1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
8131847

Besoekers aanlyn

Ons het 89 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

GODDELIKE GETROUHEID

BybelMatt. 28:1-10: “Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het; en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê. En hulle het haastig weggegaan van die graf met vrees en groot blydskap, en gehardloop om dit aan sy dissipels te vertel. En terwyl hulle op weg was om dit aan sy dissipels te vertel, kom Jesus hulle meteens teë en sê: Wees gegroet! Toe kom hulle nader en gryp sy voete en aanbid Hom. En Jesus sê vir hulle: Moenie vrees nie. Gaan heen en vertel my broeders dat hulle na Galiléa moet gaan; en daar sal hulle My sien.” (:6-10).

Hierdie gebeure na die dood van Christus aan die vloekhout lewer weereens vir ons so ’n kragtige getuienis van die Goddelikheid van Christus. Dit is ten eerste ’n absolute merkwaardige gebeurtenis dat selfs die krag van die dood Hom nie gevange kon hou nie. Hierdie ongewone en wonderlike gebeurtenis waarvan Petrus ook beslis getuienis gelewer het. “Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word.” (Hand. 2:24).

Geliefdes, hierdie getuienis van die Goddelikheid van Christus wat ons herinner daaraan dat die Drie-Enige God van die heelal inderdaad die enigste ware God is wat waardig is om deur die mens aanbid te word. Is daar enige afgod wat die mense vir hulself maak wat ooit die smarte van die dood kon oorwin? Sou Mammon (die geldgod) dit kon doen? Natuurlik nie! Daar is géén bedrag geld in die wêreld wat enige mens van die dood kan red nie. “Niemand kan ooit \n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie” (Ps. 49:8). Sou die beste mediese sentrum of geneesheer daarop kan roem dat hulle enige mens van die dood kon red? Natuurlik nie! Hulle hulp strek ook net sover as die punt waar die dood by ’n pasiënt intree – daarna kan hulle vir die mens niks meer doen nie.

Hierdie oorwinning lewer derhalwe ’n luidkeelse getuienis van God se verhewendheid en Goddelikheid – dat dinge wat vir enige ander wese in die heelal onmoontlik is Hom vir Hom geen verhindering is nie. Hy alleen kon die dood oorwin en Hy alleen kan die mens se siel van ewige verderf red. “Maar God sal my siel loskoop van die mag van die doderyk, want Hy sal my opneem. Sela.” (Ps. 46:16).

Daar is ook ’n tweede waarneming wat ek uit hierdie gedeelte maak. Hoe wonderlik is dit dat Christus, kort na Sy opstanding en oorwinning oor die dood, die mens weer opsoek. So trou aan Sy goddelike natuur. En soveel anders as die mens. Wanneer die mens met oorwinnings en sukses omring word, is sy natuurlike gedrag mos om van God te vergeet en van God af weg te dwaal. Hy verhef homself in sy hart bo ander mense en selfs bo God. Maar wanneer Christus oor die dood triomfeer, die grootste oorwinning wat in die ganse skepping behaal is, verhef Hy Homself nie in selfvoldaanheid en sien met veragting op die mens neer nie. Hy soek die mens op en openbaar Homself aan die mens.

“En terwyl hulle op weg was om dit aan sy dissipels te vertel, kom Jesus hulle meteens teë en sê: Wees gegroet! Toe kom hulle nader en gryp sy voete en aanbid Hom.” (Matt. 28:9). Onthou, hierdie mense wat Hy opsoek en aan wie Hy verskyn, was ook mense wat self gesondig het. Hulle was derhalwe, soos elkeen van ons, ook aandadig aan die vloek, hoon en smart wat Hy ’n paar dae vantevore moes deurmaak! En tog ontmoet Hy hulle nie met bitterheid, verwyt of selfvoldaanheid nie, maar met innerlike ontferming oor hul lot. Hierdie nederigheid, vastigheid, barmhartigheid en liefde is beslis bo-menslik, geliefdes.

Inderdaad Goddelik. Ja, met ’n Goddelike onveranderlikheid soek Hy die mens na Sy opstanding op soos wat Hy in die vroegste tyd ook alreeds die mens wat in die tuin van Eden gesondig het, opgesoek het. Hierdie innerlike ontferming, barmhartigheid en liefde van God is eie aan Sy Goddelike natuur! Ek sluit dan ook vir ons met ’n laaste waarneming uit hierdie gebeure af. Die getuienis van Sy Goddelikheid daarin dat Sy besluit vas staan en deur geen ander wese in die heelal as Hyself verander kan word nie. Hy het alreeds voor Sy dood met Sy dissipels ’n afspraak in Galiléa gereël. “Maar gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus dat Hy voor julle uit gaan na Galiléa. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.

” (Mark. 16:7). Geliefdes, nie eers die dood kon Hom verhinder om hierdie afspraak wat Hy gereël het na te kom nie. Daar is niks wat Hom kan verhoed om dit wat Hy besluit, uit te voer nie. Daar is niks wat Hom sal verhinder om Sy Woord gestand te doen nie. Ja, hierdie gebeure lewer luidkeels saam met die profeet Jesaja van Sy Goddelikheid getuienis! “Júlle is my getuies, spreek die Here, en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is — voor My is geen God geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie. Ek, Ek is die Here, en daar is geen Heiland buiten My nie. Ék het verkondig en verlos en dit laat hoor, en daar was geen ander god onder julle nie; en julle is my getuies, spreek die Here, en Ek is God. Ook van vandag af is Ek dit, en niemand red uit my hand nie; Ek werk, en wie kan dit keer?” (Jes. 43:10-13). Geliefdes, mag hierdie wonderlike, amper onbegryplike, gebeure uit die lewe van Christus ons opnuut bewus maak van die nietigheid van daardie dinge in die lewe waarin ons so maklik ons hoop of vertroue kan stel. En mag ons nagedagtenis aan hierdie wonderlike gebeure by ons opnuut die grootheid en Goddelikheid van Hom inskerp sodat ons met ’n vaste vertroue ons lewens aan Hom sal toevertrou en Hom met getrouheid as die enige lewende God sal dien.

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie