DA sê oor taal en hoekom hy nie bid
Hierdie artikel verskyn op bladsy 6 van die Beeld koerant van Woensdag 28 September 2011 waaroor die AVP al op ons webblad reageer het. Dit is egter interessant om dit te vergelyk met die geloof van Christene waaruit die Afrikanervolk sy grondslag as gelowige volk gekry, gehandhaaf en gehou het. Die onverskilligheid wat tans heers in ons volksgeledere, saamgelees met ons gebrek aan weerstand teen die ondergrawing van elke Christelike waarde in die voortslepende stryd tussen lig en duisternis, is in skrille kontras met die verhaal van Marie Durand uit die 1700’s!
’n Verhaal van moed en oortuiging. Een van die aangrypendste verhale van Hugenote-lyding, al het dit in Frankryk plaas gevind lank na die eerste Hugenote al hier aan wal gestap het, is die van Marie Durand.
Vanaf 1730 is sy vir 38 jaar in die Tour de Constance (“toring van standvastigheid”)by Aigues Mortes gevange gehou – en dit net omdat haar broer ’n Gereformeerde predikant was. Hy is uiteindelik opgehang en haar man is 20 jaar lank in die tronk opgesluit. Die groepie gevangenis in die Tour de Constance het egter met volharding die woord recister (weerstaan) op een van die klippe van die vloer van diè tronk uitgekrap en elke jaar het die inskrywing na haar naam in die gevangenisboek gelees: Sa croyance toujours la même (Haar geloof bly onveranderd).
Die AVP se waarneming van die situasie in die DA, is dat om aan God gehoorsaam te wees is egter nie belangrik nie en SY gebooie en verordeninge verdien slegs gelyke respek met die afgode! Is dit die deursnee Afrikaner wat vir die DA in verkiesings stem se siening? Indien nie, waarom hulle hoegenaamd ondersteun om daardeur aandadig te word aan hulle Godloosheid?
Beeld 2011-09-27 23:16
Cobus Claassen
Die DA sê hoewel die meeste van sy ondersteuners in Tshwane waarskynlik Christene is, sal dit onvanpas wees om Christelike beginsels in dié party se koukus na te streef.
Die DA het gister ontken dat verskille oor geloof en taalkwessies verdeeldheid in partygeledere veroorsaak.
Beeld het vandeesweek ’n anonieme e-pos-boodskap ontvang waarin beweer word daar is ’n aanslag in die DA se Tshwane-koukus teen Christene en Afrikaanssprekende lede. Daar word beweer die DA word deur “onderlinge twis en tweespalt” gekenmerk sedert mnr. Brandon Topham, DA-leier in Tshwane, ná die munisipale verkiesing in die koukus oorgeneem het.
Hy word daarvan beskuldig dat hy op ’n DA-vergadering teen Afrikaners en hul kultuur uitgevaar het.
Daar is glo voorts ontevredenheid omdat DA-vergaderings nie meer met gebed geopen word nie.
Mnr. Janho Engelbrecht, die DA se hoofsweep, het die bewerings dat ’n rebellie in die koukus aan die broei is, as nonsens afgemaak.
Hy het bevestig DA-vergaderings word nie meer soos voorheen met gebed geopen nie.
“Ons het so ’n wyd uiteenlopende samestelling in die koukus dat dit (gebed) nie meer moontlik is nie. Daar is Hindoes en Moslems en ons moet ook hul gelowe in ag neem.
“Daar is ruimte in die koukus om Christenskap te beoefen en elke lid het die reg om sy of haar geloof uit te leef, maar ons is nie ’n Christen-party nie.”
Daar is volgens Engelbrecht g’n aanslag op Afrikaanssprekende lede nie. “Ek is ’n Engelbrecht en Afrikaanssprekend. Hoekom sal ek ’n aanslag teen my eie taal voer?”
Topham het benadruk daar is geen aanslag op Christene of Afrikaans nie.
Hy het ontken dat hy ooit teen Afrikaners uitgevaar het.
Volgens Topham word ’n minuut stilte nou voor vergaderings vir lede gehou.
“Ons moet almal se geloofsoortuigings en regte respekteer.” (my beklemtoning)