
Vanoggend gooi Radio Pretoria weer alle redelikheid oorboord, nee, doen die waarheid geweld aan, wanneer hy die ATKV in sy nuuskommentaar geluk wens met sy 85ste bestaansjaar.
Die kommentaar se slotsom is: “Die uitbou van ’n genotvolle en populêre Afrikaanse lewe, waar diepte nie ontbreek nie, kenmerk steeds die ATKV se aktiwiteite. Dit is ’n plesier om die ATKV hartlik geluk te wens.” Die spulletjie nou aan die roer by die radiostasie moet seker dink die Afrikanervolk is onnosel. Deur eers in die kommentaar 'n relaas te gee oor die mooi ontstaansgeskiedenis en die groot rol wat die ATKV in die georganiseerde Afrikaner-kultuurlewe gespeel het. Maar niks te vermeld van die feit dat die ATKV se kultuurteiken die Afrikanerspoorwegwerker was nie, maar veral dat die ATKV sy taak nie gesien het sonder Christelike, dit is Protestantse, doelwitte nie. Vandag is die ATKV weinig meer as 'n klub vir uitgelese onder alle mensegroepe en alle gelowe. In sy bestuur is Kleurlinge opgeneem. Van sy lede is Moslems. Die ATKV het inderdaad niks meer geword as 'n reis- en verblyfklub vir sy lede uit 'n multi-kulti-bedieningsgebied nie. Die “diepte” en “populêre Afrikaanse kultuurlewe” waarna Radio Pretoria in sy slotsom verwys, wat kan dit dus wees? Die vlakkant van die ATKV se swembaddens en Kleurlinge soos Emo Adams wat by sy oorde optree?
Dat Radio Pretoria onder die bestuur van die Solidariteit-kader Sizwe Spies 'n jeukerigheid ontwikkel het vir die woord “Afrikaner” was voorspelbaar, daarom wek die sinsnede “populêre Afrikaanse kultuurlewe” nie eintlik verbasing nie. Want Radio Pretoria is soos die ATKV besig om die Afrikanervolk agter te laat. Kom ons kyk hoe 'n briefskrywer aan 'n koerant op 4 Junie 2010 verwikkelinge in die ATKV beskou het en dan probeer u puntjie by paaltjie bring wat die nuuskommentaar wat daarop volg betref:
ATKV MOET SÊ OOR ANDER GELOWE:
Ons word daagliks met onwaarhede gepeper en sal dit waardeer as die ander kant van die verhaal ook nou en dan verskyn. My probleem is met mnr. Van Schoor van die ATKV, wat so ewe vroom Christelike waardes bysleep.
Ek het my lidmaatskap aan die ATKV onlangs beëindig, na korrespondensie aan hul bestuur (prof. Gouws). Hulle het die ATKV se deure oopgegooi vir Moslem-lede, wat sekerlik hulle reg is om te doen.
My probleem egter is dat hulle dit in die donker doen, en ewe skynheilig in die openbaar hul onverbloemde Christelikheid verkondig. Op 'n vraag aan prof. Gouws hoe hy Christelikheid versoen met die oopgooi van die ATKV vir ander gelowe, was sy antwoord basies aanvaar dit so of bedank, wat ek dan ook gedoen het.
Prof. Gouws, Van Schoor en ander soos hulle moet net vir 'n slag eerlik met ATKV-lede wees en hulle meedeel dat die ATKV ontaard in 'n mengelmoes van vreemde gelowe, ten einde lede in staat te stel om te besluit oor voortgesette lidmaatskap al dan nie. Hou net asseblief op met die skynheiligheid.
Die nuuskommentaar:
Op 19 Augustus 1930 is die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging in Kaapstad gestig. Die eerste leiers was mnre. Sybie van der Spuy as voorsitter en HJ Kamerman as sekretaris. Die agtergrond was die ekonomiese ellende onder Afrikaners, ook die Armblanke vraagstuk genoem. Dié vraagstuk was nie net ’n ekonomiese probleem nie, maar ’n veranderende wêreld wat Afrikaners op die mees grondliggende maniere denkbaar, ontwrig het. Kennis hiervan kweek bewondering vir die ATKV se aktiwiteite tot vandag.
Laat in die negentiende eeu het ’n Afrikanerbewussyn regoor Suid-Afrika posgevat. Dit is deur die sukses van die Boererepublieke gevoed, maar het ook veel by die meer welvarende en gekultiveerde Kaapse Afrikaners gebaat. Hierdie opkoms is wreed deur die Tweede Vryheidsoorlog gestuit. Tienduisende Afrikaners is op slagvelde en in konsentrasiekampe dood en honderdduisende is deur die taktiek van verskroeide aarde verarm.
Voor die oorlog het ’n armoedeprobleem reeds kop uitgesteek. Afrikaners was tradisioneel boere en onwillig om ander beroepe te beoefen. Teen daardie tyd het grond skaars geword en opleiding vir ander beroepe was uiters beperk. Dit was reeds ’n probleem wat die leierskorps hoofbrekens besorg het.
Die oorlog van 1899 tot 1902 het nie net welvaart uitgewis nie, maar ook die bronne waaruit selfrespek en trots dikwels spruit. Die vier kolonies en later die Unie van Suid-Afrika was onder die Britse vlag en ’n owerheid wat vasbeslote was om Afrikaners in lojale Britse onderdane te omskep. Die beperkte onderwysgeriewe was ’n magtige wapen in die owerheid se hand en het jong Afrikaners op twee maniere benadeel: Moedertaalonderrig is van hulle ontneem, wat vordering negatief beïnvloed het en boonop is hulle dikwels weens hulle identiteit verneder.
Afrikaners, wat toenemend myn- en industriële werkers was, het deel van ’n Suid-Afrikaanse proletariaat geword. Die gaping tussen hierdie werkers en geleerde, meer welvarende Afrikaners, het al groter geword. Engelssprekende werkers het die kultuur van ’n goed georganiseerde werkersklas saamgebring, wat Afrikaners verwelkom het – maar binne ’n vanselfsprekend Engelse verband. Dat Afrikanerwerkers sosiaal en kultureel in ’n Engelse werkersklas kon opgaan, was ’n wesenlike moontlikheid.
Teen 1930 het Afrikaners grotendeels die beheer oor Suid-Afrika oorgeneem. Generaal Hertzog en die Nasionale Party het sedert 1924 die land met ’n leuse van “Suid-Afrika Eerste” regeer. Die ekonomie het gegroei en Afrikaners is van die bedelstaf gered, veral deur groot werkgewers soos die Suid-Afrikaanse Spoorweë en – Hawens. Die sosiale en kulturele agterstand het egter bly staan.
Die groot wysheid van die ATKV was dat politieke mag, finansiële vooruitgang en selfs kulturele oplewing onder die elite, nie ’n volk kan red as gewone werkers vir hulle identiteit skaam is nie. Kulturele aktiwiteite van die ATKV was op algemene en genotvolle deelname gemik. Oorde, soos Hartenbos, is tot stand gebring, sodat Afrikaners tussen hulle eie mense op spontane wyse kon ontspan. Afrikanerskap moes hulle koppe hoog kon hou. Die Simboliese Ossewatrek van 1938 was ’n inisiatief van die ATKV.
Die uitbou van ’n genotvolle en populêre Afrikaanse lewe, waar diepte nie ontbreek nie, kenmerk steeds die ATKV se aktiwiteite. Dit is ’n plesier om die ATKV hartlik geluk te wens.