Matt. 6:19-34: “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donk erheid is, hoe groot is die donkerheid nie! Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!” (:22-24). Geliefdes, hier het ons te make met een van daardie baie reguit stellings wat God maak. Hy praat nie hier deur gelykenisse of beeldspraak nie, maar onomwonde stel Hy dit – “Julle kan nie God én Mammon dien nie!”. En hoe nodig is dit nie dat hierdie boodskap hard en duidelik in ’n sekulêre en materialistiese wêreld verkondig word nie. Ja, ook onder ons volk waar hierdie materialisme aan ons kom kleef het, is dit nodig om hierdie boodskap duidelik aan te hoor.
Kom ons begin by die voor-die-hand-liggende vraag – “Is dit sonde om rykdom te besit.” Nee. Die antwoord is eenvoudig. Rykdom is ’n gawe van God net soos wat ’n vrou, kinders, gesondheid, verstand en ander talente en vermoëns gawes uit Sy Hand is. En net soos wat dit nie ’n sonde is om intellektueel begaafd te wees nie is dit nie ’n sonde om rykdom te besit nie. Ek verwys u na ’n paar voorbeelde uit die Woord van God ter bevestiging hiervan. Luister na die woorde van God uit 1 Sam. 2:7. “Die Here maak arm en maak ryk; Hy verneder, ook verhoog Hy.” Ons kan ook luister na die getuienis van die wyse koning Salomo wat ’n ongekende hoeveelheid rykdom besit het. “Die seën van die HERE — dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie.” (Spr. 10:22). Die seun van Abraham, Isak, het ook hierdie ryke seën van God ontvang. “Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die Here het hom geseën.” (Gén. 26:12). Een van die dissipels van Christus, Josef van Arimatheá, was ook ’n ryk man. “EN toe dit aand geword het, het daar 'n ryk man van Arimathéa gekom met die naam van Josef, wat self ook 'n dissipel van Jesus was.” (Matt. 27:57). En ons kan beslis nie nalaat om die voorbeeld uit die lewe van Job na vore te bring nie. “Daarby was sy besitting seweduisend stuks kleinvee en drieduisend kamele en vyfhonderd paar beeste en vyfhonderd eselinne en 'n groot menigte slawe, sodat dié man ryker was as al die kinders van die Ooste.” (Job 1:3).
Geliefdes, hoe staan die saak dan as ons soveel voorbeelde van Godvresende mense het wat groot rykdom besit het en tog is Christus só uitgesproke hierteen? Julle kan nie God en Mammon dien nie. Kies vir julle die een of die ander. En daarbenewens die stelling van Christus waarvan ons in Lukas 18:24&25 lees. “En toe Jesus sien dat hy diep bedroef geword het, sê Hy: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan. Want dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.”
Ons kan aan die hand van twee voorbeelde hierdie saak beter verstaan. Die eerste voorbeeld is die van die ryk jongman waarvan ons in Matt. 19, Markus 10 en Lukas 18 lees. Hierdie jongman was vroom en hy het die gebooie van God getrou nagekom. Maar Christus wys hom op die één groot tekortkoming in sy lewe. “Jesus antwoord hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.” (Matt. 19:21). Daar is één ding wat tussen hom en volmaaktheid staan. Hierdie één tekortkoming wat hy het, nl. dat die liefde vir sy rykdom groter is as sy liefde vir God. En hierdeur oortree hy die eerste en groot gebod wat ’n allesoortreffende liefde vir God van ons eis. “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod.” (Matt. 22:37&38). Hierdie ryk jongman se liefde vir die gawe het sy liefde vir die Gewer oortref. Job was ook ’n vroom man wat God se gebooie getrou nagekom het en ook ‘n ontsettende ryk man – ryker as al die kinders van die Ooste. Maar Job se liefde vir sy besittings het nie groter geraak as sy liefde vir God nie. Luister na sy kosbare getuienis en die bestraffing van sy vrou uit Job 2:9&10 wat hy uitspreek nadat hy al sy rykdom, kinders en selfs sy gesondheid verloor het. Hy het m.a.w. omtrent al die gawes uit God se Hand verloor met uitsondering van sy eie lewe en sy vrou.
“Toe sê sy vrou vir hom: Volhard jy nog in jou vroomheid? Seën God, en sterf! Maar hy antwoord haar: Soos 'n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie.” Job het verstaan dat sy rykdom en al die ander gawes uit God se Hand as gawe ontvang is. En dat Hy daarmee na Sy welbehae kan handel. Die kontras in hierdie twee mense se lewens laat ons die saak beter verstaan dat die sonde van rykdom nie in die besit daarvan lê nie, maar daarin dat ons liefde vir hierdie gawe nimmer die liefde vir die Gewer daarvan moet oorskry nie. Dink maar aan die voorbeelde van Abraham, Jakob, Isak, Job, Dawid en Josef van Arimatheá wat almal manne was wat met groot rykdom belaai was, maar wie se harte aan God verkleef gebly het. Hulle liefde vir hierdie gawe het nie groter geword as hul liefde vir Hom nie.
Ons hart moet aan God verkleef bly en nie aan die rykdom verkleef raak nie. Ons oog moet op Hom gerig bly en nie op die rykdom gevestig raak nie. Dit is juis wanneer ons harte en oog verkeerd raak wanneer hierdie sonde begin wortel skiet en ons begin om Mammon eerder as God te dien. Dít is wanneer ons die gebooie van God begin minag omdat ons ons rykdom met alle mag en krag wil beskerm en vermeerder. Ten spyte van die waarskuwing van God in 1 Tim 6:10 sien ons hoedat ons samelewing hierin struikel. “Want die geldgierigheid is 'n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.” Ons sien hoedat oumense finansieël kripeer omdat hulle kinders en kleinkinders eenvoudig nie dit oor hul hart kan kry om ’n paar rand elke maand af te knyp om hulle finansieël te ondersteun nie. Die tweede en vyfde gebooie van God word geminag omdat hul eie finansiële welsyn (gierigheid) vir hul swaarder as God se gebod weeg. Mense steel die een van die ander en minag die sesde gebod omdat gierigheid die oorhand in hul lewens kry. Families raak verbitterd en haatdraend teenoor mekaar en minag die tweede gebod omdat gierigheid dikwels met die afsterwe van ’n geliefde die oorhand by erfgename kry.
Huwelike ly skipbreuk omdat mense deur begeerlikhede van materiële dinge tot struikel gebring word.My hoop is dat hierdie vermaning van God elkeen van ons sal beweeg om die verhouding waarin ons teenoor God en die gawes wat Hy ons uit liefde skenk te oorweeg. En mag die gawes wat Hy aan ons skenk ons liefde vir Hom as die Gewer daarvan laat toeneem eerder as wat ons liefde vir die gawe toeneem ten koste van ons liefde vir Hom. Wanneer ons lewens hier op aarde verby is kan ons immers uitsien na ’n ewige lewe saam met Hom, die Gewer van alle goeie gawes, terwyl al hierdie gawes sal agterbly. Daarom is ons liefde vir Hom – die Behouder van ons siele – die hoogste van alle gebooie.
“Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: 'n Ryk man se grond het goed gedra. En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie? Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s'n sal dit wees? So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.” (Luk. 12:16-21).
Amen.