Nah. 1:1-15: “Die Here is goed, 'n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil.” (:7).
Ons word in hierdie gedeelte deur die profeet Nahum aan twee kante van God bekend gestel. Die kant van God se toorn en wraak teenoor Sy vyande en andersyds die barmhartigheid, lankmoedigheid en goedheid teenoor Sy volk. Die een kant van God is so deel van Sy wese as die ander kant. Ons kan nie, soos menige mens deesdae probeer doen, vir God besluit dat ons van Sy liefdevolle kant hou, maar nie van die eienskappe van Sy grimmigheid en woede nie.
Geliefdes, u kan gerus die Woord van God deeglik gaan bestudeer. U sal vind dat God nêrens vir ons in Sy Woord te kenne dat ons die vryheid het om te besluit wat die eienskappe van Hom is waarvan ons hou en wat die eienskappe is waarvan ons nie hou nie. Hy openbaar Homself wel aan ons deur die Skrif en bied ons daardeur die geleentheid om Hom te leer ken. En wanneer ons Hom na behore ken, sal ons ook verstaan dat ons aan die regte kant van God in ons lewens moet staan. ’n Ontkenning van Sy grimmigheid en toorn gaan daardie eienskappe van Hom nie laat weggaan nie en nog minder gaan ons kommentaar of opinie hieroor enigiets daaraan verander. ’n Mens wat dink dat hy die reg het om God se karakter wat Hy aan ons openbaar te kritiseer en homself daaroor uit te laat is uiters arrogant. Wat ons te doen staan is om in die regte verhouding met God te leef ten einde daardie kant van Sy grimmigheid en woede gespaar te bly en die vreugde en vrede daarvan te ervaar om in ’n verhouding met Hom te staan waarin ons Sy lankmoedigheid, liefde, goedertierenheid, getrouheid en goedheid beleef. Ons moet m.a.w. in ’n verhouding met God staan waar ons by Hom wil skuil eerder as wat ons van Hom af wil wegvlug.
Ons lees gedurig in God se Woord van hierdie kontras van sommige mense wat van Hom probeer wegvlug en sommige wat by Hom skuil. En dit is ook nie te moeilik om te sien dat veral gehoorsaamheid aan God (iets waarvan die hedendaagse mens min wil hoor) ’n baie belangrike rol in hierdie verdeling speel nie. Ek gaan dit aan die hand van ’n paar voorbeelde verduidelik. Ons begin sommer by Adam en Eva. Hierdie twee mense was bevoorreg genoeg om in die Paradys naby aan God te leef. Hier het God vir hulle ’n wonderlike plek berei om te leef. En Hy het hulle in Sy liefdevolle sorg met getrouheid onderhou. Nadat Adam en Eva aan God ongehoorsaam was, het hulle egter vir Hom probeer wegkruip eerder as dat hulle by Hom gaan skuiling soek het. “En hulle het die stem van die Here God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van die Here God tussen die bome van die tuin.” (Gén. 3:8). En dan is ons almal seker ook met die lewe van Jona bekend? Hy moes in ’n besondere verhouding met God gestaan het – God het hom immers uitgekies om as Sy boodskapper teen Ninevé op te tree. Die gevolg van sy ongehoorsaamheid aan God
was dat hy, wat vantevore by God geskuil het, nou van God probeer wegvlug het. “Maar Jona het hom klaargemaak om na Tarsis te vlug, van die aangesig van die Here af weg; en hy het na Jafo afgegaan en ‘n skip gevind wat na Tarsis sou vaar. En hy het die reisgeld daarvoor betaal en daarin geklim om saam met hulle na Tarsis te vaar, van die aangesig van die Here af weg.” (Jona 1:3). Sodoende het Hy aan die verkeerde kant van God beland – die kant waarin hy God se grimmigheid en toorn eerstehands beleef het. “U tog het my in die diepte gewerp, in die hart van die see, sodat ‘n stroom my omring het; al u bare en u golwe het oor my heengegaan.”
(Jona 2:3). En hier het Jona tot sy sinne gekom en begeer om weer aan die regtekant van God in sy lewe te staan. “Toe my siel in my versmag het, het ek aan die Here gedink; en my gebed het tot by U gekom in u heilige tempel.” (Jona 2:7). In teenstelling met mense wat van God probeer wegvlug, is diegene wat naby aan Hom leef – hulle wat by God skuil. Hiervan was koning Dawid natuurlik ’n baie bekende voorbeeld. ‘n GEDIG van Dawid. Bewaar my, o God, want by U skuil ek.” (Ps. 16:1). En in Ps. 64:11 onderstreep Dawid ook vir ons die feit dat dit mense is wat God gehoorsaam is, regverdiges, wat by Hom skuil. “Die regverdige sal bly wees in die Here en by Hom skuil,...”. In Psalm 118:8 word daar weer van hierdie voorreg om by God te skuil, melding gemaak. “Dit is beter om by die Here te skuil as om op mense te vertrou.” En Agur lewer dan ook in Spreuke 30:5 hiervan getuienis.
“Elke woord van God is gelouter; Hy is 'n skild vir die wat by Hom kuil.” Ons sien vandag dat baie mense van God vervreemd raak, geliefdes. En dat mense toenemend ’n lewe van ongehoorsaamheid aan God leef waarin ’n mens eerder van God probeer wegkom as om na Hom te soek en te begeer om by Hom te skuil. En dan wonder die mensdom waarom daar hier benede meer en meer van die grimmigheid en woede van God sigbaar raak – iets wat beslis besorgdheid in enige mens se hart sal wek. Ons as God se kinders hoef egter nie in hierdie tye in vrees en benoudheid ons dae deur te bring nie omdat ons die troos het dat ons by God kan skuiling vind, geliefdes. Ons moet wel gedurig daarteen waak om nooit so onverksillig as die wêreld te raak om te dink dat ons buite die skuilplek van die Allerhoogste veiligheid sal vind nie.
“Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Gelgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” (Ps. 2:11&12).
Amen.