Fil. 3:1-21:“VERDER, my broeders, verbly julle in die Here. Dit is vir my nie lastig om dieselfde dinge aan julle te skrywe nie, en dit gee julle sekerheid.” (:1).
Dit is duidelik dat Paulus meermale die gemeentes oor hierdie saak onderrig het, nl. ons blydskap in die HERE. Ons sien ook sommer weer in die volgende hoofstuk waar Paulus hierdie saak weer ‘n keer aanroer. En weereens herhaal hy hierdie opdrag wat die belangrikheid van hierdie saak onderstreep. “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” (Fil. 4:4).
In Fil. 3 word hierdie opdrag gevolg met Paulus se relaas teen die godsdienstiges van sy tyd wat met groot ywer en tradisie - maar sonder die regte gesindheid en liefde - hul godsdienstigheid beoefen. En Paulus was eens deel van hierdie groep godsdienstiges, maar na sy bekering het hy tot die insig gekom dat die ware diens aan God veel meer as net gewoontes, reëls en tradisies is. Die ware Godsdiens vereis ook van die mens om God met die regte gesindheid en met opregtheid te dien. “Opreg moet jy wees met die Here jou God.” (Deut. 18:13). ’n Gesindheid van swaarmoedigheid, dwang en eenvoudig onderhouding van reëls uit vrees vir straf of bloot uit gewoonte is vir God nie welbehaaglik nie.
Hierdie opdrag van God aan die mens is nie eers in die tyd van Paulus as ‘n “nuwe insetting” aan ons gegee nie, geliefdes. Hierdie opdrag is alreeds regdeur die Ou Testament sigbaar. Luister na God se woorde in Exodus 20:6. “en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.” Aan wie bewys Hy barmhartigheid – hulle wat Hom slaafs met ’n swaarmoedige hart gehoorsaam of aan hulle wat Hom liefhet en derhalwe ook met die regte gesindheid gehoorsaam en dien? Gehoorsaamheid is een ding, maar die gesindheid van hierdie gehoorsaamheid loop hand-aan-hand hiermee. Dit is verder vir ons benadruk wanneer Christus die belangrikheid hiervan aan die wetgeleerde verduidelik in Matt. 22:36-40. “Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele
wet en die profete.”
In 1 Kor. 13 sien ons verder dat ons die allerbeste vertoon in die lewe kan probeer maak, maar sou die regte gesindheid by ons ontbreek, is hierdie godsdiens vergeefs. “AL sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ’n klinkende metaal of ’n luidende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.” (1 Kor. 13:1-3).
Geliefdes, ons lees ook in Deuteronómium 28 wat oor die seëninge en vervloekinge van God handel dat nalating om God met vreugde te dien ongehoorsaamheid aan Hom is wat nie ligtelik opgeneem word nie. Luister na die woorde uit Deut. 28:47&48. “Omdat jy die HERE jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie, sal jy jou vyand wat die HERE teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en in naaktheid en in gebrek aan alles; en hy sal ’n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou verdelg het.” En in die baie bekende Psalm 100 staan daar in vers 2 geskryf – “Dien die Here met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel.” Wanneer ons in Handelinge 2 van die wonderlike gebeure van die uitstorting van die Heilige Gees lees waar duisende mense ook tot bekering gekom het, word hierdie gesindheid van blydskap weereens pertinent genoem. “Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drieduisend siele toegebring.” (Hand. 2:41).
En is blydskap nie ook ‘n vrug van die Gees waarvan ons in Gal. 5 lees nie, geliefdes? “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Gal. 5:22). Dit is belangrik dat ons verstaan dat hierdie toestand van blydskap nie ’n wêreldse en oppervlakkige vriendelikheid of opgewektheid is wat die skyn van geluk het nie. Hierdie blydskap as vrug van die Heilige Gees is ’n blywende toestand en eienskap wat gevorm word uit tevredenheid in God, geliefdes. Hierdie blydskap is iets wat ons nie net in tye van voorspoed ervaar nie, maar wat vir die ware gelowige ook in tye van beproewing en teenspoed ’n werklikheid is. “...ek loop oor van blydskap in al ons verdrukking.” (2 Kor. 7:4).
Hierdie blydskap is om ons vreugde in hierdie lewe in Hom te vind eerder as om te poog om ons vreugde in hierdie lewe in verganklike dinge soos rykdom, plesier en genot, sukses, eer en dergelike dinge te probeer vind. Hierdie blydskap in God is om in Hom vergenoegd te wees en nie naas Hom na enigiets te soek waarin ons eerder of beter of groter vreugde of blydskap kan vind nie. En dan verstaan ons die harde woorde uit Deut. 28 baie beter aangesien dit vir ons duidelikbehoort te wees dat ons God beledig in ons soeke na ’n groter of beter vreugde rondom of buite Hom.
Geliefdes, mag ons deur hierdie woorde van God vandag opnuut tot stilte gebring word om te besin oor die aanwesigheid of afwesigheid van hierdie blydskap van God in ons Godsdiens en in ons lewens. Dit is geen geringe saak nie. En mag ons die wêreld met sy verganklike dinge die rug keer op dieseldfe wyse as wat Christus dit tydens Sy versoeking in die woestyn gedoen het om gedurig ons aangesig te rig en ons hand uit te strek na die onverganklike blydskap in God. En mag ons Hom die eer aandoen deur ’n lewe wat getuig dat daar vir ons geen illusie van ’n groter of beter vreugde is as dit wat ons in Hom alleen kan vind nie. Ja, mag ons gehoorsaamheid aan Hom met ’n opregte hart vir ons die grootste vreugde in ons lewens wees.
“Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerhande rykdom. En ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet, en my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink.” (Ps. 119:14, 47&48).
Amen.