1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7037328

Besoekers aanlyn

Ons het 53 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

KEN ONS DIE HERE?

BybelHos. 6:1-11 “En laat ons ken – laat ons dit najaag om die HERE te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei.” (:3). Geliefde, ken ú die HERE? Luister mooi – ek vra nie of u van Hom weet nie – ek vra: “KEN u die HERE?” Daar is bepaald ‘n verskil om te weet van iets of iemand en om iets of iemand te ken. Ek weet byvoorbeeld dat my motor ‘n enjin het, maar ek het baie min kennis van die werking daarvan. Ek weet byvoorbeeld van baie bekende mense waarvan ek gereeld in die media lees, maar ek ken nie hierdie mense nie. Ek weet nie wat die dinge is waarvan hulle hou en waarvan hulle nie hou nie. Ek weet nie wat die dinge is waaroor hulle opgewonde en waaroor hulle teleurgesteld raak nie. Ek weet nie wat hulle sterk eienskappe en wat hulle swak eienskappe is nie. Ek weet maar net van hulle. En ek is bevrees dat hierdie die geval in menige van ons mense se lewens teenoor die HERE ook is.

Daar is baie mense wat van die Here weet, maar Hom nie werklik ken nie. Ons lees in 1 Sam. 3 van iets baie interessant in hierdie verband. Samuel, hierdie seun wat van sy geboorte af aan die Here gewys was, het ook op ‘n stadium in sy lewe die HERE nie geken nie. Hierdie seun wat in die huis van die HERE saam met die priester Eli gewoon en die HERE daar gedien het! Dit klink mos onmoontlik. Hoe kan hy in die tempel woon en selfs met die diens van die Here besig wees sonder om Hom te ken? Geliefdes, luister gerus na die woorde uit 1 Sam. 3:7:”Maar Samuel het die HERE nog nie geken nie; ook was die woord van die HERE nog nie aan hom geopenbaar nie.” Dit is eintlik nie so ‘n totale vreemde verskynsel nie, geliefdes. Daar is vandag nog duisende mense wat gereelde kerkgangers is sonder om die HERE te ken!

Daar is ongelukkig selfs duisende predikers wat nog nie die HERE ken nie, geliefdes. Ons is egter nie vandag hier om die vinger te wys na ander mense wat die HERE nie ken nie. Ons is hier om ons eie lewens, ons eie harte teenoor die Woord van die HERE te toets. Ons is hier om ons eie hart te ondersoek en in waarheid te vra of óns, ek en u tot wie hierdie woord vandag kom, die HERE waarlik ken. Ons behoort hier te wees om volgens die woorde uit Hoséa 6:4 dit na te jaag om die HERE te ken. Ja, ons behoort soos Moses die HERE te smeek om aan ons Sy weë bekend te maak sodat ons Hom kan ken. “As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind. ...” (Ex. 33:13).

Geliefdes, ons Afrikanervolk staan algemeen as ‘n Christelike volk bekend. Maar ek stel dit vandag in alle eerlikheid dat daar by my sterk twyfel bestaan oor die opregte kennis van God by die grootste deel van ons volk. Daar is natuurlik baie mense onder ons volk wat die HERE waarlik ken, liefhet en in opregtheid probeer dien. Maar daar is myns insiens baie meer wat dalk baie godsdienstig is, maar sonder ‘n kennis en dalk ook sonder ‘n liefde vir die HERE. “Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis. Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.” (Rom. 10:2&3).

Ek stel voormelde omdat die afwyking van die weë van die HERE in ons volksgenote se lewens duidelik te bespeur is. Indien ons die HERE waarlik ken, sal daar nie by ons eers enige twyfel of verskille bestaan oor die feit of homoseksualisme dan nou aanvaarbaar is of nie. Die Woord van die HERE is tog duidelik daaroor. “Met ‘n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ‘n mens met ‘n vrou het nie. Dit is ‘n gruwel.” (Lev. 18:22). Daar sou nie by ons twyfel bestaan het oor die belangrikheid van die reinheid van ‘n huwelik voor God nie. Die HERE se Woord is tog duidelik hieroor. “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.” (Heb. 13:4).

Ons sou nie verskonings vir mislukte huwelike probeer uitdink het nie, maar met meer ywer vir die behoud daarvan gewerk het omdat ons kennis van die HERE ons sou oortuig van die veragtelikheid van egskeiding in Sy oë! “Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel,...”. (Mal. 2:16). Die heiliging van die Sabbat sou vir ons ‘n prioriteit gewees het, omdat dit iets is wat vir die HERE kosbaar is! “maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie - ...”. Ons sou met blydskap ons tiendes aan die HERE afgestaan het omdat ons kennis van Hom ons sou leer watter groot behae die HERE daarin het! “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie.” (Mal. 3:10).

Geliefdes, ‘n ware kennis van die HERE sou ons ook bewus gemaak het van die leuens dat al hierdie dinge in God se Woord net “ou Testamentiese wette is” wat na Christus se dood nie meer nagekom hoef te word nie. “MOENIE dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.” (Matt. 5:17). Ons opregte kennis van die HERE sal ons laat verstaan dat Christus nie God se wette kom ondermyn en kom vernietig het nie. Hy het nie IN EEN PREDIKING OOIT AAN MENSE GESTEL DAT HULLE GOD NIE MEER NA SY KOMS NA DIE AARDE HOEF TE GEHOORSAAM NIE!

Hy was in alles self ook aan God gehoorsaam en Hy het die wet van God kom vervul. Hy het Sy lewe gegee as versoening van ons oortredinge met God. Ja, geliefdes, deur Christus Jesus leer ons God waarlik ken – ja, ons leer Hom as ons Vader ken. “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!”. (Rom. 8:14&15). Geliefdes, indien u vanoggend dink dat die nakoming van God se gebooie en gehoorsaamheid aan Hom nie belangrik is nie ken u die HERE nie in waarheid nie. “EN hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie.” (1 Joh. 2:3&4).

Indien u vanoggend dink dat u by vermoë is om uit uself, sonder Christus, met God versoen kan word, ken u God ook nie. “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het,...” (Joh. 14:6&7). Ten slotte geliefdes, indien u dink dat u sonder om God te ken eendag die hemel sal beërwe, wag daar ‘n ontsettende, onomkeerbare ontnugtering op u. “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt. 7:22&23).

Mag elkeen van ons vanoggend die uitnodiging aanneem en seker maak dat ons najaag om waarlik die HERE te ken!

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie