1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7037348

Besoekers aanlyn

Ons het 39 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

DIE AARDE BEHOORT AAN DIE HERE – EN DIE VOLHEID DAARVAN!

BybelPs. 24:1-10

“…Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; want Hý het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome.” (:1&2).

Hoe mooi is hierdie belydenis van Dawid nie, geliefdes – ‘n opregte erkenning van die heerskappy van God oor alle dinge. Ja, en soveel mooier word hierdie belydenis wanneer ons God se Woord bestudeer en dieselfde belydenis raak lees wat deur ander gelowiges en diensknegte van God gemaak is.

Soos wat Dawid hierdie belydenis gemaak het, hoor ons ook deur die mond van Moses hierdie belydenis. “Kyk, aan die Here jou God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is.” (Deut. 10:14). Moses het hierdie belydenis selfs ook voor ‘n heidense koning, die Farao van Egipte, gemaak. “…sodat u kan weet dat die aarde aan die Here behoort.” (Ex. 9:29). En Paulus weerhou homself ook nie daarvan om in sy brief aan die gemeente van die Korinthiërs hierdie belydenis te maak nie. “Want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan.” (1 Kor. 10:26).

 

Hoe kan daar enige twyfel oor hierdie saak wees wanneer dit soveel male bevestig word? ‘n Saak staan vas, dit is onbetwisbaar die waarheid, in die mond van twee of drie getuies. “…In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan.” (2 Kor. 13:1). En so bevestig God die waarheid van hierdie saak in die mond van verskeie getuies. Ek wonder hoeveel mense in ons tyd nog werklik aan hierdie waarheid glo? En wat my laat wonder, geliefdes, is die optrede van mense. Ja, die mens van ons tyd wat leef asof daar geen God is nie – asof ons nie eendag voor Hom gaan staan om verantwoording te doen oor ons lewe en optrede hier op aarde nie. Ja, oor die manier waarop ons Sy Skepping behandel het nie. En Sy Skepping sluit ander mense en ook myself en my eie lewe in.

 

Dit alles behoort aan Hom – die aarde EN DIE VOLHEID daarvan. Ons sien deur die mens se optrede sy minagting vir God. Hy wat vir ons leer van ‘n kuise huwelikslewe tussen man en vrou soos wat dit deur God geskape is. En daarenteen word verhoudings van dieselfde geslag

aangemoedig en selfs deur owerhede “gewettig”. God se Woord wat moord verbied, maar tog sal owerhede aborsies “wettig” verklaar. En dergelike dinge van dieselfde aard sien ons oraloor. Daardie optrede sê tog eintlik “God, ons glo nie dat U heerskappy voer oor die aarde nie – ons sal volgens ons vleeslike begeertes handel.”

 

Geliefdes, ons sien ongelukkig nie net hierdie minagting van God in wêreld heersers se optrede nie. Dit is ongelukkig ook onder gewone mense sigbaar – ja, selfs kerkmense. Wanneer ‘n mens luister na die gesprekke wat sommige mense voer en die begeertes wat hulle nastreef, wonder ‘n mens menigmaal of hierdie mense hulself aan God se heerskappy onderwerp. Wanneer ons kyk na mense se versuim om hul verantwoordelikhede na te kom, wonder ‘n mens of hierdie mense werklik aan God se heerskappy oor hul lewens glo. Hoeveel mans sien ons vandag wat al mooi groot is en selfs pappas is wat nog tot laatnag sit en “playstation” speel terwyl hul kinders ‘n gebrek het aan ‘n goeie kennis van God? Is dit hoe ‘n man optree wat homself onderworpe aan God se gesag beskou? Sal God tevrede wees met jou werk as jy ure van jou lewe op sulke nuttelose snert spandeer het en jou kind se siel verlore gaan omdat hy nie na behore opgevoed is in die jare waarin God hom/haar in jou hande toevertrou het nie? Ek verstaan nie so uit God se Woord nie, geliefdes.

“En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” (Efés. 6:4). God leer ons om die tyd uit te koop, geliefdes en nie op sinnelose gemors te verspil nie. “en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.” (Efés. 5:16). Wanneer ons luister na die verhoudinge tussen mense wonder ons ook waar die agting vir God se heerskappy oor alles is. Is dit nie so dat God vir ons as hoogste van die gebooie stel dat ons Hom en daarnaas mekaar moet liefhê nie, geliefdes? “En die skrifgeleerde sê vir Hom: Goed, Meester, U het met waarheid gesê dat God een is en daar geen ander is as Hy nie; en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers.” (Mark. 12:32&33).

Wanneer ons dan hierdie gebod van naasteliefde agter ons rug werp, sal ons met reg kan sê dat ons werklik vir Hom agting het en Sy heerskappy oor alles, ook my eie lewe, erken? Is ‘n versuim van hierdie gebod nie ook maar ‘n ontkenning van my onderwerping aan God se heerskappy nie, geliefdes? Ja, is dit nie selfs ‘n teken van my gebrek aan liefde vir God self nie? “As iemand sê: Ek het God lief — en sy broeder haat, is hy 'n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.” (1 Joh. 4:20&21).

 

Dit is dalk nodig dat ons ook vanoggend besin oor die boodskap wat ons lewens uitstuur, geliefdes. Is dit ‘n boodskap van die erkenning van God se gesag oor die ganse heelal en ook oor my eie lewe, of is dit ‘n boodskap van minagting van God en ‘n ontkenning van Sy

gesag? Dit is nie nodig dat u hierop antwoord nie, geliefdes. U lewe sal die antwoord hierop wees. Ja, soos met die liefde kan die antwoord van die mond bedrieglik wees, maar die antwoord deur optrede verklap altyd die waarheid! “My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.” (1 Joh. 3:18).

Amen.

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie