1 Sam. 16:1-13
“Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.” (:7).
Geliefdes, hierdie kosbare les uit die Woord van God moet ons dalk meer gereeld in ons dae hoor. Ja, die mens van ons tyd wat so maklik met dit wat voor oë is, bekoor word. Hierdie ydelheid en oppervlakkigheid het tot gevolg dat die mense met baie geld deesdae diegene is wat aansien geniet. Dit is die mense wat in leiersposisies en posisies van mag beland – ongeag of hulle bekwaam is en oor die wysheid hiervoor beskik al dan nie.
Hartseer genoeg is dit ongelukkig waar dat hulle geen liefde of vrees vir God het nie, maar hulle het darem baie geld en groot aansien! En só oppervlakkig het die mens geword dat dit nie eens saak maak hoe ‘n persoon hierdie groot rykdom verwerf het nie. Ja, selfs rykdom deur goddeloosheid en oneerlikheid verwerf is vir die mens van vandag so bekoorlik dat dit hom geheel verblind. En tog wonder ons waarom die wêreld in ons tyd in soveel chaos, verval en verwarring verkeer. Die Here stel dit tog vir ons duidelik in Lukas 6:39 dat dit katastrofies sal wees! “En Hy het vir hulle ‘n gelykenis uitgespreek: ‘n Blinde kan tog nie ‘n blinde lei nie! Sal hulle nie altwee in die sloot val nie?” Ons moet as gelowige kinders van God daarteen waak om nie deur hierdie ydelheid van hierdie wêreld bekoor te word nie, geliefdes. Ons behoort nie in hierdie sondige en ydele lewenswandel ingesleep te word nie. Nee, ons behoort nie daarna te streef om ons grootheid en rykdom vir ander ten toon te stel om hul bewondering vir ons te bewerk nie.
God het daarin geen behae nie! “Hoogheid van oë en trotsheid van hart – die glans van die goddelose is sonde.” (Spr. 21:4). Wanneer ‘n mens dit doen, geliefdes, wil hy die eer op homself vestig in plaas daarvan om die eer aan God te laat toekom. En God het hierin geen behae nie. Hy het ‘n behae daarin wanneer ons dít wat Hy in ons hande gestel het op so ‘n wyse aanwend dat Hy daardeur die eer sal ontvang. Ja, Hy het ‘n behae daarin dat ons Hom moet dien met dit wat Hy in ons hande gestel het en dit nie moet gebruik tot ons eie verheffing nie. Luister maar na die groot behae wat God in Salomo gehad het met sy versoek dat God hom sou help om dit wat God in sy hande gestel het op die regte wyse te bestuur. “Toe sê God aan Salomo: Omdat dít in jou hart gewees het, en jy nie rykdom, skatte en eer en die lewe van jou haters of selfs ‘n lang lewe begeer het nie, maar wysheid en kennis vir jou begeer het om my volk waaroor Ek jou koning gemaak het, te kan regeer – daarom word dié wysheid en dié kennis aan jou gegee. Ek sal jou ook rykdom en skatte en eer gee soos die konings wat voor jou gewees het, nie gehad het nie, soos ná jou nie sal wees nie.” (2 Kron. 1:11&12). Wanneer ons God in opregtheid liefhet, sal ons wil doen wat vir Hom behaaglik is, geliefdes. Ons sal daarna streef om Hom te beïndruk eerder as om die mense en die wêreld te beïndruk. En God word nie deur die oppervlakkige dinge soos die rykdom van hierdie wêreld beïndruk nie. Hoe groot jou rykdom is, is vir God van min belang. Hy sal egter wel ag gee op watter wyse u daardie rykdom bekom en op watter wyse u daardie rykdom aanwend. En hiervan sal Hy van u rekenskap vra. Ja, luister maar na Christus se woorde in Lukas 12:19-21:”En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees? So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.” Ja, u posisie van groot aansien in die samelewing sal God nie beïndruk nie. Maar hoe u in hierdie posisie optree, sal wel God se belangstelling wek. Hy sal wel eendag van u rekenskap hiervan afeis.
Geliefdes, hoe beoordeel ek en u mense in ons tyd? Ons wat onsself God se kinders noem – ons behoort mos ‘n behae te hê in die dinge waarin ons Vader ‘n behae het en ‘n afsku te hê van daardie dinge waarvan Hy ‘n afsku het. Word ons deur mense met baie geld beïndruk? Word ons deur mense se sukses en aansien beïndruk? Tel kosbare dinge soos opregtheid, eerlikheid, nederigheid, getrouheid vir ons meer as verganklike en oppervlakkige dinge soos rykdom en weelde? Indien ons antwoord op laasgenoemde nie onomwonde ‘n “ja” is nie het ons ook rede tot dringende selfondersoek geliefdes. “MY broeders, laat julle geloof in onse Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, nie wees met aanneming van die persoon nie. Want as daar in julle vergadering ‘n man inkom met goue ringe aan die vingers, met ‘n pragtige kleed aan, en daar kom ook ‘n arm man in met vuil klere aan; en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit – het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie?” (Jak. 2:1-4). Geliefdes, mag ons vandag opnuut besin oor dit wat in hierdie lewe waarlik kosbaar is en waardevol is. Ja, mag ons opnuut besef dat ons rykdom in Christus veel groter is as wat enigiets in hierdie lewe ons kan bied. Ja, mag ons strewe na rykdom nie wees volgens die voorbeeld van hierdie wêreld nie, maar volgens die voorskrif van God se Woord in Openbaring 3:18: “Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.”
Amen.