As ek sê, skiet die Boer, dan beteken dit nie skiet die Boer nie was Malema se verweer.
Kaapstad. – Regstellende aksie soos dit nou toegepas word, was nie die bedoeling van die skikking tussen die ou bedeling se leiers en die ANC nie.
Dít is een van die punte wat oudpres. FW de Klerk maak in ’n nuwe boek oor regstellende aksie wat die vakbond Solidariteit gister hier bekend gestel het. Dr. Dirk Hermann, Solidariteit-bestuurshoof, het die boek geskryf. Regstellende trane: Waarom verteenwoordigendheid nie gelykheid is nie, is bekend gestel terwyl ’n belangrike toetssaak oor die departement van korrektiewe dienste se regstel-beleid in die arbeidshof aan die gang is. Onderhoude is ook gevoer met oudministers soos Pik Botha en Mangosuthu Buthelezi, IVP-leier.
De Klerk het gesê die beste manier van regstellende aksie is om gelykheid te bevorder deur in goeie onderwys te belê en werk te skep. “Regstellende aksie moet aangepas word om nie so rassisties te wees nie.” Botha het gesê as die ANC aangedring het op die bepalings van die Wet op Gelyke Indiensneming soos dit tans toegepas word, sou daar nie ’n Grondwet gewees het nie. “Omdat ons die onreg van apartheid diep berou het, het ons ten tyde van die onderhandelinge stappe beoog om die agterstand en benadeling te herstel wat apartheid veroorsaak het. Maar ons het nie ingestem dat daar gekompenseer moet word vir die verlede se ongeregtigheid deur die skep van ’n onreg tans nie.”
Buthelezi het regstellende aksie beskryf as Suid-Afrika se onopgeloste nasionale vraagstuk. “Wanneer regstellende aksie diskrimineer, het ons dalk ’n situasie wat met die gees van die Grondwet bots.”