1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
8529276

Besoekers aanlyn

Ons het 42 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

BLYDSKAP IN DIE HERE

BybelNeh. 8:1-19:“En hulle het uit die boek, uit die wet van God, duidelik voorgelees en dit verklaar, sodat hulle verstaan het wat voorgelees is. Daarop het Nehemía — hy was die goewerneur — en Esra, die priester, die skrifgeleerde, en die Leviete wat die volk onderrig, aan die hele volk gesê: Hierdie dag is heilig aan die Here julle God; treur nie en ween nie! Want die hele volk het geween toe hulle die woorde van die wet hoor. Verder het hy vir hulle gesê: Gaan, eet lekker spys en drink soet dranke en stuur porsies aan hulle vir wie niks berei is nie; want hierdie dag is heilig aan onse Here. Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die Here — dit is julle beskutting.” (:9-11).

Geliefdes, wat ’n vreugdevolle dag waarvan ons hier lees. Ons lees van ’n volk wat onder die geklank van God se Woord kom en met aanhoor van die wet van God diep in hul harte geraak word. En dit is dan amper vreemd dat Esra en die Leviete die volk aanmaan om nie bedroef te wees nie. Is dit dan nie goed dat hulle oor hul sonde bedroef is nie? Natuurlik is dit goed en nodig. Maar net soos wat dit goed en nodig is vir die mens om oor sy tekortkominge en sondes voor God bedroef te wees en te treur, net so nodig is dit vir die mens om dankbaar en bly te wees oor die ontelbare genadegawes en onmeetbare goedheid wat God aan die mens bewys.

En dit is dan ook wat die familiehoofde, die priesters en Leviete later van Esra, die skrifgeleerde leer, wanneer hulle uit die wet van God onderrig word. Hulle word herinner aan hierdie insetting van die huttefees wat God aan Sy volk gegee het om te onderhou juis sodat dit hulle aan die kragtige weldade van God aan Sy volk kon herinner. En hulle behoort bly te wees en hul te verheug in hierdie goedheid en verlossing van God.

Ek dink dat dit vandag weer vir ons as God se kinders baie nodig is om aan hierdie belangrike saak herinner te word. Die omstandighede rondom ons kan ’n mens maklik tot neerslagtigheid stem. En as ons gedurig op die verval van die samelewing en dergelike sake gaan fokus en hieroor murmureer sal ons nalaat om God in hierdie belangrike saak te gehoorsaam. Ek sê nie dat ons met onsself oneerlik moet wees en die slegte dinge in die samelewing moet ontken of maak asof dit sommer vanself gaan verdwyn nie, want dit gaan nie. Daar is baie goeie redes waarom slegte omstandighede ontstaan en ’n mens moet hierdie oorsake aanspreek ten einde die toekoms positief te beïnvloed. Dit is ons verantwoordelikheid. Dit is duidelik uit Titus 2:2-5 dat die mens behoorlik oor sy optrede moet besin en sy besluite deeglik en versigtig moet oorweeg aangesien dit ’n invloed op jou toekoms het

“Die ou manne moet nugter wees, waardig, ingetoë, gesond in die geloof, in die liefde, in die lydsaamheid. Die ou vroue moet ook in hulle gedrag wees soos dit die heiliges betaam, geen kwaadspreeksters of aan baie wyn verslaaf nie, maar leraresse van wat goed is, sodat hulle die jong vroue kan leer om versigtig te wees, hulle mans en kinders lief te hê, ingetoë te wees, kuis, huislik, goed, aan hul eie mans onderdanig, sodat die woord van God nie belaster word nie.” Ons moet egter nooit uit die oog verloor dat God in ’n oogwink in ons toekoms kan ingryp en omstandighede bo enige verwagting kan verander nie. Tewens, ons moet gedurig terug dink aan die geskiedenis en aan al daardie kere wat God in die verlede Sy ingrype en weldade aan ons getoon het en ons hieroor in Hom verbly. Ons behoort bo alles gedurig te dink aan die besonderse verlossing van God om ons uit die mag van sonde vry te koop en oor hierdie verlossing het ons rede tot ontsettende groot blydskap.

Ons lees telke male in God se Woord van hierdie opdrag om ons in Hom te verbly. Dit kan seker nie meer duidelik gestel word as in Filippense 4:4 nie. “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” En koning Dawid gee ook hierdie opdrag in die bekende Psalm 32 wat ook oor skuldvergifnis handel. “Wees bly in die HERE en juig, o regverdiges! En jubel, alle opregtes van hart!” (Ps. 32:11). Die opdrag uit 1 Thes. 5:16 is kort en kragtig. “Wees altyddeur bly.” Benewens die opdrag om ons in die HERE te verbly, word die belangrikheid hiervan vir ons verder in Handelinge 13 sowel as Galasiërs 5 onderstreep. Ons sal almal dit eens wees dat die uitstorting van die Heilige Gees ’n besonderse belangrike gebeurtenis was. Dit is onontbeerlik vir enige gelowige om die inwonende Heilige Gees van God te ontvang. En in Handelinge 13 lees ons waar die dissipels saam met die Heilige Gees ook met blydskap vervul is. “En die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees.” (Hand. 13:52). Ons lees dan ook in Galasiërs 5 dat een van die vrugte van die Gees blydskap is. “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Gal. 5:22).

Die blydskap waarvan ons vandag praat is nie ’n oppervlakkige vrolikheid nie. Dit is nie ’n oppervlakkige lawwigheid nie. Dit is nie ’n tydelike blydskap wat teweeg gebring word deur ’n goeie prestasie, of rykdom of voorspoed of ander verganklike dinge nie. Die blydskap waarvan ons vandag praat, is ’n diepgewortelde en standhoudende vreugde wat deur die Heilige Gees se werking in ons harte voortgebring word. Dit is die gevolg van ’n gesonde verhouding met God – ’n verhouding waarin ons aan Hom die nodige gehoorsaamheid, eerbied en dankbaarheid vir ons verlossing uit die mag van sonde bewys en Hom na behore liefhet en dien. “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly. Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.” (Joh. 15:10&11).

Geliefdes, indien hierdie blydskap van God nie in ons harte is nie moet ons dalk vir ’n oomblik stil raak en vra of ons verhouding met Hom in ’n gesonde toestand is. Ons moet beslis daaroor besin of ons nie hierdie blydskap in ander aardse en verganklike dinge probeer vind nie, want dit is ’n vergeefse soektog. Die blydskap van God is nêrens anders en in niks anders as in Hom te vinde nie! Ten einde hierdie blydskap in Hom te vind moet ons ons verkeerde weë verlaat om nader aan Hom te beweeg en Hom gehoorsaam en liefhê sodat ons in Hom kan bly. Mag ons die HERE ook in hierdie belangrike saak gehoorsaam en behaag.

“o Regverdiges, wees bly in die Here , en loof sy heilige gedenknaam!” (Ps. 97:12).

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie