1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
8781242

Besoekers aanlyn

Ons het 163 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

DIE REINIGING VAN ONS SONDES

1 Joh. 1:1-10: “AS ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ’n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.” (:8-10).

Dit is vir geen mens lekker om sy foute of tekortkominge te erken nie. Hierdie woorde uit 1 Joh. 1 is egter op die man af, reguit en ondubbelsinnig. Daar is geen mens in die geskiedenis van die skepping wat voor God kan staan en hom- of haarself as onskuldig en sonder sonde daar kan stel nie.

Die enigste uitsondering was die Seun van God wat ter wille van ons Homself verneder het en die gedaante van ’n mens aangeneem het. Elke ander sterfling het teen God in opstand gekom en homself met sonde bevlek. Daar is vir my drie dinge baie duidelik uit hierdie drie verse wat ons uit 1 Joh. 1 aanhaal. Die eerste is die verkeerdheid daarvan om ons sonde te erken. Die tweede is die getrouheid van God om ons sonde te vergewe en die laaste is die reiniging van ons sonde. Wanneer ons ons sonde ontken, impliseer ons dat God ’n leuenaar is. Dit moet natuurlik ook by ons die vraag laat onstaan waarom ons nie ons sonde wil erken nie. Is dit alleen omdat ons nie ons verkeerdheid wil erken nie of is dit dalk omdat ons weet dat ’n erkenning daarvan ons by die punt sal bring waar ons besef dat ons daarvan moet afstand doen.

 

En menigmaal is daardie sonde dinge waarvan ons nie graag wil afstand doen nie en daarom ontken ons eerder dat dit verkeerd is. Hierdie ontkenning van ons sonde gebruik ons om ons gewete gerus te stel dat ons in daardie sonde kan voortleef. En 1 Joh. 1:6 is baie duidelik hieroor. “As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.” Die erkenning van ons sonde is derhalwe meer as die onaangename besef en erkenning van ons verkeerheid, maar dit lê ook op ons die verantwoordelikheid om hiervan afstand te doen.

 

'n Saak wat dit dalk verder vir ons moeilik maak om ons sonde te erken, is die vrees dat God ons nie daarvoor sal vergewe nie. Hierdie was alreeds te sien in die eerste geskape mense se lewens. Nadat Adam en Eva teen God gesondig het, het hulle nie terstond besluit om Hom te gaan opsoek en hul vergifnis van Hom te pleit nie. Hulle eerste reaksie was dat hulle hul oortreding (en hulself) vir Hom moes verberg. “En hulle het die stem van die Here God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van die Here God tussen die bome van die tuin. Toe roep die Here God na die mens en sê vir hom: Waar is jy? En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg.” En sedert hierdie eerste mense bewys God Sy goederierenheid en barmhartigheid teenoor die mens waardeur ons oortuig behoort te word dat Hy ons ook barmhartig sal wees en sal vergewe.

 

Maar tog wend die Satan hierdie wapen van vertwyfeling dikwels aan om ons te laat glo dat ons oortreding groter as God se genade en barmhartigheid is. En dit terwyl God die teendeel vir ons baie duidelik stel. “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Joh. 1:9). Die profeet Jesaja het ook in Jes. 1:18 hieroor die pragtige getuienis gelewer. “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper,

dit sal word soos wol.” En in Psalm 103:8-12 lees ons ook van die getuienis deur die mond van koning Dawid.

 

“Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” Geliefdes, selfs Moses wat as leidsman van die wederstrewige volk Israel opgetree het, het hierdie getuienis uitgespreek waarvan ons in Ex. 34:6&7 lees. “En toe die Here by hom verbygaan, het Hy geroep: Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag.” Alhoewel die sonde gewoonlik slegte gevolge het, is God getrou om nie hierdie oortreding teen ons te hou nie, maar om ons in Sy grote barmhartigheid te vergewe en Hom weer oor ons te ontferm.

 

Ons behoort nie die Satan se leuens bo hierdie oorwig van getuienis uit die suiwere Woord van God te glo nie en kan daarom met sekerheid weet dat God ons skulde wat ons voor Hom bely, sal vergeef. Geliefdes, God beloof nie alleen vergifnis vir ons oortredinge nie, maar ook dat Hy ons daarvan sal reinig. En dit is baie belangrik dat ons sal verstaan dat ons deur Hom gereinig word, geliefdes. Ons kan dus enersyds dus nie net met oppervlakkigheid ons

sondes bely en verwag dat God tevrede sal wees as ons daarin voortleef nie – ons moet van ons onreinheid geheilig word. “Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking.” (1 Thes. 4:7). Luister ook na die duidelike opdrag in hierdie verband uit 2 Kor. 7:1. “TERWYL ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons

van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” En andersyds moet ons verstaan dat ons nie ons eie reiniging voor God kan bewerk nie. Ons word deur Hom van ons oortredinge en die smet van sonde geheilig en skoon gewas. “Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur

Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie.” (Hand. 13:38&39). Luister ook na die getuienis uit Efés. 1:7. “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,”.

 

Geliefdes, mag ons vandag opnuut tot die besef gebring word hoe nodig dit vir ons is om ons lewe met al ons sonde en skuld na die Lig van die Woord te bring sodat ons sonde in die Lig van die Woord sigbaar kan word. Dit is nodig geliefdes sodat ons ons sonde nie sal ontken of probeer verberg nie, maar met vrymoedigheid en opregte skuldbesef

voor Hom sal lê en in waarheid sal bely. Die loon hiervoor is die nodige maat van genade en barmhartigheid wat ons van God sal ontvang wat ons ook weer nader aan Hom sal bring deurdat die middelmuur van skeiding, die sonde, afgebreek sal word.

 

“Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.” (Efés. 2:13- 16).

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie