WAT IS ’n VERBOND?
’n Verbond volgens die HAT is ’n verdrag, ’n ooreenkoms, ’n testament.
Testament: Die Heilige Skrif, Ou en Nuwe Testament, Uiterste Wil, in geldige vorm opgemaakte beskikking van wat iemand wil hê met sy besittings na sy dood sal geskied. Dit impliseer ’n voorskrif, ’n bevel... ’n Eenvoudige definisie van ’n verbond is dat dit ’n ooreenkoms of belofte tussen twee partye is. Wat baie maal uit die oog verloor word, is dat veral in Bybelse terme, so ’n ooreenkoms sekere bepalings of beloftes bevat en ook sekere vereistes wat ingevolge daarvan nagekom moet word, in gebreke waarvan daar sekere gevolge is.
DIE HEILIGE SKRIF
Beide die ou en nuwe testament van die Bybel handel met verbonde wat God met Sy Verbondsvolk, Israel gesluit het en waarvan die eerste geskrewe dokument die tien gebooie was. Die betekenis van ’n gebod is: Bevel, voorskrif.
God was die Verbondgewer en Israel die verbondnemer. Van die Verbondgewer is daar sekere bevele, voorskrifte en beloftes, terwyl die verbondnemer verplig is om gehoorsaam te wees aan die bepalings van die verbond ten einde enersyds deelgenoot aan die voordele en beloftes te word en andersyds die oordele te vermy in die geval van ongehoorsaamheid aan die bepalings van die verbond.
WAS ISRAEL VERPLIG OM DIE VERBOND TE AANVAAR?
Die Bybel antwoord self die vraag.
EKSODUS 19:
3 Maar Moses het opgeklim na God toe, en die HERE het hom van die berg af toegeroep en gesê: So moet jy aan die huis van Jakob sê en aan die kinders van Israel verkondig:
4 Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het.
5 As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne.
6 En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel.
God stel dit dat die hele aarde Syne is. Israel word egter nie verplig nie maar voor ‘n keuse gestel.
7 En Moses het gekom en die oudstes van die volk laat roep en hulle al hierdie woorde voorgehou wat die HERE hom beveel het
8 Toe antwoord die hele volk eenparig en sê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen. En Moses het die woorde van die volk aan die HERE oorgebring
EKSODUS 24:7
En hy (Moses) het die boek van die verbond geneem en dit voor die ore van die volk gelees. En hulle het gesê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen en daarna luister.
Hieruit kan ons aflei dat die verbondnemer, nl. Israel, die voorwaardes van die Verbondgewer aanneemlik gevind het en ingestem het tot onderhouding daarvan. Dit impliseer egter ook dat hulle hulle blootgestel het aan die seëninge deur gehoorsaamheid en die straf by ongehoorsaamheid.
SKEPPING DEUR GOD OF EVOLUSIE DEUR ’n GROOT KNAL?
Vir die doeleinde van hierdie beredenering is ’n antwoord op bogenoemde vraag van wesentlike belang. Indien God nie meer vir die Afrikaner ’n werklikheid is nie, het ons te maak met ongeloof en bestaan dit wat in die Woord van God beskryf is nie in die verwysingsraamwerk van die ongelowige nie en plaas diesulkes hulleself buite enige verbond met God. Dit vrywaar hulle egter nie van die ellende waarvan die Bybel praat wanneer die mens in ongehoorsaamheid buite die verbond volgens sy eie wil en sin, in bandeloosheid God se wette oortree nie. Eksodus 19:5…………want die hele aarde is myne.
Vir die gelowige egter, is gehoorsaamheid ’n onontkombare vereiste daar hy deur sy geloof, homself binne die verbond met God plaas. Die antwoord op die opskrif van hierdie artikel is dus onomwonde ja! Die Afrikanervolk hét ’n verbond met God. Die sleutelwoorde hier is geloof en gehoorsaamheid!
DIE POLITIEKE BETEKENIS VAN DIE VERBOND MET GOD
Behalwe die geestelike betekenis van verlossing uit sonde tot die ewige lewe, bestaan daar ook ’n duidelike en onvermydelike politieke implikasie. Voordat die geskrewe verbond in die vorm van die tien gebooie op twee kliptafels, wat op die berg Sinai deur God met sy vinger geskryf is, Het God alreeds in wye verband in belang van Israel opgetree.
EKSODUS 19:
3 Maar Moses het opgeklim na God toe, en die HERE het hom van die berg af toegeroep en gesê: So moet jy aan die huis van Jakob sê en aan die kinders van Israel verkondig:
4 Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het.
5 As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne.
6 En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel.
God verlos hulle van die slawerny in Egipte, Hy kloof die Rooi see en red hulle van die Egiptiese leer, Hy voorsien water aan hulle in die woestyn en Manna uit die hemel. Dan belowe God aan hulle ’n toekomstige koninkryk en dat hulle sy eiendom sal wees uit al die volke. God se verbond sluit die verlede, die hede en die toekoms in wat elke lewensterrein van Sy volk bestryk.
WAAR PLAAS DIT DIE AFRIKANERVOLK?
Sedert die volksplanting in 1652 was die voorlopers van wat later die Afrikanervolk geword het, gelowige en Godvresende mense wat hulle onderwerp het aan God se gebooie en hulle afhanklikheid van God bely en geleef het. Die Afrikanervolk se geskiedenis wemel van bewys van ons Godgebondenheid, geloof en vertroue, soos bv. Bloedrivier en die heroïese stryd om vryheid teen die Britse Ryk se oorwig van getalle en toerusting.
Ek haal aan uit ’n telegram van President Paul Kruger van 20 Junie 1900 aan Krygsoffisiere: “Moet tog nie wankel en in ongeloof verval nie. Dit is die tyd waarin God se volk gelouter word…… Broeders, broeders, ek smeek u, dwaal nie af van die geloof nie, maar bly in die geloof en stry in die naam van die Here. Vra u eie hart af; as u so lafhartig word en vlug, dan is dit omdat u nie meer glo dat daar ’n God in die hemel is nie en dan word u ’n volstrekte Godloënaar, maar ek sê u op grond van God’s woord, daar kan niks gebeur sonder Sy wil nie. Die oorwinning en die swaard is in Sy hand en Hy gee dit aan die wat in Sy naam stry. Is dit nie nog dieselfde God wat Israel deur middel van wonderwerke en op ’n wonderbaarlike wyse onder Farao uitgelei het nie? Is dit nie nog dieselfde God wat hulle deur die Rooi see gelei het deur middel van ’n wolkkolom wat donker was vir die vyande maar lig vir Sy kinders? Hierdie wolkkolom dui op die Woord van die HERE as ’n lamp vir ons voet en ’n lig vir op ons pad. ………. Dit is nog dieselfde God wat ons uitgelei en op wonderbaarlike wyse en deur wonderwerke ons ons vryheid gegee het. Dink u dat Hy Sy saak wat Hy eenmaal begin het, sal laat vaar? Nee, Hy sal dit nie laat vaar nie”. (Sluit die aanhaling)
Dit, geagte Afrikaner, plaas die Afrikanervolk onder die gesag van God! Dit maak ons soos Israel deelnemers aan die Verbond met God omdat ons voorgeslag as Verbondnemers ons onder die gesag van God geplaas het! As ons dan nou getugtig word, laat ons onsself as volk ondersoek waar ons die Verbondsbepalings verbreek het.
Om aan die wêreld dienstig te wil wees, is om ’n vyand van God te word. God het ons hier geplant as ’n Afrikanervolk en beslis nie as ’n Godlose reënboognasie waartoe die kerke ons gepreek het nie! Ons voorgeslagte het in die naam van die HERE oor eeue gestry om as volk vry te bly en is daarin geseën op bo-menslike en wonderbaarlike wyse. Om dit nou prys te gee is Godloënend, lafhartig en ’n uiterste demonstrasie van gebrekkige geloof en gehoorsaamheid wat net die uiterste ellende op ons sal laat neerdaal soos wat ons reeds beleef!
Laat ons terugkeer in gehoorsaamheid aan God se verbond, dieselfde God wat ons gedra het sedert ons volksplanting, sonder dat ons nodig gehad het om by die Asmals werk vir ons kinders te bedel!