1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
6757163

Besoekers aanlyn

Ons het 31 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

LEEF NABY AAN HOM

BybelPsalm 11:1-7

“Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.  Want die HERE is regverdig; Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien.”  (:5&7).

Geliefdes, ons lees in Génesis 22 hoedat God vir Abraham op die proef stel.  Abraham se liefde vir God is beproef.  “NÁ hierdie dinge het God Abraham op die proef gestel ...”. (:1). God wou sien dat Abraham se liefde vir Hom opreg was, dat hy God gevrees het en Hom bo alles liefgehad het.  En deur God se versoek sonder enige teëspraak te gehoorsaam, slaag Abraham hierdie toets.  “...want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.” (:12). God het sy gehoorsaamheid en bereidwilligheid in Abraham se opregte hart raakgesien.  God het gesien dat Abraham se liefde vir Hom nie alleen in woorde of in ‘n belydenis bestaan het nie, maar dat sy optrede daarvan getuig het dat hy God in alles sou eer en gehoorsaam.   En so groot welbehae het God in hierdie gehoorsame optrede van Abraham dat Hy na hierdie man as Sy vriend verwys.  “MAAR jy, Israel, my kneg, Jakob, wat Ek uitverkies het, nageslag van Abraham, my vriend, ...” (Jes. 41:8).  Daar was in hierdie vriendskap tussen Abraham en God opregte liefde van beide partye.  En Abraham het sy liefde aan God bewys daarin dat hy nie aan God ongehoorsaam wou wees en so God se hart bedroef nie.  ‘n Mens wil mos nie iemand vir wie jy waarlik liefhet, seermaak of teleurstel nie?  Abraham het bewys dat hy ten koste van homself sou optree om nie God se hart te bedroef nie. 

Ons hoor in die ligsinnige teologie wat in ons dae groot aanklank by mense vind dat Jesus ons “pêl” is.  Maar hierdie kettery moet ons in totaliteit verwerp.  Dit is nie ‘n teologie wat leer dat ons ons verhouding met God moet koester nie.  Dit het eerder ten doel om mense van hul eerbied en respek vir God te beroof en om Hom aan die verganklike mens gelyk te stel.  Hierdie verwerplike teologie verkleineer God en verhoog die mens tot ‘n wese wat met God gelykgestel kan word, want “pêlle” is mos mekaar se gelyke.  “en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van 'n verganklike mens...” (Rom. 1:23).  En ewe gerieflik kan die teksvers uit Johannes 15:15 aangehaal word om Jesus as ons vriend voor te hou.  “Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem,...”.  Christus stel dit duidelik in die vorige vers van dieselfde gedeelte dat Hy nie in hierdie vriendskapsverhouding van Sy verhewenheid en die eer wat Hom verskuldig is, afstand doen nie.  “Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.” (Joh. 15:14).  Hulle wat Hom nie wil gehoorsaam nie, maar hierdie “vriendskap” wil gebruik om Hom van Sy heerlikheid te ontneem en Sy gebooie te verontagsaam, staan nie in ‘n ware vriendskap met Hom nie.  Enige persoon wat net ‘n vriendskap wil gebruik om sy eie gerief en voordeel te soek, is nie ‘n ware vriend nie.  

Geliefdes, God staan nie in ‘n vriendskapverhouding met mense wat in ongeregtigheid en goddeloosheid leef nie.  “Die Here toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.” (Ps. 11:5).  Dit is duidelik uit hierdie Skrifgedeelte dat God nie die goddelose as Sy vriende beskou nie.  Sy Wese van geregtigheid en heiligheid sal nooit met die sonde versoen nie.  Hy sal dus nie naby aan ‘n mens wees wat in ongeregtheid lewe nie, want Hy is ‘n heilige God wat die ongeregtigheid nie kan verdra nie.  “Die Here is ver van die goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy.” (Spr. 15:29).  Ons lees nie dat Abraham, Job, Noag, Dawid of enige van hierdie manne wat naby aan God geleef het dit gedoen het om hul vriendskapsverhouding met God te misbruik om hul lewe van ongeregtigheid ongehinderd te kan voortsit nie.  Hierdie manne het nie van Jesus hulle “pêl” probeer maak sodat Hy hulle dalk voor die Regterstoel van God sou kan bevry nadat hulle ‘n lewe van absolute goddeloosheid en ongebondheid gely het nie.  Hierdie manne het daarna gestreef om God te gehoorsaam en in Sy verorderinge te wandel.  Hulle het geweet dat die oortreding van God se gebooie en ongehoorsaamheid aan Hom hulle verhouding met Hom skade berokken.  Ja, luister na Dawid se smekinge in Ps. 38 – “Ja, my ongeregtigheid bely ek, ek is bekommerd oor my sonde.  Verlaat my nie, o Here! My God, wees nie ver van my af nie!” (Ps. 38:18&22).  Dawid is bekommerd oor die feit dat sy sonde sy verhouding met die Here skade sal berokken.  Ja, hy is bekommerd dat die Here hierdeur ver van hom sou wees.  

Geliefdes, die HERE maak deur Sy Woord aan ons bekend wat Hom behaag en waarin Hy nie ‘n behae het nie.  Ons kan Hom deur Sy Woord in waarheid leer ken en liefkry.  Mag ons liefde vir Hom so sterk word dat Hy vir my en u in waarheid ons beste Vriend in hierdie lewe sal word.  Ons Vriend wat ons bo alles sal liefhê.  ‘n Vriend in Wie se nabyheid en teenwoordigheid ons elke oomblik wil leef.  Ja, mag ons vrienskapsverhouding met Hom vir ons só kosbaar wees dat ons in ons lewens niks sal toelaat of sal doen wat aan hierdie verhouding skade kan berokken nie.  Laat ons eerder ons rug op die verleiding van sonde in ons lewens dra as wat ons rug op Hom, ons Vriend, draai.  Ja, mag ons vriendskapverhouding met Hom in waarheid bestaan sodat ons elke dag bo alles sal begeer om naby aan Hom te leef.

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie