1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7037119

Besoekers aanlyn

Ons het 14 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

HY HET AAN ONS ‘N VOORBEELD GESTEL

BybelJoh. 13:1-20

“Toe Hy dan hulle voete gewas en sy bo-klere geneem het, gaan Hy weer aan tafel en sê vir hulle: Verstaan julle wat Ek aan julle gedoen het?  Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit.  As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was.  Want Ek het julle 'n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, 'n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en 'n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie.  As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.”  (:13-17).

Geliefdes, wat ‘n Voorbeeld!   Die HERE verduidelik nie alleen aan Sy dissipels wat Hy van hulle verwag nie, maar Hy demonstreer dit ook aan hulle.  En dit is mos wat ons doen wanneer ons aan iemand ‘n taak verduidelik en baie seker wil maak dat hulle verstaan – ons wys vir hulle hoe dit gedoen moet word.  Ons verwag dan ook dat hulle ons demonstasie noukeurig moet navolg omdat ons verwag dat hulle in die saak dieselfde resultaat as die leermeester sal behaal.  

En hoe kosbaar is hierdie gedeelte nie ook in ons tyd nie.  Dit ruk die mens wat deur ‘n humanistiese voorspoedsteologie op ‘n troontjie geplaas is van daar bo af!  “As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was.  Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.” (:14&15).  Die Woord van die HERE gaan toe nie net net oor allerhande mooi beloftes van liefde, voorspoed en seën nie.  Daar is ook verantwoordelikheid, opoffering en selfverloëning daarin!  Jy is toe nie die middelpunt waarom alles draai nie en die hele wêreld is nie geskape en daargestel om jou te dien en ter wille te wees nie.

Die Woord van die HERE leer vir ons dat die lewe hier op aarde na die Sondeval geen maklike reis sal wees nie.  “En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie — vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.  Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” (Gén. 3:17-19).  En nou sal u vra – maar het Christus dan nie na die aarde gekom nie?  Inderdaad!  Hy het inderdaad in die gedaante van ‘n mens na die verdorwe aarde gekom, maar nie om enige instelling van God te ontbind of te verander nie, maar om dit te vervul.  

Die les en voorbeeld van Christus uit ons gelese gedeelte leer aan ons ons verantwoordelikheid teenoor God en ons naaste hier op ‘n verdorwe aarde.  Hy leer aan ons hoe om op te tree en te leef om die moeilik hier op aarde ligter te maak.  Ja, Hy het op aarde die juk en swaarkry wat op soveel mense swaar gedruk het vir hulle kom verlig.  En ons behoort as Sy volgelinge ook hierdie voorbeeld na te volg om so die juk en swaarkry van ander ligter te maak.  “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” (1 Joh. 2:6).  Hy het hierdeur aan ons verantwoordelikheid en diensbaarheid kom leer en nie dat Hy volgens elke gril en gier van ons aan ons alles sal skenk op ons bevel nie.  

Geliefdes, ons sien vandag soveel mense wie se lewens vir hulle geen sin het nie.  En ‘n mens wie se lewe nie sin het nie is ‘n ongelukkige en neerslagtige mens.  Die meeste van hulle wag dan ook op een of ander ekterne faktor om geluk in hul lewens te bring.  Maar geluk is iets binne in jou eerder as wat dit van buite kom, geliefdes.  Die mens wat nie wag vir ander om hom/haar gelukkig te maak nie, maar probeer om volgens die voorbeeld van Christus aan ander geluk in hul lewens te bring en ander se las te verlig, sal in hul strewe tot diensbaarheid aan God ook ‘n doel en sin vir hul lewens vind.  En hierdie mens sal die kosbare gawe van geluk hierdeur verwerf.  “WELGELUKSALIG is die opregtes van weg, wat in die wet van die Here wandel.” (Ps. 119:1).  

Geliefdes, ons kan nie ontken dat ons samelewing erg ongesteld is nie.  ‘n Mens weet amper nie van ‘n familie waarin daar nie hartverskeurende swaarkry of seer is nie.  En daarbenewens is dit regtig net uitsonderlike families waarin daar nie verdeeldheid, twis en vervreemding is nie.  Ek kan nie help om te wonder hoeveel anders dit sou lyk indien ons met opregtheid en getrouheid hierdie opdrag van Christus in Johannes 13 gehoorsaam het nie.  Is hierdie stukkende families en lewens nie juis die gevolg omdat ons in selfsug en eiesinnigheid maar net ons eie begeertes en strewes bo die gebod van die HERE stel nie?  

Geliefdes, raak vandag vir ‘n oomblik stil en bedink vir ‘n oomblik met hoeveel toewyding u hierdie opdrag van diensbaarheid van die HERE gehoorsaam.  Is ek en u die lig in ‘n donker wêreld, die sout van die aarde, hande van diensbaarheid wat God kan gebruik om ander se wonde te verbind en swak en vermoeides op te rig?  Ons kan nie aanvoer dat ons nie weet hoe ons die HERE hierin moet gehoorsaam nie, want Hy het self aan ons die voorbeeld baie duidelik kom stel.

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie