Luk. 2:41-55
“En Hy het saam met hulle gegaan en in Násaret gekom, en Hy was hulle onderdanig. En sy
moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar. En Jesus het toegeneem in wysheid en
grootte en in genade by God en die mense.”
Die Here Jesus Christus het nie alleen tydens Sy lewe hier op aarde aan ons kom leer hoe
ons God moet gehoorsaam nie, maar Hy het ook deur Sy lewe en optrede vir ons die
voorbeeld gestel. Ja, soos wat ons in hierdie gelese gedeelte vanoggend weer van Jesus se
gehoorsaamheid aan die Vader se gebooie lees. Hy stel ook in Sy lewe as kind die voorbeeld
van eerbied teenoor Sy aardse ouers deur aan hulle onderdanig te wees. “...en Hy was hulle
onderdanig.” (Luk. 2:45). En só lees ons ook dat Hy in genade by God toegeneem het.
Geliefdes, Christus tree nie disrespekvol teenoor Sy ouers op wanneer hulle Hom oor Sy
optrede aanmaan nie. Hy begin nie in reaksie hierop teen hulle rebelleer nie. Hy stel dit nie
dat Hy die bewerker van die nuwe verbond is en dat die wet van God soos in die Ou
Testament aan ons gegee nie op Hom van toepassing is en nie onderhou hoef te word nie.
Hy stel dit nie aan Josef en Maria dat Hy deur God tot Koning verhef is en aan geen mens
onderdanig hoef te wees nie. Inteendeel, Christus se onderwerping aan die ouerlike gesag
wat hier op aarde oor Hom gestel was, stel dit tog vir ons duidelik hoe ontsettend hoog
hierdie gesag in God se oë geskat word. As Hy wat die Seun van God is, gelykgestel met
God, Homself aan hierdie gesag onderwerp het – hoeveel te meer behoort ons nie ook
hierin aan God gehoorsaam te wees nie!
Ons lees in Exodus 21:15&17 dat die straf van ‘n mens wat God in hierdie gebod
ongehoorsaam is dieselfde is as die straf wat ‘n persoon ontvang wat moord gepleeg het!
“En hy wat sy vader of moeder slaan, moet sekerlik gedood word. “ (:15). “En hy wat sy
vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word.”(:17). Ja, geliefdes, dit getuig van die
erns van die misdryf in God se oë. Ja, ook wanneer ons kyk na die teendeel hiervan, sien
ons hoe belangrik hierdie gebod in God se oë is. Hy stel dit nie alleen dat ‘n mens wat
hierdie gebod oortree God vertoorn nie, maar ook dat Hy ‘n baie groot behae in die
onderhouding van hierdie gebod het. “KINDERS, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in
die Here, want dit is reg. Eer jou vader en jou moeder — dit is die eerste gebod met 'n
belofte — sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.” (Efés. 6:1-3).
Ja, kinders. Die samelewing waarin julle grootword met sy televisie-/internet programme
leer julle dalk dat “ou mense” agter die tyd is en niks weet nie. Julle dink wel nie daaraan
dat bykans al die goedjies wat julle lewe daagliks soveel makliker maak deur hierdie “ou
mense” uitgevind en vervaardig is nie, né? Hulle is dalk nie so dom en onbeholpe as ‘n mens
so daaraan dink nie. En jy sien en hoor dalk by jou maatjies of by die skool hoedat ander
kinders met min tot geen respek en eerbied teenoor hulle ouers optree. En omdat “almal
dit doen”, dink julle dat dit maar reg is. Sou jy ook duisende jare gelede dan maar saam
geskreeu het – “kruisig Hom!” – omdat almal daardie dag dit gedoen het? Ons is dalk vinnig
om te antwoord – “Maar natuurlik nie. Ek is lief vir God. Ek sou nie daaraan deelgehad het
nie.” Indien jou liefde vir God opreg is, is jy ook nie veronderstel om Hom te beledig deur
oneerbiedige en disrespekvolle optrede teenoor jou ouers nie. Ja, sulke optrede is ook ‘n
belediging vir God. Dit is ook om saam met die wêreld Hom te hoon en op Hom te spuug!
En dit is gewoon in totaliteit vir ‘n kind van God nie aanvaarbaar nie.
Ouers, dit is ook gewoon nie aanvaarbaar dat julle kinders toelaat om God hierin te vertoorn
nie. Julle het die verantwoordelikheid om julle kinders in die vrees van die Here op te voed.
“En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning
van die Here.” (Efés. 6:4). Onthou dat die gesag wat u ontvang het ‘n gesag is wat van God
kom. Dit beteken dat die krag daarin ver bokant ons begrip lê wanneer u dit reg aanwend!
“LAAT elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen
mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen
die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel
ontvang.” (Rom. 13:1&2). Gebruik hierdie mag en gesag wat God in u hand gestel het in
nederige diensbaarheid aan Hom.
Geliefdes, dit is tog glashelder dat die toekoms in ons land nog groot uitdagings gaan
aanbring. Ons wil tog nie ons kinders soos slagskape daarin stuur om in angs en
Godverlatenheid wanhopig te vergaan nie. Ons wil tog ‘n nageslag sien met wie dit goed sal
gaan, ‘n nageslaag wat die toekoms met God aan hul sy tegemoetgaan en lank mag lewe en
die land bewoon wat ons van ons voorouers as erfenis ontvang het. Laat ons op God se
raad in hierdie verband ag gee terwyl ons nog die geleentheid het. En laat ons hierdie
kosbare skat met ons kinders deel! “Eer jou vader en jou moeder soos die Here jou God jou
beveel het, dat jou dae verleng mag word en dat dit met jou goed mag gaan in die land wat
die Here jou God aan jou gee.” (Deut. 5:16).
Amen.