1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9196744

Besoekers aanlyn

Ons het 177 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Media

DIE VVO – TANDELOSE KLETSKAMER EN SKOOTHOND VAN AMERIKA!

Die VSA het met sy optredes in onder meer Irak, Libië en Afghanistan sy absolute minagting vir die gesag van die Verenigde Nasies (VVO) duidelik getoon. In die internasionale arena was dit immers nog altyd so dat die VVO sy goedkeuring moes verleen voordat opgetree is, en veral vir ‘n gewapende inval in ‘n soewereine staat. Nou word state ingeval sonder dat besluite vooraf geneem is en vir enige rede onder die son, behalwe internasionaal-geldige redes.

Dit laat opnuut die vraag ontstaan oor die relevansie van die VVO. Die VSA ignoreer die VVO soos ‘n stopstraat en sal die VVO dalk iets ten besware prewel, maar selde ‘n besluit neem om die VSA te veroordeel. Dit skep die indruk dat die VVO magteloos is om op te tree teen groot moondhede. Dit is ‘n persepsie wat nie ver van die waarheid verwyderd is nie.

 

Dit is nie die eerste keer dat die VSA die VVO se gesag verwerp het nie. In die verlede het die VSA ook, indien hy gesien het dat ‘n besluit nie deur die VVO aanvaar sal word nie, eenvoudig voortgegaan met optrede. Dieselfde het met die VSA se inval in Irak gebeur. Daar is nie toestemming van die Veiligheidsraad gevra om op te tree nie, aangesien die VSA gesien het dat minstens Frankryk, Duitsland en Rusland hierdie optrede sou veto. Op sy beurt het die VVO waarskynlik besluit om nie ‘n resolusie te probeer aanvaar om die VSA se optrede te veroordeel nie, aangesien die VSA dan op sy beurt hierdie besluit sou veto! Dit het trouens reeds ‘n vaste patroon geword. Die VVO is derhalwe magteloos om teen die VSA op te tree en is, wat die VSA betref, niks anders as ‘n kefferbrak nie.

 

Die VVO het op 26 Junie 1945 te San Francisco in die VSA tot stand gekom as gevolg van ‘n multilaterale verdrag deur verskeie state. Suid-Afrika het hierdie verdrag op 7 November 1945 bekragtig. Hierdie verdrag is die Handves van die VVO wat beskou kan word as die staatsreg van die internasionale gemeenskap. Alhoewel dikwels na die organisasie as die Verenigde Volke verwys word, is bewys oor jare gelewer dat dit nie werklik in hierdie organisasie oor volke gaan nie, maar veel eerder oor multi-nasionale state en organisasies.

 

Ook was daar maar min sprake van ‘n “verenigde” organisasie, maar eerder van ‘n magspel. Die VVO is ‘n politieke organisasie waar internasionale politiek ‘n groot rol speel in sy besluite. Van meet af het die internasionale magsbalans ‘n groot rol gespeel in die werking van die VVO. Aanvanklik was dit die USSR en die VSA wat in hierdie magspel betrokke was, maar na die ineenstorting van die USSR, het slegs die een supermoondheid, die VSA, oorgebly. In hierdie opsig was die verdwyning van die USSR nadelig, aangesien dit die VSA feitlik vrypas gekry het om te doen wat hy wou.

 

Die doelstellings van die VVO is om:

- internasionale vrede en veiligheid in stand te hou en maatreëls te tref vir die voorkoming en verwydering van bedreigings van die vrede en vir die onderdrukking van dade van aggressie en ander vorme van vredesbreuk;

- internasionale geskille op te los en vriendskaplike verhoudinge tussen state te ontwikkel;

- die beginsel van die soewereine gelykheid van al sy lede in stand te hou en alle state as juridies gelyk te ag en moet elke staat dieselfde regte uit hoofde van hulle soewereiniteit geniet. Elke staat se politieke onafhanklikheid en politieke territoriale integriteit is dus ewe onskendbaar;

- state te weerhou om ander state in te val deur ‘n gewapende inval, die bombardering daarvan, die blokkering van ‘n staat se hawens of kus, die gebruik van geweld en om ‘n staat te gebruik as afspringplek vir dade van aggressie teen ‘n ander staat.

- geen inmenging toe te laat in die interne aangeleenthede van ‘n staat nie. Elke staat het die onvervreembare reg om sy eie politiek, ekonomiese, sosiale en kulturele stelsel te kies sonder inmenging van enige ander staat.

Alhoewel situasies bestaan wat uitsonderlike optredes verg, moet die breë doelstellings altyd in ag geneem word.

 

Talle van hierdie doelstellings is deur die VSA geskend met sy inval in Irak en nou ook deur middel van NATO met die aanval op Libië. En daar is en was geen regverdiging daarvoor nie. Onder die dekmantel van die “vrymaking” van Irak se bevolking, of die beskerming van die bevolking van Libië, word ‘n land aangeval wat “wapens van massavernietiging” het, of sy inwoners uitbuit. Daardie wapens is nooit in Irak opgespoor nie en is daar ook geen bewys dat Irak ‘n bedreiging vir wêreldvrede ingehou het nie. Met Libië gebeur dieselfde om nie eers van Afghanistan te praat nie.

 

Daar is talle state waarvan die inwoners geen vryhede geniet nie, maar is daar geen optrede teen daardie state nie en hou ‘n staat soos Noord-Korea waarskynlik ‘n groter “bedreiging vir wêreldvrede” in as wat die geval is met Irak. Meeste internasionale regsgeleerdes is dit eens dat die VSA se optredes onwettig en moreel ongeregverdig is. Die VSA beskou homself as verhewe bo die reg waar die Veiligheidsraad van die VVO geen magtiging vir die VSA se optredes gegee het nie, alternatiewelik gelieg is oor die redes waarom dit wel gedoen was. Die VSA het geen reg om te vereis dat Irak of Libië se regerings moet verander nie. Die VVO se gebrek aan optrede teen die VSA maak die VVO dus irrelevant.

 

Suid-Afrika het in die verlede (voor 1994) met die VVO in sy meer “aktiewe” hoedanigheid te doene gehad. Toe kon die VVO baie besluite aanvaar om Suid-Afrika te veroordeel. Hierdie eensydige optrede teenoor Suid-Afrika was niks anders nie as die wettiging van geweld teen die Suid-Afrikaanse regering, soos prof Hercules Booysen van UNISA dan ook in sy boek oor die Volkereg tot die slotsom kom. Dit het ‘n vaste patroon aangeneem. Die binnelandse beleid is as misdadig veroordeel en apartheid tot ‘n misdryf teen die mensdom verhef. Net die “meerderheid” het die reg op selfbeskikking gehad en het die reg gekry om onder leierskap van die sogenaamde vryheidsbewegings vir hulle selfbeskikking te veg. Die land mag nie verdeel word nie. Die stryd in Suid-Afrika is tot ‘n internasionale konflik probeer verhef. Aan ANC gevangenes moes krygsgevangenestatus verleen word. Aan die ANC is selfs waarnemingstatus by die VVO gegee. Die kersie op die koek was dat die regering van Suid-Afrika as misdadig beskou is. Die VVO was Suid-Afrika vyandig gesind en het elke denkbare metode aangewend om Suid-Afrika tot ander insigte te bring. Talle van hierdie besluite is deur die Afrikaners se sogenaamde vriende, lande soos Brittanje, die VSA, Frankryk, Duitsland en andere gesteun. Dit het ook veroorsaak dat die Blankes in hierdie land die VVO nog nooit as ‘n legitieme organisasie gesien het nie.

 

‘n Mens kan trouens tot geen ander gevolgtrekking kom as dat die VVO hom vir ‘n tydperk feitlik hoofsaaklik toegespits het op Suid-Afrika en gepoog het om die bewind van Suid-Afrika omver te werp nie. Die VVO kon nie daarin slaag nie. Dit was die kapitulasie deur Afrikanerleiers soos FW de Klerk en Pik Botha wat Suid-Afrika se ondergang bewerkstellig het.

 

Nou speel die VSA woer-woer met die VVO. ‘n Mens wil amper sê dit is die VVO se verdiende loon. Tog bly dit gevaarlik dat een land kan optree na goeddunke en self as regter kan optree in sake waar hy ‘n belang het (en heel dikwels geen belang het nie!). Die inkonsekwentheid van die optrede van die VVO in die verlede het sy aansien ernstig geknou. Alhoewel die VSA se optredes nie goedgepraat kan word nie, het die VVO se eie inkonsekwentheid tot gevolg gehad dat die organisasie nie ernstig opgeneem word nie.

 

Die VVO se doel, indien daar een was, is lankal uitgedien. Hy het geen legitimiteit en statuur nie en die huidige krisis in die internasionale reg kan trouens geheel en al voor die deur van die VVO gelê word en moontlik ook die einde van die VVO beteken.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie