1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7229145

Besoekers aanlyn

Ons het 16 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

LAAT ONS GEREED WEES

BybelMatt. 25:1-13: “DAN sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet.” (:1). “Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie. Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.” (:12&13).

Ons leer soveel uit hierdie wonderlike gelykenis wat Christus in Matt. 25 aan ons gee. Hy begin om in die eerste vers aan ons te verduidelik dat daar ‘n ontmoeting moet plaasvind. En die tien maagde het op hierdie ontmoeting met die bruidegom gewag.

Daar was vyf van hierdie maagde wat hierdie ontmoeting met die bruidegom só belangrik geag het dat hulle nie alleen hulle lampe saamgeneem het nie, maar hulle het ook ekstra olie vir hul lampe geneem sodat hulle nie onkant betrap sou word en op hierdie ontmoeting met die bruidegom uitmis omdat hulle nie genoeg olie byderhand het nie. Alhoewel die ander vyf maagde ook opgegaan het om die bruidegom te ontmoet, was hulle nie so voorbereid soos die vyf verstandige maagde nie. Hierdie optrede getuig daarvan dat hierdie ontmoeting met die bruidegom by hulle nie dieselfde prioriteit geniet het as by die vyf verstandige maagde nie.

Wanneer die bruidegom onverwags opdaag en die vyf onverstandige maagde nie genoeg olie vir hul lampe het nie wil hulle dringend na die vyf verstandige maagde roep om hulle uit hul verknorsing te help. Maar die vyf verstandige maagde is nie vir ‘n oomblik bereid om die kans te waag om self sonder olie te sit en op hierdie belangrike ontmoeting met die bruidegom uit te mis nie. Nou kon ek as klein seuntjie nie verstaan dat Jesus so ‘n gelykenis vertel waarin die karakters wat Hy gebruik nie bereid is om met ander te deel nie. Mededeelsaamheid is tog ‘n mooi eienskap wat God self voorskryf. “Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ‘n welbehae aan sulke offers.” (Heb. 13:16). Dit is egter duidelik uit die gelykenis dat Christus die belangrikheid aan ons wil beklemtoon dat elke een van ons vir ons eie redding en verhouding met Hom verantwoordelik is. Ons sal nie met Sy koms ons skielik kan wend tot ons predikant of ouers of ander familielede wat dalk ‘n mooi verhouding met Hom gehandhaaf het en op Sy koms voorbereid was om ons “gou-gou” te help om die nodige middele te bekom om vir Sy koms gereed te wees nie.

Ons lees in vers 12 van die gelese gedeelte van die bruidegom wat dit aan die onverstandige maagde stel dat hy hulle nie ken nie. Hulle was nie gereed om hom te ontmoet toe die geleentheid daar was nie. En nou is dit vir hulle te laat. Hulle was wel bewus dat hierdie geleentheid sou kom, maar hulle het nie met die nodige erns gewaak en voorberei nie en die geleentheid verspil. Dit is ongelukkig dieselfde met die koms van onse Here Jesus Christus, geliefdes. Daar is soveel mense wat weet dat ons Sy koms kan verwag. En tog is daar ook soveel wat ten spyte hiervan nie die moeite doen om Hom te leer ken en Hom te ontmoet voor Sy koms nie. Daar is soveel mense wat nie die nodige voorbereiding doen om vir Sy koms gereed te wees nie. Daar is soveel mense wat hierdie voorbereiding altyd wil uitstel omdat daar deurgaans iets anders is wat prioriteit in hul lewens geniet. En dit gebeur ten spyte van die waarskuwing wat ons in 1 Thes. 5:6 ontvang. “Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.”  

Ons kan egter nie die belangrikheid van hierdie voorbereiding op Christus se koms oorbeklemtoon nie, geliefdes. Dit is uit die gelykenis vir ons baie duidelik dat daar geen tweede kanse in hierdie verband sal wees om die fout van ons onvoorbereidheid reg te stel nie. Daarom dat die HERE ons duidelik en herhaaldelik uit Sy Woord vermaan om in die geloof te waak en altyd vir Sy koms gereed te wees. “PAS op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie.” (Mark. 13:33). “En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!” (Mark. 13:37).

Die Woord van die HERE bring my en u hopelik tot die punt waar ons oor ons lewens besin en vir ‘n oomblik stil raak om onsself af te vra of ons werklik voorbereid is op Sy koms. Ja, ons behoort in eerlikheid te besin of ons ook met ‘n oorgerustheid hierdie verantwoordelikheid in ons lewens na ‘n later tyd uitstel en of ons werklik, soos die vyf verstandige maagde, op die skielike koms van onse HERE gereed is. Die dag van die wederkoms van onse HERE Jesus Christus is vir niemand seker nie. Maar dat hierdie dag skielik en onverwags sal wees, daarvan kan almal seker wees. Laat ons elke dag hiervoor gereed wees, geliefdes!

“Kyk, Ek kom soos ‘n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie.” (Open. 16:15).

Amen.  

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie