Rom. 3:21-31
“want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.” (:23&24).
Geliefdes, ons lees in Génesis 1 dat God die mens na Sy Beeld geskape het. “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape;...” (Gén. 1:27). En in Ps. 8:6 stel Dawid dit as volg – “U het hom weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.” Ons lees dan ook hiervan in 1 Kor. 11:7:”Want ‘n man moet die hoof nie bedek nie, omdat hy die beeld en heerlikheid van God is;...”. En hier, in die tuin van Eden, kon die mens, geskape na die beeld en heerlikheid van God, ook in die heerlike teenwoordigheid van God se nabyheid leef. Ja, ons lees van hierdie kosbare verhouding waar God ook die mens opsoek. “En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie;...” (Gén. 3:8). “Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy?” (Gén. 3:9).
Ongelukkig is dit soos wat ons in Romeine 3 vanoggend lees dat die mens se sonde tot gevolg gehad het dat hierdie beeld en heerlikheid van God in die mens ontbreek. Ja, terwyl ons in Génesis 3:8&9 lees hoedat God die mens opsoek, lees ons in Génesis 3:23 hoedat die mens van God weggestuur word nadat hy teen Hom gesondig het. “Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is.” Waar die mens vantevore in die wonderlike en heerlike teenwoordigheid van God kon leef, is hy nou, as gevolg van sy ongehoorsaamheid aan God, in ‘n toestand van verwydering van God.
Ek is seker dat elkeen van ons wel bewus is van hierdie wanhopige en eensame gevoel wanneer ons aan God ongehoorsaam is. Ons kan dus die woorde uit Romeine 3 in alle eerlikheid beaam omdat ons weet dat ons sondigheid die beeld en heerlikheid van God in ons laat ontbreek. En wat kan ons doen om dit te herstel, geliefdes? Absoluut niks! Net soos wat Adam en Eva niks kon doen om dit te herstel nie. Dit is iets só kosbaar wat deur die mens geskend is dat daar géén mens is wat dit kan herstel nie. Dit is alleen vir God moontlik om dit te herstel. En dit was vir hierdie herstel dat God Sy geliefde Seun, onse Here Jesus Christus, na die aarde sou stuur. Hy sou in volkome gehoorsaamheid aan God ‘n volmaakte offer bring vir die vergifnis van hierdie groot oortreding van die mens. Hy sou in gehoorsaamheid Sy eie lewe op die altaar voor God plaas ter versoening van hierdie vergryp. “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,” (Efés. 1:7).
Dit is egter baie, baie belangrik dat ons besef dat hierdie offer van Christus nie gering was nie, geliefdes. Dit was nie iets wat gebeur het sodat om ons geloofsverantwoordelikheid van ons weg te neem en op Christus te plaas nie. Hiermee bedoel ek dat die offer van Christus nie beteken dat ek kan lewe en sondig en aan elke vleeslike begeerte toegee omdat “Christus mos vir my sonde gesterf het nie”. Hy het nie Sy lewe gegee sodat ons God kan minag en uittart nie. Hy het nog minder Sy lewe gegee sodat ons dit as verskoning kan gebruik om verder die beeld en heerlikheid van God in ons lewens te vernietig nie. Maar Hy het Sy lewe as offer gegee juis omdat daar niks is wat ek en u het waardeur ons onsself voor God die Vader kon regverdig nie. Hy sou Sy lewe in volkome gehoorsaamheid aan God offer sodat ons deur hierdie volmaakte offer geregverdig kan word. En hierna het Hy die Heilige Gees aan ons as gawe geskenk om in ons harte en lewens te werk tot die versoening met die Vader en die herstel van die beeld en heerlikheid van God in ons lewens. “nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees” (Titus 3:5). Ja, die Heilige Gees moet ons bystaan in hierdie vernuwing in ons lewens om opnuut met die Vader versoen te word en met nuwe ywer te probeer om ‘n draer van Sy beeld en heerlikheid in ons lewens te wees.
Geliefdes, laat ons hierdie grootste genadegawe van God in Christus Jesus aanneem en arbei om deur Sy Heilige Gees se leiding, werking en krag in ons lewens opnuut Sy beeld en heerlikheid in ons lewens te dra.
“Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe. Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” (Rom. 6:22&23).
Amen.