne. Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het;” (Dan. 2:20&21). Geliefdes, Daniël het die krag hiervan verstaan. Elía het die krag hiervan verstaan. Nehemía het die krag hiervan verstaan. Moses het die krag hiervan verstaan. Dawid het die krag hiervan verstaan. En dink maar aan die verskil wat hulle in hul leeftyd teweeggebring het – nie deur hul besonderse vermoëns nie, maar deur hul besonderse gebede!
Ek is seker dat hier min, indien enige, van ons is wat nie oor iets in hierdie lewe moedeloos is nie. Ja, net soos wat Moses, Dawid, Elía en Nehemía moedeloos geraak het. Maar hulle moed is nie gebreek nie. Hulle het geweet dat hulle deur hul gebede ‘n verandering kan bewerk. En volgens hierdie voorbeeld moet ek en u nie toelaat dat hierdie dinge in die wêreld ons moed breek nie, geliefdes. Maar laat dit ons eerder herinner aan die opdrag van die HERE om te bid sonder om moedeloos te word en ons aanspoor om Sy Aangesig in waarheid te soek. Ja, mag dit ons herinner hoe belangrik gebed is en ook hoeveel krag daar in gebed is. Maar waak ook daarteen dat u gebede nie ontaard in ‘n tyd van gesanik en selfbejammering voor God nie. Daarin het Hy nie ‘n behae nie. Maar Hy het wel ‘n behae daarin wanneer ons met opregte ootmoed en afhanklikheid ons smekinge met volharding voor Hom bring en terselfdertyd onthou om ons dank teenoor Hom te betuig. “VOLHARD in die gebed en waak daarin met danksegging;” (Kol. 4:2).
Geliefdes, mag ek en u in hierdie saak meer getrou handel. En mag ons hierin opreg handel sodat ons gebede ook ‘n welgevallige offer voor God mag wees. “Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer.” Ps. 141:2.
Amen.