SKOKKENDE WAARHEID OOR ANC’S SE PROSPEKTEERREGTE
2010-11-20 21:55
Mnr. Popo Molefe is die voorsitter van Chancellor House. Foto: Frank Rousseau
Julian Rademeyer, Jacques Pauw en Andrew Trench
Die ANC se omstrede belegging- en geldwerwingsfront, Chancellor House, het ’n winsgewende aandeel in die stormloop na Suid-Afrika se minerale rykdomme bekom.
Kritici verdoem dit as ’n skokkende botsing van belange. Rapport het vasgestel Chancellor House Mineral Resources, ’n filiaal van Chancellor House Holdings, het die afgelope ses jaar regte bekom om op 560 plekke in die Noord-Kaap, Noordwes en Mpumalanga te prospekteer. Aansoeke om op nog 400 plekke te prospekteer word deur die departement van minerale en energie oorweeg. Uit ondersoeke blyk dit ook dat prominente lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) direkte belange in mynboumaatskappye het, waarvan sommige dosyne prospekteerregte bekom het. Onder hulle is die party se tesourier-generaal, Mathews Phosa, adjunkministers Ebrahim Ebrahim en Ayanda Dlodlo, die speaker van die Nasionale Vergadering, Max Sisulu, die voormalige spioenbaas Billy Masetlha, die sakeman Cyril Ramaphosa en me. Thenjiwe Mtintso, Suid-Afrika se ambassadeur in Italië.
Die besonderhede van die toekenning van prospekteerregte word vervat in ’n departementele databasis met 1,5 miljoen inskrywings. Ons ontleding van die departement se syfers wys vir die eerste keer waar die regerende party se prospekteerregte is. Dié onthulling kom te midde van ’n hewige debat oor die potensiële nasionalisering van myne en die ANC se aankondiging die afgelope week dat hy twee senior navorsers en ’n projekbestuurder aanstel. Hulle moet “suksesvolle modelle wat die rol van die staat in mynbou oorweeg” ondersoek. Chancellor House se uitvoerende hoof, mnr. Mamatho Netsianda, het geweier om die kwessie te bespreek. Mnr. Peter Leon, ’n mynbouwetgewing-deskundige en voorsitter van die Internasionale Regsvereniging se mynbouregkomitee, sê dit is “baie problematies dat die staat prospekteerregte aan die beleggingsfront van die regerende party toegeken het”.
“Die staat behoort nie Chancellor House of die regerende party van sakegeleenthede te voorsien nie. Dit is oneties, dit is ’n konflik van belange en is niks anders nie as voortrekkery. Daar moet ’n duidelike skeiding tussen die staat en private sakebelange wees en in hierdie geval vervaag dit.” ’n ANC-woordvoerder, mnr. Brian Sokutu, het Vrydag gesê: “Chancellor House is ’n geregistreerde besigheid wat ingevolge die Maatskappyewet gestig is en het die reg om soos enige ander maatskappy handel te dryf.
“Daar is geen belangebotsing nie en mense hoef nie bekommerd te wees nie.” Met verwysing na die betrokkenheid van senior NUK-lede by mynbou het Sokutu gesê: “Indien ’n NUK-lid nie ’n regeringsposisie beklee nie, is daar niks wat hom of haar verhoed om besigheid te doen nie. Daar kan egter ’n probleem wees indien daardie person ’n senior staatsdiensamptenaar of ’n minister of adjunkminister is.”
Dr. Koos Pretorius, mynboukenner en direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing, ondersoek die toekenning van prospekteerregte aan Chancellor House. “Dit lyk asof die departement weer eens die hele proses gestoomroller het en prospekteerregte toegeken het sonder dat grondeienaars en belanghebbende en geaffekteerde partye behoorlik geraadpleeg is.” Die wet bepaal uitdruklik dat grondeienaars en geaffekteerde partye in kennis gestel moet word van die voorneme om op hul grond te prospekteer. Daarna moet breedvoerig met hulle oorleg gepleeg word. Pretorius sê die prospekteerregte aan Chancellor House is problematies. “Hierdie maatskappye hoop om uiteindelik hul regte aan ’n ander maatskappy te verkoop en om in die proses ’n hoop geld te maak. Chancellor House is waarskynlik geen uitsondering nie.”
Mnr. Frans Baleni, algemene sekretaris van die invloedryke National Union of Mineworkers (NUM), sê hy is nie gekant teen die regerende party of NUK-lede wat belange in mynbou het nie. Maar hy is bekommerd dat “jy invloedryke mense daar kan kry wat dalk nie ’n bydrae kan lewer tot die bedryf nie en basiese aspekte soos menseregte kan verontagsaam”. “Die kwessie hier is regverdigheid. Het hulle die regte soos enige ander persoon gekry? In ’n geval waar iemand sy posisie misbruik, kan dit baie negatiewe gevolge inhou en die beeld van mynbou skaad,” sê Baleni.
Die ANC-jeugliga is ook om kommentaar genader oor die potensiële botsing van belange, maar die woordvoerder van die liga, mnr. Floyd Shivambu, het gesê dié vraag is “dom”. Hy sê hy is nie bekommerd dat die ANC se mynbelange dié organisasie sal verhoed om ’n onafhanklike oordeel te vel oor die oproepe van die jeugliga om myne te nasionaliseer nie. “Dis ’n dom argument. Enigiemand wat meen dat Chancellor House se mynbelange ons besluit sal beïnvloed, is ’n dwaas.” Die Chancellor House-groep van maatskappye, wat genoem is na die gebou waarin mnre. Nelson Mandela en Oliver Tambo hul regsfirma in die 1950’s gevestig het, is in 2003 gestig. Dié maatskappy fokus veral op minerale en energie. Die bestaan van Chancellor House is in 2006 vir die eerste keer aan die lig gebring. Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) en die Mail & Guardian het toe onthul dié maatskappy is deur die ANC se tesourier-generaal, mnr. Mendi Msimang, gestig as ’n sakefront vir die ANC.
Die maatskappy se enigste aandeelhouer is die Chancellor House Trust. Die voormalige premier van Noordwes en lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, mnr. Popo Molefe, is die voorsitter. Die ISS-verslag sê Msimang het reeds in 2002 verteenwoordigers van die destydse departement van mineraal-en-energiesake genader om toekomstige sakegeleenthede vir Chancellor House te beveilig. Die ISS het ook onthul dat die regering toe reeds mineraalregte vir mangaan aan Chancellor House?en ’n Russiese oligarg, mnr. Viktor Vekselberg, toegeken het. Daar was verdere omstredenheid oor Chancellor House toe dit midde-in die elektrisiteitskrisis bekend geword het dat hy ’n 25%-aandeelhouding het in Hitachi Power Africa, die maatskappy wat deur Eskom aangestel is om stoomketels vir twee nuwe kragsentrales te voorsien.
In Februarie 2008 het die nuwe tesourier-generaal van die ANC, mnr. Mathews Phosa, aangekondig dat Chancellor House “onmiddellik” sy aandeel in Hitachi Power Africa gaan verkoop. Dis drie jaar later en die ANC het steeds nie sy aandeel verkoop nie. Dit het die afgelope week bekend geword dat Chancellor House ’n groot steenkoolmyn in Swaziland gekoop het, wat weer eens kritiek ontlok het dat die maatskappy voordeel trek uit die nasionale energiekrisis.