2 Petrus 1:3-21
“Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.”(:10)
Die gedeelte in vers 10 herinner ons daaraan dat ons gedurig besig moet wees met ons verhouding met God en ons geloofslewe op ‘n deurlopende grondslag moet versterk. Hierdie lewenswyse sal tot die behoud en versterking van ons geloof dien wat ons van struikeling sal bewaar.
Die opskrif van die gelese gedeelte, nl. “Vermaning om die Christelike deugde in beoefening te bring”, is opsommend van ‘n groot boodskap wat deur die hele Nuwe Testament verkondig word. Die boodskap dat ons geloof nie maar bloot in woorde bely kan word nie, maar dat ons gedryf moet word deur ‘n opregte liefde en dankbaarheid teenoor Jesus Christus om ons geloof uit te leef.
Ons moet dit wat ons met ons mond bely uiteraard dan ook met ons dade vertoon en uitleef! Dit is seker maklik om te beweer dat jy glo in Jesus Christus, maar om soos Hy te probeer leef, is ‘n ware uitdaging – ‘n lewenslange uitdaging en strewe vir elke ware gelowige in Hom. Die feit dat Hy volmaak is en ons tydens ons aardse bestaan nimmer soos Hy sal kan wees nie, moed ons egter nie moed laat verloor nie; omdat ons Sy voorbeeld grootliks kan nastreef! Ons lees in vers 3 van die gedeelte dat Sy goddelike krag ons alles geskenk het wat tot die lewe en godsvrug dien. Hierdie krag van ons lê in ware kennis van die Woord (Jesus Christus) wat dit vir ons duidelik stel dat ‘n gesonde geloofslewe nie moontlik sal wees sonder gereelde, opregte studie van die Woord nie. In laasgenoemde sal ons Sy stem hoor, Sy grootste beloftes vind en daardeur sal ons deelgenote kan word van die goddelike natuur, m.a.w. deur ware kennis van die Woord sal ons gedryf word om Sy voorbeeld vir ons lewens na te streef en te probeer uitleef.
Ons lees in verse 5 – 8 van die vordering wat ons moet maak in ons geloofslewe en dit begin daarin dat ons nie met ‘n trae hart en gesindheid ons geloof moet beoefen nie. Ons moet ywerig wees in ons geloof en werke. Ons moet by die geloof wat ons met ons mond bely, die deug (werke) voeg wat daarby pas en ons mondelinge geloofsbelydenis derhalwe bevestig. Dit sal my nie veel baat wanneer ek die beste werke doen, maar vergeet waarom ek dit doen nie en daarom is dit onontbeerlik om deurgaans ons kennis van die Woord te verbreed om deur Hom geleer, gelouter en geskaaf te word. Dit is belangrik om te leer om selfbeheersing in jou lewe toe te pas, want ‘n man wat sy eie gees nie kan beheer nie, sal moeilik die versoekings en aanslae van die bose kan weerstaan. In tye wat ons deur ons Leidsman geskaaf en gelouter word, sal die lydsaamheid om ons beproewing te deurstaan onontbeerlik wees. Ons weet dat ‘n mens eers ‘n boom deeglik moet snoei om die beste drag daaruit te kry en derhalwe moet ons met lydsaamheid ook die snoeitydperke in ons lewens deurstaan, want dit is ‘n voorvereiste vir die godsvrug wat gelewer moet word in ons lewens.
Wanneer ons die mees ywerige geloofslewe leef en die mooiste dade verrig en ware godsvrug dra, moet dit natuurlik gekroon word met die goue gebod van God – die broeder- en naasteliefde! Die grootste ywer, die mees prysenswaardige dade en mooiste belydenis, sal ons niks baat wanneer die liefde ons ontbreek nie. Ons weet dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself, maar dit kan soms uitdagend wees, veral wanneer daar nie aan my persoonlike verwagtinge voldoen word nie. Ons moet egter nastreef om ons naaste met die volmaakte liefde lief te hê wat gedryf word deur ons liefde vir ons Meester, Jesus Christus. Wanneer ons ons naaste liefhet uit ‘n liefde vir Hom, is Sy liefde besig om waarlik volmaak te word in ons lewens, want dan het ek lief met ‘n opregte liefde en nie met ‘n verwagting om te ontvang nie.
Dit is van kardinale belang dat ons besef dat daar nêrens melding gemaak word dat ons die bose en die verkeerde ook in ons geloofslewe moet liefhê en akkommodeer nie en dus moet ons nie deur humanistiese dwalinge van stryk gebring word nie. Ons moet verseker dat die deugde van ons Christelike geloof by ons aanwesig is en deur geloof en harde werk in ons toeneem sodat ons nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus gelaat word nie. Wanneer ons ywerig ons geloof in Hom uitleef, sal daar min plek vir die bose in my lewe wees en daar sal selfs min ruimte wees vir ‘n valse skuldgevoel wat na my kant geslinger word deur dwaalleraars wat beweer dat alles en almal op die aardbodem liefgekry en aangehang moet word (selfs die satan en sy vernietigingswerk).
Die woorde in vers 9 stel dit vir ons onomwonde dat enige persoon wat die kennis van die Woord het, maar nie ‘n lewe leef wat daarby inskakel nie, dringende ondersoek in sy/haar lewe moet instel na die opregtheid van hul geloof en die ware dankbaarheid teenoor Jesus Christus vir die reinigingsoffer van sy/haar sondes. “want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.”