Ps. 40:1-18 “Welgeluksalig is die man wat sy vertroue in die HERE stel en hom nie wend tot hoogmoediges en leuendienaars nie.” (:5). Geliefdes, is nie almal van ons hieraan skuldig nie? Ons stel so maklik ons vertroue op ander mense of selfs op ander dinge en vergeet om in alles in ons lewe op die Here te vertou. En hierdie fout wat ons maak is tot nadeel in ons verhouding met die Here. Vertroue is tog onontbeerlik in enige gesonde, hegte verhouding. Ja, geliefdes, vertoue is seker een van die grootste komplimente wat een party aan ‘n ander in ‘n verhouding kan gee. Geliefdes, besef u dat ons die Here beledig deur nie ons vertroue op Hom te stel nie?
Waarom sou ons Hom nie vertrou nie? Is dit dalk omdat ons dink dat Sy vermoë of krag nie toereikend is om ons te help nie? Ja, dink maar aan die vraag wat God aan Abraham gestel het omdat Sara nie volkome op die Here vertou het om Sy belofte waar te maak nie. “Toe sê die Here vir Abraham: Waarom het Sara daar gelag en gedink: Sou ek ook werklik baar nou dat ek oud geword het? Sou iets vir die Here te wonderbaar wees? Hierdie tyd, oor 'n jaar, sal Ek na jou terugkom, en Sara sal 'n seun hê.” (Gén. 18:13&14).
Die Here herinner ons deur die woorde van Jeremia 32:17 dat geen ding vir Hom te wonderbaar is om te doen nie. “Ag, Here Here, kyk, U het die hemel en die aarde gemaak deur u grote krag en deur u uitgestrekte arm; geen ding is vir U te wonderbaar nie.” (Jer. 32:17). Ja, onse Here Jesus Christus het ons ook in geen duidelike taal hierin onderrig. “Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.” (Matt. 19:26). Wanneer ons met opregtheid bely dat geen ding vir God onmoontlik is nie, maar steeds nie op Hom vertou nie – hoe sou ons dit verklaar, geliefdes? Glo ons dan nie aan die waarheid van Sy beloftes nie?
Die Here antwoord ons duidelik hierop in Núm. 23:19:”God is geen man dat Hy sou lieg nie; of 'n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” Ja, ook in Titus 1:2 vind ons hierdie versekering van die egtheid van God se Woord en beloftes. “in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het,”. Geliefdes, sou ons met opregtheid sê dat daar by ons geen twyfel in God se vermoëns is nie en verder dat ons werklik in die waarheid van Sy beloftes en Woord glo – waarom sou ons Hom nie vertrou nie? Is dit dalk omdat ons Sy wysheid, insig en kennis in twyfel trek? Hoe sal ek dan by so ‘n gevolgtrekking uitkom?
Ja, is ons nie soms in ons harte besorg dat God ons nie sal verhoor in ons bedes nie omdat dit nie met Sy wil ooreenstem nie? Ek dink dat ons onsself meer gereeld hieraan skuldig maak as wat ons besef. Ons is nie met ‘n opregte ootmoed tevrede dat God se wil in alles in ons lewens geskied nie. Ja, ten spyte daarvan dat ons bid – “laat U wil geskied” – probeer ons tog gereeld om op ander wyses rondom God ons eie planne in ons lewens te verwesenlik. Ja, ons probeer ons eie begeertes vervul eerder as om op God te vertrou om in ooreenstemming met Sy wil ons begeertes te vervul en dit wat nie binne Sy wil is nie van ons te weerhou. Ja, word ons nie duidelik in Spreuke 3:5&6 hierin onderrig nie? “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” En beloof die Here nie aan ons dat Hy ons begeertes kan en sal bevredig ooreenkomstig Sy wyse insig en onbeperkte almag nie? “
...Vertrou op die Here, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, en verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.” (Ps. 37:3&4). En hierin ook weereens God se opdrag – “VERTROU OP DIE HERE!”. Kom ons spits onsself daarop toe om aan die Here eer te bewys deur ons vertoue op Hom te stel. Nie ‘n vertroue om ons sin in alles te gee nie, geliefdes. Nee, ‘n opregte vertroue dat Hy ‘n God van waarheid is wat Sy beloftes gestand doen. Ja, ‘n opregte vertroue in Sy Almag om dit wat Hy beloof te kan doen. En ‘n opregte vertrou in God se Alwetendheid en die volmaaktheid van Sy Wil. Ja, dat Sy wil - wat nie altyd met ons wil ooreenstem nie – altyd die volmaakte Wil is.
Amen.