1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9519580

Besoekers aanlyn

Ons het 117 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

HY WIL ONS OORTREDINGE VAN ONS WEGNEEM

BybelMiga 7:1-20:“Wie is ‘n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het ’n welbehae in goedertierenheid. Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede
vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.” (:18&19).
Inderdaad kan ons saam met die profeet Miga vra – “Wie is ’n God soos U?”. ’n God wat vir
niks van enigiemand afhanklik is nie, maar Hom tog tot die mensekind wend en hom
opsoek. Hy wat só verhewe is in Sy grootheid en krag dat ons verstand die omvang daarvan
nie kan verwerk of begryp nie, maar tog ag Hy die mens nie as ’n nietigheid nie. “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is
die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel:”. (Ps. 8:4-7).
 
Geliefdes, die HERE dink nie alleen aan die mens nie – Hy is ons ook barmhartig en genadig en ontferm Hom oor ons. Hy sit nie in Sy heiligheid en verhewenheid en wag net totdat ons oortree om ons dan vir daardie sonde te straf nie. Tewens, Hy waarsku ons in Sy liefde en barmhartigheid teen die sonde en die dodelike gevolge daarvan en vermaan die mens om dit te vermy en daarmee uit sy lewe weg te doen. “... Bekeer julle en wend julle af van al julle oortredinge, sodat dit nie 'n struikelblok tot ongeregtigheid vir julle mag wees nie.
 
Werp al julle oortredinge waardeur julle oortree het, van julle af weg en maak vir julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees; want waarom wil julle sterwe, o huis van Israel? Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE. Bekeer julle dan en lewe.” (Eség. 18:30-32). En ten spyte van Sy heiligheid verwerp Hy ons ook nie terstond die oomblik wanneer ons sondig nie. Nee, in barmhartigheid en liefde vergeef Hy ons menigvuldiglik. Hiervan getuig Moses in sy pleitrede vir Israel voor God in die woestyn. “Die HERE is lankmoedig en groot van goedertierenheid, wat die ongeregtigheid en oortreding vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie, wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag. Vergeef tog die ongeregtigheid van hierdie volk na die grootheid van u goedertierenheid, en soos U hierdie volk van Egipte af tot hiertoe vergewe het. Toe sê die HERE: Ek vergewe, volgens jou woord.” (Núm. 14:18-20).
Daar hoef derhalwe by ons geen twyfel te bestaan dat vergewensgesindheid deel is van die karakter en wese van God nie. Ons moet egter nie die vergewensgesindheid van God verkeerd interpreteer nie. Die feit dat God ons sonde vergeef, maak die sonde nie vir een oomblik aanvaarbaar nie. Sonde bly ’n verskriklike vergryp van ’n mens en ’n ontsettende verkeerde handeling teenoor God. Miga
getuig nie alleen van God se vergifnis nie, maar ons kan uit sy woorde in verse 18&19 ook God se houding jeens sonde duidelik sien. Die sonde is iets uiters verwerplik wat ver van Sy kinders weggeneem moet word – in hierdie geval in die diepte van die see gewerp moet word. Ja, daar waar dit nooit weer opgehaal of herwin kan word nie.
 
Luister ook na die woorde van Ps. 103:11&12. “Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” Ons is geneig om in hierdie Psalm alleen te fokus op die barmhartigheid van God en die feit dat Hy nie ons sonde ewig teen ons hou nie, maar
dat Hy ons vergeef. En dit is waar. Maar ons moenie die verdere waarheid hierin mis kyk wat ewe kosbaar is nie. Sy barmhartigheid en liefde vir ons is só geweldig dat Hy nie alleen vergeef nie, maar dat Hy ook ons sonde van ons wil wegneem – heeltemal weg. Ja, so vêr as moontlik moet daardie sonde van ons weggeneem word sodat ons dit nie sal koester en daarin sal bly nie. Ja, het Johannes die Doper nie ook duidelik in hierdie verband getuig nie?
 
“Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”. Hy roep nie hier uit na die Lam van God wat die sonde vergewe nie, maar méér as dit geliefdes – Hy wat die sonde wegneem. En is dit nie vir ons ook duidelik uit Christus se handeling in die tyd toe Hy hier op aarde was nie? Dink maar aan die siek man in Betésda. Christus was hom genadig en het hom van sy siekte genees. Maar Hy gee ook aan hierdie man die opdrag om nie weer sy hand na die sonde uit te strek en dit nader te trek nie – nee, verwyder dit ver van jou af! “Daarna het Jesus hom in die tempel gekry en vir hom gesê: Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” (Joh. 5:14). En die getuienis in Jesaja 55 in hierdie verband is ook baie duidelik dat God inderdaad menigvuldiglik vergeef, maar dat Hy van die mens verwag om van die sonde afstand te doen.
 
“Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” (Jes. 55:7). Hoe kosbaar is dit nie om te weet dat God nie alleen ons sonde vergeef nie, maar dat Hy ook
die sonde van ons wil wegneem. En ons het ook ’n verantwoordelikheid in hierdie verband geliefdes. Ons kan nie vergifnis verwag indien ons ons sonde probeer wegsteek of ontken nie, want dit is die teenoorgestelde as om daarmee weg te doen. Wanneer ons die sonde wil wegsteek of ontken, wil ons daardie sonde koester en dan is daar nie vir ons vergifnis nie.
 
Maar wanneer ons ons sonde erken en bely, gee ons toe en erken ons teenoor God dat dit nie iets is wat in ons lewens tuishoort nie. Ons erken en bely dat daardie sonde iets is wat uit ons lewe verwyder moet word – iets waarteen ons moet stry eerder as dat ons dit probeer beskerm of koester. En met só ’n gesindheid van ootmoedigheid teenoor Hom kan ons genade en barmhartigheid verwag om nie alleen vir ons oortredinge vergewe te word nie, maar om ook deur die krag van die Heilige Gees daardeur verlos te word. “AS ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.” (1 Joh. 1:8-10).
 
Geliefdes, laat ons met vrymoedigheid tot die troon van genade gaan in die wete dat God begeer om ons oortredinge te vergewe. Maar laat ons ook onthou dat Hy ons nie alleen wil vergeef nie, maar dat Hy ook begeer dat ons die sonde uit ons lewe sal wegwerp. En mag ons harte vir Hom wat ons liefhet en menigvuldiglik vergeef lewend wees en terselfdertyd vir die begeerte na die sonde morsdood wees. “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan
sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.” (Rom. 6:11&12).
Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie