Jona 2:1-10 “Die wat nietige afgode vereer, verlaat die Een wat vir hulle goedertieren is.” (:8).
Geliefdes, ek dink nie dat ons onsself Jona se situasie kan indink nie. Koud, nat, benoud. Oomblikke vantevore was hy benoud dat hy sou sterf net voordat hy van ‘n skip af in die see gewerp is. En nou het hy nog gelewe, maar hy het seker gedink dat dit net ‘n kwessie van tyd was voordat hy sou sterf. Hy kon sekerlik wonder waarom die HERE hom nie net laat sterf het sodat die angs van die dood nie so uitgerek sou wees nie. En sekerlik het hy gemengde gevoelens gehad. Hy was sekerlik enersyds dankbaar dat sy lewe gespaar is. Maar andersyds het hy seker gewens dat sy weg na die dood nie so uitgerek sou wees nie. Daar waar hy hom binne in die ingewande van die vis bevind het, het hy tog sekerlik geen vooruitsig van lewe meer gehad nie? Maar daar waar Jona in sy benoudheid sit, dink hy oor sy lewe, geliefdes. Hy dink oor die verkeerde besluite wat hy geneem het wat tot sy benarde situasie aanleiding gegee het. Hy dink aan sy ongehoorsaamheid aan die HERE. En hy ervaar die eensaamheid en angs wat laasgenoemde vir hom tot gevolg het.
Dit is hartseer dat ons ook, soos Jona, gewoonlik eers aan ons verkeerde besluite en ongehoorsaamheid aan die HERE begin dink wanneer ons die gevolge daarvan begin ervaar, geliefdes. Ja, terwyl dit met ons goed gaan, is daar min tyd waarin ons ons besluite en die rigting van ons lewens voor die HERE in oënskou neem. Dit is eers wanneer ons die hartseer, angs of eensaamheid van daardie ongehoorsaamheid aan die Woord van die HERE begin ervaar dat ons begin wonder waarom ons nie meer deel het aan die goedertierenheid van die HERE nie. Dit is wanneer ons alleen voel en wonder waarom die HERE ons dan verlaat het dat ons besef dat Hy nie die een is wat ons verlaat het nie, maar dat ons eerder van Hom weggedwaal het, geliefdes.
Hierdie baie algemene verskynsel is ongelukkig ook waar in die geskiedenis van ons Afrikanervolk se lewe. Ja, in benoudheid sit ons uitsigloos in ‘n situasie wat eintlik totaal verregaande is wanneer ‘n mens daaroor dink. En boonop lyk dit ook asof hierdie situasie vir ons volk onomkeerbaar is. Dit lyk ook asof die enigste onsekerheid wat bestaan die tydsverloop tot ons einde is, geliefdes. En dan wonder ek of ons as ‘n volk darem al by die punt is waar ons met eerlikheid soos Jona terug dink aan die besluite wat ons gemaak het wat ons in hierdie situasie laat beland het? Sien ons al daardie ongehoorsaamheid aan die stem van die HERE raak of is ons nog regverdig in ons eie oë? Beskou ons nog ons omstandighede as ander se skuld of blote verloop van die lewe – “toeval” – soos sommig dit sal noem?
Geliefdes, die HERE bring die boodskap deur die mond van Jeremia duidelik tot sy volk dat hulle benoude omstandighede nie deur “toeval” veroorsaak is nie. “Jou wandel en jou handel het jou dit aangedoen; dit is jou boosheid; ja, bitter is dit, ja, dit raak tot aan jou hart.” (Jer. 4:18). Die HERE het ook deur die mond van Jesaja dit duidelik aan die volk gestel dat hulle ongehoorsaamheid aan Hom vir hul ernstige gevolge sou inhou. “SO sê die HERE: Waar is tog die skeibrief van julle moeder waarmee Ek haar verstoot het? Of wie is daar van my skuldeisers aan wie Ek julle verkoop het? Kyk, weens jul ongeregtighede is julle verkoop, en weens jul oortredinge is julle moeder verstoot.” (Jes. 50:1). Ons omstandighede word nie gewoon deur “toeval” veroorsaak nie. Só ‘n siening is ‘n absolute ongelowige lewensbeskouing wat ontken dat God by magte is om enige situasie te kan verander. Dit is ‘n ontkenning van ‘n fundementele waarheid uit die Woord van die HERE. “KYK, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.” (Jes. 59:1&2).
Geliefdes, mag ons as ‘n volk ook in ons situasie besin en onsself die vraag afvra hoedat ons in hierdie uitsiglose en benoude toestand in ons Vaderland beland het. En mag ons met eerlikheid erken en raaksien hoedat ons ongehoorsaamheid aan die Woord van die HERE hierdie situasie en omstandighede vir ons teweeggebring het. Hierdie insig sal tot gevolg hê dat ons situasie nie meer vir ons uitsigloos en verlore lyk nie, want ons sal hierdeur opnuut leer om die HERE raak te sien. En wanneer ons Hom raaksien, sal ons ‘n toekoms sien, ons sal hoop sien. Ons sal sien dat daar vir ons geen hoop en geen toekoms is by enige van die nietige dinge van hierdie wêreld waarin ons so maklik ons hoop stel nie. Maar ons sal besef dat ons toekoms, ons hoop en ons heil alleen by Hom is wat vir ons goedertieren is.
Ek sluit af deur u daaraan te herinner dat die HERE die lewe van Jona gespaar het, geliefdes. En dit het Hy nie gedoen omdat Jona verdienstelik was nie. En ook nie omdat Hy vir Jona tog so nodig gehad het om tot die inwoners van Ninevé te gaan preek nie. Maar omdat Jona ‘n uitverkore werktuig in Sy Hand was en daar nog vir hom ‘n doel in God se Raadsplan bestaan het. Hoe kosbaar was die uiteinde dan ook nie van Jona se terugkeer tot God en sy gehoorsaamheid aan die opdrag van die HERE van daardie punt af nie! En daarom wil ek vir u noem dat daar dalk ‘n rede is waarom dit nog nie heeltemal gedaan met ons volk is nie, geliefdes. Natuurlik nie omdat ons so verdienstelik is nie. En ook nie omdat God ons as ‘n volk só besonders liefhet dat Hy oor ons verleë is om Sy Raadsplan tot uitvoer te bring nie. Maar dalk is daar ook nog ‘n heerlike taak wat op ons volk in die toekomstige Raadsplan van die HERE wag – mag ons dit ook met gehoorsaamheid uitvoer, geliefdes!
Amen.