Joh. 4:1-30:“Maar daar kom ' uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” (:23&24).
Geliefdes, die Woord leer en herinner vir ons in hierdie gedeelte dat daar ’n verskil bestaan om in ’n lewende en opregte verhouding met God te staan en om eenvoudig godsdienstig te wees. Die wêreld het nie ’n gebrek aan godsdienstigheid nie, maar dieselfde kan nie gesê word van mense wat in ’n opregte verhouding met God staan
nie. Ek dink ons lees die eerste maal van hierdie onderskeid wat God in hierdie saak tref in die lewens van Kain en Abel. “Deur die geloof het Abel 'n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het;...” (Heb. 11:4). U kan dalk argumenteer dat die onderskeid tussen Kain en Abel geloof was eerder as ’n opregte verhouding met Hom. Maar dit is onmoontlik om sonder geloof in ’n gesonde verhouding met Hom te staan. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag;...”(Heb. 11:6).
Dit is egter steeds moontlik om sonder geloof godsdienstig te wees, nie waar nie? Ons kan onsself vandag dalk ook hierdie vraag afvra – “Wat was die verskil tussen mense soos Abraham, Noag, Henog, Dawid, Daniël en die Jode wat eindelik verantwoordelik was vir die marteldood van die vlekkelose, geliefde Seun van God?” Ek dink die antwoord is eintlik voor-die-hand-liggend, maar kom ons kyk na ’n paar gedeeltes uit die Woord van God wat die verskil vir ons duidelik onderstreep.
Ons lees in Gén. 5:24 van die lewende verhouding tussen God en Henog. “En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem.” Eweneens lees ons in Gén. 6:9 van die gesonde en lewende verhouding tussen God en Noag. “Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was 'n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel.” Dit is ook duidelik dat die verhouding tussen God en Abraham nie een van godsdienstigheid en gewoonte was nie, maar ’n lewende verhouding van liefde, geloof, vertroue en respek. “Toe Abram negen-en-negentig jaar oud was, het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê:Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.” (Gén. 17:1). En hierdie kosbare verhouding tussen God en hierdie drie manne na wie ons reeds verwys het, het bestaan voor die instelling van die besnydenis en voordat God deur Sy kneg Moses Sy wet aan Sy volk gegee het. Koning Dawid het weer geleef in ’n tyd na die instelling van die besnydenis en die wet wat deur Moses gegee is.
Hy het egter nie met die beoefening van godsdienstigheid in ’n valse gerustheid sy verhouding met God laat sterf nie, maar het in ’n lewende verhouding met Hom gestaan. Ps. 145:18 is ’n duidelike getuienis hiervan. “Kof. Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid.” En ook is Sy vertroue in die leiding en nabyheid van God in sy lewe uit die woorde van die bekende Ps. 23:1:2 ewe duidelik. 'n PSALM van Dawid. Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.”
Teenoor voormelde voorbeelde staan die skrifgeleerdes en Fariseërs met hul godsdienstigheid. Hierdie mense was volgens die reëls en wette van die godsdiens dalk onberispelik, maar daar was geen lewende verhouding tussen hulle en God nie. Hulle was in hul godsdienstigheid so ver van Hom verwyder en verblind dat hulle Hom nie herken het nie selfs toe Hy voor hul oë aan hulle verskyn het. Hulle godsdienstigheid was hul afgod. “En al oordeel Ek, my oordeel is waar, omdat Ek nie alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. En dit is ook in julle wet geskrywe dat die getuienis van twee mense waar is. Dit is Ek wat van Myself getuig; en die Vader wat My gestuur het, getuig van My. Hulle sê toe vir Hom: Waar is u Vader? Jesus antwoord: Julle ken My nie en ook nie my Vader nie; as julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het.” (Joh. 8:16-19). En later stel Christus dit duidelik aan hulle dat hul, ten spyte van hul godsdienstigheid, in ’n verhouding met die duiwel eerder as met Hom staan. “Ek spreek van wat Ek by my Vader gesien het, en julle doen ook wat julle by jul vader gesien het. Hulle antwoord en sê vir Hom: Ons vader is Abraham. Jesus sê vir hulle: As julle die kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen; maar nou probeer julle om My om die lewe te bring, iemand wat aan julle die waarheid vertel het, wat Ek van God gehoor het. Dit het Abraham nie gedoen nie. Julle doen die werke van jul vader. Toe sê hulle vir Hom: Ons is nie uit ontug gebore nie; ons het een Vader, naamlik God. En Jesus sê vir hulle: As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom; want Ek het ook nie uit Myself gekom nie, maar Hy het My gestuur.
Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie. Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan.”
Hierdie godsdienstigheid van die skrifgeleerdes en Fariseërs was juis die rede vir groot konflik tussen hulle en Christus. “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die
buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid.” (Matt. 23:23, 25). Ons lees ook in Matt. 15:7-9 waar Christus hierdie saak in geen onduidelike taal aanspreek. “Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.”
Wanneer ons oor hierdie saak dink kom ons tot die besef dat ’n groot verskil tussen godsdienstigheid en ’n ware verhouding met God is, is die liefde wat in blote godsdienstigheid ontbreek. So ’n godsdiens sonder liefde vir Hom wat net uit gewoonte bestaan is nie standhoudend nie en sal tot niet gaan wanneer die mens daarin belangstelling verloor of wanneer dit blyk daar nie meer voordeel uit te kry is nie. Of dit sal verdwyn in die skadu van ’n volgende – dalk meer opwindende godsdienstigheid. ’n Ware verhouding met God daarenteen wat in die liefde gewortel is, is ’n standhoudende verhouding waarin die mens nie God probeer posisioneer waar dit vir hom gerieflik of voordelig is nie, maar waar God die ereposisie in ons lewens beklee en op die troon van ons harte sit. En vandaar rig Hy ons wil, handel en wandel ongeag of dit tot ons voordeel is of van ons opoffering vra.
Geliefdes, dit behoort hieruit vir ons duidelik te wees waarom God nie ’n behae in godsdienstigheid het nie, maar ’n groot welgevalle in mense wat ootmoedig en in liefde met Hom wandel en Hom sodoende in waarheid dien en aanbid. “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Miga 6:8).
Amen.