1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7037156

Besoekers aanlyn

Ons het 43 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

POLITIEKE INSIG VERTOON NOODWENDIG OOK POLITIEKE VÊRSIG!

Dr. Hendrik VerwoerdHet u al ooit gewonder wat die oorsaak van versaking van nasionalistiese beginsels by sommige Afrikaners is? Indien u bekommerd is oor waarom dit net u en ‘n paar ander volksgenote is waarvan die ankers nog vas is en nie in die sleurstroom van verandering opgegaan het saam met selfs vriende en familie nie? Lees dan met toegewyde aandag hierdie toespraak van Dr. H.F. Verwoerd waarvan die wortels reeds op 23 Februarie 1929 geplant is en begryp dan die oorsake en gevolge van die politieke verwikkelinge van ons dag.

Rede by geleentheid van die opening van die akademiese jaar aan die Universiteit van Stellenbosch, 25 Februarie 1959 (Erkenning aan Prof. A.N. Pelser, uit Verwoerd aan die Woord)

 

Aan die Universiteit van Stellenbosch bestaan die gebruik dat die akademiese jaar op formele wyse geopen word en dat ’n vooraanstaande persoonlikheid van buite die Universiteit of een van die personeellede gevra word om ’n redevoering te lewer.

Aan die begin van die akademiese jaar in 1929 het dr. Verwoerd, toe 'n jong dosent aan die Universiteit, ook die openingsrede gehou en wel op 23 Februarie. By daardie geleentheid het die onverskrokke jong man 'n opskudding veroorsaak toe hy, anders as gebruiklik, ’n hoogs ingewikkelde betoog sonder raadpleging van ’n enkele nota, uit die vuis gelewer het. In sy openingsrede van 1959 verwys dr. Verwoerd nie alleen na sy vorige optrede nie maar sluit hy daarby aan en bou daarop voort. Met 'n paar inleidende opmerkings slaag hy daarin om 'n geheuebeeld dertig jaar later op so ’n wyse weer te gee dat dit ’n beter begrip bied van wat hy gesê het as die koerantverslae waarin sy rede oorspronklik gerapporteer is.

 

Meneer die vise-kanselier, meneer die rektor, geagte vriende op die verhoog en daaronder, ek wil vanmóre praat oor iets wat aan u behoort. Twee dinge wat aan u behoort, wil ek met mekaar verbind. Dit is: die universiteit en die toekoms. Die universiteit is die plek waaraan student en dosent so intiem verbonde is dat hulle eintlik die universiteit uitmaak. Die toekoms is iets wat in hoofsaak behoort aan die jong mense wat hier voor my is. Oor veertig jaar, in die jaar 2000, sal die meeste van u hier teenwoordig omtrent die portuur wees van ons wat hier staan en praat. Die universiteit moet u vir daardie toekoms regmaak.

 

Terwyl ek dit sê, wil ek daaraan herinner dat dertig jaar gelede die geleentheid om ’n openingsrede van die Universiteit te hou ook aan my toevertrou is. My onderwerp toe was gewees, en ek wil dit vandag die uitgangspunt van my toespraak maak:

 

Die Universiteit en die Lewe. Die grondgedagte wat ek toe verkondig het, was dat die universiteit met sy kloosteroorsprong, sy afgesonderdheid van die daaglikse lewe, nie meer in die moderne tyd dieselfde rol beklee nie. Die universiteit en die lewe het één geword. As in die universiteit die student nie nader gebring word aan dit wat dwarsdeur sy hele lewe vir hom belangrik is nie, dan het die moderne universiteit gefaal in sy plig; maar ek het toe juis beklemtoon dat die universiteit wel só geword het.

 

Aan die een kant het hy verband met die lewe verkry omdat hy die student moet voorberei vir ’n beroep. Dit is miskien die mees platvloerse deel van sy taak; om ’n mens voor te berei vir die lewenswerksaamheid waaruit hy sy verdienste sal haal, en daardeur die moontlikheid om te sorg vir sy bestaan en die van sy gesin. Die universiteit verskaf egter nie net ’n lewensverdienste nie, maar ook ’n lewensdiens. ’n Beroep beteken veel meer as ’n middel om vir eie belange te sorg. Dit skep in die eerste plek die geleentheid om vir iemand anders iets te doen, en op die ou end om vir jou volk iets te doen, al kan elke mens maar één steentjie lê in die muur wat gebou word deur dié generasie waarvan jy deel is. Daarom het ek toe beklemtoon dat voorbereiding vir ’n beroep wat die universiteit se een verband met die lewe van elke student is, tegelykertyd ook die verband vorm van die universiteit met die volk en die volk se groei. Sodoende sou dit nie net ’n voorbereiding vir die selfsug wees nie, maar ’n voorbereiding vir die offerdaad.

 

Daarnaas het ek beklemtoon dat die universiteit die liggaam by uitstek in die gemeenskap is wat nie net moet sorg vir die weergawe van kennis nie, maar ook vir die uitbreiding van kennis. Die uitbreiding van kennis is in die verlede gesien as ’n teoretiese taak. Kennis moes nie met die oog op sy bruikbaarheid gesoek word nie, maar teoretiese kennis was die mikpunt en die wêreld daarbuite kon dan maar enige praktiese waarde daaruit haal. Die gedagte het natuurlik reeds uit die universiteite van dertig jaar gelede verdwyn. Die universiteit het toe al lankal gestrewe na die verkryging van kennis wat nuttig sou wees, nie net na kennis van teoretiese belang nie. Navorsingswerk was nie net gerig op die bevrediging van ’n smagte om te weet wat verborge is nie, maar het ook uit die begeerte ontspruit om vir die medemens tot diens te wees deur te ontdek wat vir hom waardevol of nuttig sou wees. Daaraan is toegevoeg dat behalwe deur die soek na beroepskennis en die soek na dienskennis, ook die vorming van die mens self deur die universiteit wat met die lewe verband wou hou, behartig moes word.

 

Uit die universiteite word naamlik gewoonlik in ’n hoë mate die leiers van die volk gevind, nie net op politieke en kulturele terrein nie, maar op elke terrein van die lewe. Die kerklike leiers is bv. almal ten dele produkte van die universiteite van die land. En as uit die universiteite die leiers moet ontspruit, dan moet die universiteit in staat wees om persoonlikhede en karakters te vorm wat nie net stewig op beginsels vasstaan nie, maar wat hulle ook kragtig kan uit deur woord en daad tot voorbeeld en lering van ander.  Die universiteit se verband met die lewe is dus ruim. Dit strek oor alle terreine. Sy invloed moet dwarsdeur tot in die gees en gemoed van die mens dring. Dus (en ek het geëindig met hierdie woorde as ek reg onthou): as ’n universiteit in ’n volk se lewe groot is, dan word die hele volk groot.

 

Die maatstaf van die sukses van die universiteit is die sukses van die hele volk in wie se lewe hy sy rol speel. As die universiteit nie kan slaag om groots te dink, groot te wees, en groot manne te vorm nie; as die universiteit nie diep wortel skiet in die bodem van die eie volk nie; as hy nie eiesoortig soos sy volksgemeenskap dit is, kan wees nie — dan sal van daardie volk ook niks kan word nie. By ’n ander universiteitsgeleentheid onlangs het ek op ’n ander wyse nadruk op hierdie laaste gesigspunt gelê. Dit vorm die tweede uitgangspunt vir my beskouing vandag oor:

 

Die Universiteit en die Toekoms. Vir ’n volk is nie net die gewone doeleindes van die universiteit in die vervulling van sy daelikse taak van belang nie, maar ook die invloed wat dit op die gemoed van die studente uitoefen om hulle te behou vir die volk. Dit is nie net hulle opleiding en karaktervorming nie, maar hulle volksgebondenheid, hulle behoud vir die volk, wat van groot waarde is. Vóór ek dié gedagte ’n bietjie verder ontwikkel deur ’n terugblik op ons verlede, wil ek eers twee sake tussenin aanroer. Die een is dat wat ek so-ewe gesê het van die universiteit se betekenis vir ons as ’n blanke volk, ewe waar sal wees van eie universiteite vir die Bantoebevolking van Suid-Afrika.

 

Wanneer eie universitêre inrigtings vir die Bantoe in hulle eie gebiede tot stand kom dan sal dit ook blyk dat die verskillende Bantoe-volksgemeenskappe alleen hierdie werklike waarde van universiteite en universiteitsopgeleides sal kry as dié inrigtings, dosente en studente kom uit hulle eie midde, as die inrigtings opgerig is en die studente studeer in hulle eie gemeenskappe en dus gebiede, en as hulle tussen hul eie volksgenote bly om hulle te dien. Diegene wat ons in Suid-Afrika aanval wanneer ons aan die Bantoebevolking eie universiteitsinrigtings gee, en juis daarmee sorg dat hulle leiers nie weggespeen word deur na die blanke universiteite en gemeenskap te kom as leerlinge nie, besef nie dat dit die grootste daad op aarde is wat deur ’n voog gelewer kan word nie, naamlik om die volk en gemeenskap onder sy sorg toe te laat om sy jong geleerdes te behou en sy leiers te laat word. Dit voeg ek net terloops tussenin, want ons het nie vandag met dié probleem te doen nie.

 

Ook wil ek ’n tweede algemene gesigspunt tussenin noem. Dit is die volgende. As ’n mens die universiteit as so nou verknog aan die lewe en aan die volk sien, dan moet dit ook duidelik wees dat, soos gewoonlik, saam met die voorregte, verpligtings gaan. Wanneer so ligtelik gepraat word oor die ,,vryheid van die universiteit” wat onbeperk moet wees, dan word nie genoeg daaraan gedink nie dat die universiteitsvoorregte ook altyd universiteitspligte oplê en dat enige plig inperkend is. Veral perk dit die soort vryheid in wat tot losbandigheid sou neig. Enige strewe by ’n universiteit na ’n vryheid groter as sy plig, en vernaamlik sy volksplig sodat hy sy volksgebondenheid wil verloën in die naam van akademiese vryheid, ontstaan gewoonlik uit internasionale strominge wat by groot nasies begin en hul belange of ideologieë moet dien.

 

Dis nie vryheid nie, maar ’n vreemde slawerny wat die geleerdes van ’n klein volk probeer wegspeen van sy volk na onderworpenheid aan wat skynbaar universeel is. Daardeur word so ’n universiteit eintlik totaal fondamentloos en juis nie vry of selfstandig nie. Vryheid van die dwinglandy van ander volke se eise en beskouings is die vryheid wat ’n universiteit vir hom moet en mag opeis. ’n Universiteit se vryheid word ingeperk deur sy eie doel en sy eiewaarde, ook vir sy volk se voortbestaan. Dit net terloops.

 

Ek wil u gedagtes vervolgens probeer terugvoer na wat ons eie ervaring as volk was van universiteite en ons geleerdes tydens ’n paar periodes van ons bestaan. As ons dink aan die jare 1870 tot sê maar 1920, dan vind ons dat dit ’n tyd van geweldige ontwikkelinge en ver- wikkelinge vir die Afrikanerdom was. Gedurende die eerste deel van daardie periode, naamlik tot ongeveer 1900, was daar verskynsels wat, as hulle voortgeduur het, sou gesorg het dat die Afrikanervolk vandag nie die posisie sou beklee het wat dit beklee nie. Dit was toe — in die vroeëre jare van daardie tydperk — ’n pioniersvolk, groot van inbors, uit uitstekende agtergrond gestam, maar vir ’n groot gedeelte deur omstandighede nie sterk gekultureerd of hoog geleer nie. Die geestelike fondamente van die volk was gesond; sy peil van geleerdheid was egter nie hoog nie. Die voorouers het dit besef. Toe hulle gevestig begin raak, het hulle met groot persoonlike opofferinge vir hulle kinders die geleentheid probeer skep wat hulle self nie gehad het nie.

 

In baie rigtings het hulle hul kinders laat studeer, soms hier in Suid- Afrika, dikwels in Europa. Maar wat het gebeur met baie van die jong geleerdes van daardie tydperk? Hulle het nie eers almal teruggekom na Suid-Afrika nie en dié wat wel teruggekeer het, het soms nie teruggegaan na die gemeenskap van diegene wat die opoffering gebring het nie en ten bate van wie hulle die grootste volksbehoefte kon gevul het, naamlik deur kundige leiers te word. Hulle het dikwels hulle rug gedraai op die eie volk. Op die eenvoudige gemeenskap waaruit hulle self gestam het, en wat ten spyte van nood hulle die kennis en opvoeding laat verkry het, het hulle hulle rug gedraai. Dáár was hulle dan nie meer tuis nie. Hulle het gesoek na die gemeenskap van ander geleerde kringe of van ’n sosiaal skynbaar hoëre stand. Hulle het nie meer in hulle eie gemeenskap gepas nie, volgens die selfsugtige maat waarmee hulle hulleself toe gemeet het. Hulle het volksvervreemdgeraak.

 

Daarmee het hulle hulle taal dikwels moes prysgee om by die omgang met die skynbaar meer gesiene deel van die samelewing beter aan te pas. Sodoende het die Afrikanervolk miskien meer as een generasie van sy seuns en sy dogters verloor, wat, indien getrou, hul eie volk as geheel spoediger sou help lig het na ’n hoëre kulturele lewe en na kennis. ’n Hele generasie of dele van ’n paar generasies van ’n volk het, wat hom betref, verdwyn deur die selfsug van ’n geleerdheid wat eie bevrediging gesoek het. Hierdie afgestudeerdes wou vereuropees, of wou verengels, omdat hulle ,,breed van gees” sou wees! Hulle was meer ,,liberaal” van gedagte; hulle was ,,meer kundig” as die stamvolk in hul eie oë.

Hoe kon ’n volk wie se moontlike leiers hom so verlaat, self klim op die trap van die beskawing en die kennis? Dit was verraad, en benadeling van die eie volk, so erg as wat gewoonlik met die begrip bedoel word. Maar daar het gelukkig ’n oorgangsperiode gekom. Na die materiële nederlae van die jare van die keergety van die eeu het die volk homself, het die jong geleerdes hul volk gevind. Dit was die tydperk van inburgering van die geleerde in sy eie Afrikanervolk. Die oueres en die nuwere geleerdes het hulle diensbaar gestel binne die volksgeledere. Hulle het die eie samelewing nie verlaat nie, maar daar ’n tuiste gesien en gevind. Daarmee is bereik ’n oorwinning van die gees, en die oorwinning van die gees het, soos altyd, as nasleep gehad oorwinning op elke terrein van die lewe.

 

Die snelle opbou sedertdien op kulturele en politieke gebied, en op ekonomiese gebied in ’n bietjie latere stadium van die volk, en die hele groei van die Afrikanerdom as ’n beskaafde volk wat tussen die wêreldvolke sy hoof hoog kan hou, was die resultaat van die toewyding van die jong geleerdes van daardie tyd. Die universiteit het sy kinders behou en hulle aan die volk teruggegee waar hulle hul vroeër weggespeen het. So het dit met die wenteling van die tyd gekom dat minstens die Afrikaanse universiteite die nouste bande met die Suid-Afrikaanse gemeenskap ontwikkel het. Vanaf ongeveer die jaar 1920 tot vandag het ’n ander periode ontplooi. Die strydtydperk was verby. Die oorwinning was behaal. Die generasies wat sou kom, was by voorbaat vir hul volk gered.

 

Nou het die universiteitsgeledere ’n periode binnegegaan van rustige bedenking; en van die toeëiening van die kennis van die wêreld, met tegelykertyd die bruikbaarmaking van daardie kennis vir die eie volk. Eie bydrae is gelewer tot die steeds vermeerderende kennis, beide van die wêreld daarbuite en met die oog op wat vir die eie Suid-Afrika nuttig was. Dit was ’n periode van rustige besinning, van rustige navorsing en opleiding, van vorentoe bou. So het reeds dertig, veertig jaar verbygegaan met dié opbouwerk van ons beskawing en kultuur as ’n nasie. In die tydperk was dit selfs makliker om as Afrikanergeleerde Afrikaner te wees as wat dit nou sou gewees het om af te speen. Nou is diegene wat hulle volk verlaat het, veroordeel; nou is diegene wat in hulle volksinrigtings gebly het en daaraan hulle lewe toegewy het, geëer. Nou kon uit die universiteite die leiers van die volk op elke terrein van die lewe stam, want die universiteit en die volk was één, soos dit behoort. En hulle het één gebly.

 

Daarmee is bereik dat nie net enkelinge deur studie verryk is nie, maar die kennis het ongemerk oorgegaan op die hele samelewing wat also kultureel verhef is. Soos eenmaal gesê is, sodoende het feitlik die hele gemeenskap homself aan sy eie skoenveters opgelig. Maar die tydperk gaan verby. Die tydperk van rus gaan verby. Ons het gekom aan die begin van die toekoms — ’n toekoms nie rustig vir die geleerde soos die onlangse verlede nie, maar ’n toekoms van geweldige ommekeer. In die wêreldgeskiedenis kom daar elke paar honderd jaar — soms duur die tussenposes drie-, vierhonderd jaar, en eenkeer was daar selfs ’n duisend jaar van rus of doodsheid of duister tussenin — ’n geestelike herlewing, byna ’n rewolusie. Soms is dit ’n gebeurtenis wat maak dat dié omwenteling kom, waarna alles nuut skyn. Dit is asof ’n skielike skoonsnit tussen een periode en ’n ander voorkom.

 

Ons staan nou weer voor ’n geskiedkundige keerpunt, ja, selfs miskien aan die begin van die allergrootste skielike omwenteling wat daar nog ooit was op die gebied van kennis en van ontwikkelinge op elke terrein van die lewe. Ons praat terugskouend van die Renaissance as ’n oplewingsperiode met geweldige ontwikkeling. Ons sien die Franse Rewolusie as die begin van ’n geweldige omwenteling op verskillende gebiede in die geskiedenis van Europa. As ’n mens reg oordeel, dan was egter niks wat toe gebeur het so groot, so vinnig, so wêreldomvattend, so indrukwekkend as die veranderinge wat nou voorlê en wat u moet belewe nie. Niks was so rewolusionêr ten opsigte van kennisvermeerdering, volkereskommelings, en wat dies meer sy, as die veranderinge wat blykbaar gaan kom nie. Niks was groter, eienaardiger, nuwer, skieliker as die krisisse oral wat ons meen voorlê nie. Ons staan, so dink almal, aan die vooraand van ’n geskiedkundige periode byna ongekend in die geskiedenis van die mensdom vanweë sy omvang en sy moontlikhede.

 

Waar dikwels vroeër vorentoe nie gesien was dat ’n nuwe tydperk ingelui sou word nie, daar kan ons dit vandag sien. Ons kan selfs nie miskyk wat voorlê nie. Die geweldige veranderinge op die gebied van kennis op elke terrein sal egter nie vir u, vandag se jong mense, elke keer soos ’n donderslag kom nie. Moenie dink dat u wat gaan gebeur altyd as iets eienaardigs sal ervaar nie. Ons verwagting is te helder en ons het al te gewoond geword aan die onmoontlike. Die weerstandsvermoë van die menslike gees is byna onbeperk. Die veranderinge soos hulle kom, sal waarskynlik by u verbygaan soos iets wat doodgewoon is. Dit is alleen wanneer die geskiedskrywers van later terugkyk op die periode dat hulle sal sien dat wat u self miskien nie genoeg raaksien as groot veranderinge nie, werklik geweldig was.

 

Daarom sê ek weer: die veranderinge wat nou plaasvind en nog gaan kom, sal u nie elke skoot soos donderslae tref nie, en miskien sal u selfs so gewoond word aan verandering dat u die betekenis daarvan vir die mensdom nie sal agterkom nie. Maar die behoefte aan behoorlike aanpassing bly nietemin belangrik. As ’n mens daaraan dink dat die groot wisselinge in die verlede, die groot toename van kennis, gewoonlik versprei was oor tientalle jare, soms oor eeue, maar dat net soveel nou soms saamgepers word in ’n jaar of ’n paar jaar, dan word besef watter soort periode ons binnegaan en eintlik al besig is om te deurlewe. Vroeër was die veranderinge beperk tot een of twee kontinente. Nou raak dit die hele aardbol. Dit is ook op elke terrein wat ’n mens veranderinge tegelykertyd sien.

 

Die mens is nie meer tevrede om langsaam gordyne voor die verborgenheid weg te skuiwe nie. Met haastige hand, met ongeduldige oog, skeur hy alle bedekkings voor die verborgenheid weg, omdat hy alles wil weet en wil sien wat hy nie ken nie. Op die terrein van die gewone dinge van die daelikse lewe vind geweldige veranderinge plaas. Die veranderinge sal mettertyd al groter en groter word. Nou al verander die gewoonste dinge van ’n mens se daelikse lewe en omgewing, byvoorbeeld jou meubels en jou huis, en die veranderings strek uit tot die simbole van die gees: die beeld en die boek. Byna geen week gaan verby nie of daar is iets nuuts om toe te voeg tot wat jy leer en ken. Navorsers is oor die hele wêreld gesaai en besig om alle bedekkings weg te skeur van wat ons nie weet nie. Dit gebeur nie net op elke terrein van die normale kennisvakke, kennisgebiede nie. Die oneerbiedige hand van die mens strek hom uit na die ruimtes. Nie langer is die mens net die ontdekkingsreisiger in sy eie omgewing nie — nie eers sy groter omgewing, hierdie aardbol nie.

 

In hierdie atoomeeu word die mens, en wil hy wees, die ontdekker van wat ver in die ruimte lê. Sy hand en sy oog tas na wat hy in die verlede net aan kon dink. Hy wil nie net bereken nie; hy wil nie net raai nie; hy wil sien; hy wil daarheen gaan, na die maan en die sterre. So gaan dit ook op ander terreine van die menslike lewe wat ons beskou het as lewensverborgenhede. Die mens wil sy eie wese nie eers ongehanteerd laat nie. Oor die geheime van geboorte, oor die bepaling van geslag, hou die mediese wetenskap hom besig. Hy wil alle siektes oorwin; hy self wil die lewe verleng, ja, probeer dit selfs skep. Niks stuit die menslike gees vandag skynbaar meer in sy soektog nie.  Wanneer die toekoms al so meebring die soort soek na kennis — verder en verder, haastig, sonder geduld — daar moet dit ook ons eie denke oor diepere lewenswaarhede beïnvloed. Dit gryp in op ons lewensbeskouings.

 

Die mens se filosofie op elke terrein waarop die denker beweeg, sal verander. Dis dus nie net ’n mens se daaglikse gedrag nie, nie net sy lewensgewoontes nie, maar ook sy lewens- en wêreldbeskouings wat aangetas gaan raak deur alles wat op elke terrein van die wetenskap en kennis gesoek word en verkry word. Die nuwe tyd gryp in tot in die diepste van die mens se wese. As toegegee word dat al hierdie veranderinge so sal plaasvind, dan ontstaan die vraag wat die universiteit hiermee te doen het. Die antwoord moet dan wees: alles, want die universiteit staan in die midde van dit alles. Die universiteit is dié een instelling in ons samelewing wat hierdie vermeerderende kennis self moet opneem en verwerk en meedeel. Dit is sy doseringstaak; die universiteit tree op as leermeester. Maar hy wat kennis opneem en weergee, is nie net ’n argief van kennis nie, dog ook ’n verwerker daarvan. Hy is wel die mededeler — hy dra oor — maar wat hy oordra, vorm steeds die fondament waarop die volgende steen gebou word, naamlik die uitbreiding van die kennis. Die universiteit is nie net die mededeler, die oordraer en die doseerder nie, maar ook die navorser. Hy is self die soeker na nuwe wysheid en meerdere kennis. Sy studente is trouens daar nie in die eerste plek net om kennis te vergaar nie, maar om geleer te word hoe om kennis te vermeerder. Selfs daarmee is die taak van die universiteit nog nie voleindig nie. Ek het al tevore gesê dat hy ’n vormingstaak het, en dit geld veral met die oog op daardie nuwe wêreld wat so-ewe geskets is. Die universiteit moet die mens van vandag vorm vir die wêreld wat kom.

 

Ons wat spruit uit die verlede, moet ander vorm vir die onberekenbaar groter toekoms. Kan die universiteit dit doen? Hy móét dit doen, want as hy dit nie doen nie, wie anders? Die universiteit wat sy doseringstaak, sy navorsingstaak en sy vormingstaak het, het daarna nog die grootste taak van alles. Dit is om te sorg dat te midde van die woeling en die verandering, die geloof in sekere ewige waarhede altyd behoue sal bly. Want te midde van wat so nuut is, bly sekere ewige waardes en ewige waarhede staan. Die universiteit moet sorg dat die geloof van die mens behoue bly, dat die verkryging van kennis sy ankers nie aan hom ontruk nie, waardeur hy ’n dobbertnde skip sou word op oneindige waters waar hy geen hawe van rus en geen heil sien nie. Die universiteit self moet waar hy help skep, ook behoudend wees, ’n anker wees en die anker van die geloof gee. Maar hy moet nog iets doen: hy moet ook die anker van die volksgebondenheid gee. Hy moet kan sorg dat met die jeug van vandag, wat in daardie nuwe toekoms die kennisdraers en die kennismakers sal wees, nie gebeur wat met die jeug van ons volk in die sewentigerjare gebeur het nie.

 

Deur nuwe kennis verblind, moet hulle nie dieselfde fout begaan om te dink dat daar ’n ,,breedheid van gees”, ’n ,,liberalisme”, ’n ,,wêreldwysheid” by hulle moet wees wat vir hulle in ’n wêreldgemeenskap tuis sal laat voel, maar nie in hulle eie volksgemeenskap nie. As dit die resultaat van enige nuwe kennisontwikkeling moet wees, naamlik dat ons volk se jong mense hul eiesoortigheid verloor, dan is ons net weer waar ons in die verlede was, en is,... met al die slimmigheid, niks geleer wat die gemeenskap baat nie. Dan mag ons weer sê soos baie destyds gesê het: Kan die volk ooit voortbestaan? Maar toe het ’n wonder geskied — die wonder dat die jeug, die jong geleerde jeug, vir die volk behou is en die volk is gered.

 

Sal daardie wonder in ons toekoms nie nog waar bly nie? Te midde van alles wat gebeur, moet ons in die eerste plek lede van ons eie volk, ons eie nasie bly. Die universiteit is die liggaam wat daarvoor moet sorg. In hom moet daar kragte werk wat bande bind, wat die volk se jeug tot ’n eenheid saamsnoer sodat Suid-Afrika die toekoms gerus kan binnegaan en as staat behoue bly. Die jeug wat deur die wêreldwye roeringe gedenasionaliseer word, wat hom alleen tuis sal voel in die buitewêreld, maar nie in sy eie land nie, sal egter verlore gaan net soos dergelike persone nog altyd verlore gegaan het. So ook sal die volk wat nie in staat is om homself te handhaaf as een van die entiteite wat as sodanig iets te gee het aan ander nie, verlore gaan. ’n Volk hoef nie getalryk te wees om baie te kan gee, veral op die terrein van kennis en lewenswysheid nie. Dit is soms ’n klein volk wat die rneeste kan gee, want hy is nie soseer met selfsug behep soos ’n groter volk nie. Die groter volk met sy magstrewe kan soms minder tot diens van die wêreldgemeenskap wees as die klein volk sonder magstrewe, want die een is toegespits op eiebelang, soos magsvergroting, terwyl die ander toegespits is op diens.

 

Dit is waarmee ek wil afsluit en dit is my boodskap vandag: Mag die geleerde jeug van Suid-Afrika en sy universiteite te midde van hierdie geweldige toekomsontwikkeling altyd verknog bly aan hulle volk, al is hy klein, en juis daarin dié kans sien vir groot diens, en mag hulle altyd vasgeanker bly aan sekere ewige waarhede wat ons lewe sin en waarde gee. Dan het ons ’n bydrae te lewer aan die mensdom en die lewe. Dan het ons universiteite hulle plig gedoen deur ons reg te vorm. (Alle beklemtonings is van DV.)

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie