2 Kor. 12:1-10:“En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in my swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.” (:10).
As jy nou na ’n mooi voorbeeld van ’n paradoks soek, is hierdie ’n goeie opsie –“...want my krag word in swakheid volbring.” En dan word dit boonop in die volgende vers op ’n effense ander wyse herhaal – “...as ek swak is, dan is ek sterk.” Die herhaling is vir ons ’n beklemtoning van die waarheid – hierdie waarheid wat juis as ’n paradoks aangebied word sodat dit sal tref en ons hierin moet delf om by die kosbare skat wat daarin opgesluit is uit te kom.
Hierdie verskynsel vind ons ook in Filippense 4:13 waar ons die oënskynlike teenstrydigheid dalk nie dadelik so duidelik raaksien nie. “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Nou waar is die teenstrydigheid hierin? Maak die tweede gedeelte van hierdie vers die fokus of beklemtoning, nl. “...deur Christus wat my krag gee.” (eerder as die eerste gedeelte wat ons almal seker geneig is om te doen) en dan sal die teenstrydigheid soos ’n lig deur ’n skrefie begin skyn. Ek is tot alles in staat deur ’n krag wat nie my eie is nie? Hoe kan ek tot enigiets in staat wees sonder enige merkwaardige krag van my eie? Of, as dit nie mý krag is nie, is dit dan ék wat daartoe in staat is? Nou sien ons ten minste die teenstrydigheid in hierdie vers beter.
Dit is juis hierdie kosbare gedeelte uit Filippense 4:13 wat vir ons ’n sleutel is om die kosbare skat uit Korinthiërs 12 oop te sluit. Wanneer ons die gedeelte uit Fil. 4:13 lees en ons fokus is gerig op “Ek is tot alles in staat...” sal ons by ’n heeltemal ander eindpunt kom as wanneer die tweede gedeelte die fokuspunt is. Wanneer ons hierdie gedeelte lees en ons fokus is op die eerste gedeelte van die vers, sal ons maklik in die strik van die Satan trap wat ons tot onverskilligheid sal probeer verlei met ’n valse versekering dat ons Christus in ’n lewe van eiesinningheid agterna kan sleep wat op ons opdrag en aandrang moet reageer omdat ons dan mos enigiets kan regkry deur ons bevele na Hom te gee.
’n Verkeerde fokus skep by ons die verkeerde gedagte dat onsself die god is en God die dienskneg in ons lewe is terwyl ’n suiwer fokus tot gevolg het dat ons God in Sy verhewenheid aanskou en onsself as onderdanige, gehoorsame kinders voor Hom. Onthou, Satan het God se woorde ook gebruik toe hy vir Adam en Eva versoek het. Hy het selfs God se Woord aangehaal toe hy vir Christus in die woestyn versoek het. Adam en Eva het hul fokus deur sy misleiding van God na hulself laat verskuif en so voor die versoeking geswig terwyl Christus met ’n vaste fokus op God die Satan telkens op sy misleiding gewys het en sodoende die versoeking kon weerstaan. En daarom is dit só belangrik om te verseker dat ons suiwer en met opregtheid met God se Woord omgaan.
Geliefdes, kom ons kyk nou na die eindpunt wanneer ons fokus op Fil. 4:13 verskuif na waar dit behoort te wees – “...deur Christus wat my krag gee.” Ewe skielik vloei my eie selfversekerdheid soos water uit my weg. En nou staan ek in ootmoedigheid, swakheid en afhanklikheid voor Hom. Maar tog, só groot en oorweldigend is hierdie krag van Hom dat dit my besiel en versterk in die wete dat daar niks is wat hierdie krag van Hom kan oorweldig nie. Daarenteen is daar soveel dinge in hierdie lewe wat my kan oorweldig. Hierdie krag van Hom is soveel beter as my eie. Ek kan as Sy kind op hierdie krag van Hom staatmaak om my staande te hou! En deur hierdie krag van Hom in my lewe word Hy verheerlik. En hierdie heerlikheid kom Hom ook toe omdat dit Sy krag in my is en nie my eie nie.
Nou maak die woorde van Korinthiërs 12 soveel meer sin – “...Want as ek swak is, dan is ek sterk.” Ek wil graag vir u ook ’n paar voorbeelde uit die Woord voorhou wat hierdie begrip verder by ons versterk. Wanneer God vir Josua as Moses se opvolger toespreek, verseker Hy vir Josua dat niemand voor hom sal standhou nie. En dan maak God dit duidelik wat die Bron van hierdie oorweldigende krag van Josua sal wees. “Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie.” (Jos. 1:5).
Sy sekerheid en krag lê nie in sy goeie krygsvernuf nie. Dit lê nie in sy ervaring in die lewe of die bystand van sy ondersteuningstruktuur of krag van sy volk nie. Sy sekerheid lê in God en in Sy krag. En in hierdie krag van God het Josua dan ook die volk Israel volgens God se Woord die beloofde land laat erwe. ’n Ander kosbare voorbeeld wat ek graag aan u voorhou is die een van Gídeon waarvan ons in Rigters 6 lees. “En die Engel van die HERE het aan hom verskyn en vir hom gesê: Die HERE is met jou, dapper held! Toe vra Gídeon Hom: Ag, my heer, as die HERE met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom? En waar is al sy wonders waar ons vaders ons van vertel het, deur te sê: Het die HERE ons nie uit Egipte laat optrek nie? Maar nou het die HERE ons vewerp en ons oorgegee in die hand van die Midianiete.
Toe draai die HERE na hom toe en sê: Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie?” (Rigt. 6:12-14). Wanneer ons na Gídeon se verslae en moedelose antwoord luister op God se groet van “dapper held” voel ons asof dit beslis net God is wat hierdie man se dapperheid kon raaksien. Maar juis hierin was Gídeon se krag – sy soeke na oplossings deur na God te vra en nie op sy eie vermoë of planne te steun nie. En in hierdie toestand waar Gídeon van steun op sy eie krag gestroop is – in stille ootmoedigheid – kom God se krag duidelik na vore. En dan sien ons later hoedat Gídeon wéér ’n proefneming doen met die wolvlies en God bid om bevestiging dat hy die opdrag voor hande reg verstaan.
Hierdie gebeure bevestig vir ons sy erns en opregtheid met God en die sekerheid wat hy wou verkry dat hy nie uit sy eie hart en oortuiging of uit eie krag optree nie, maar dat hy in opdrag van God handel. Daarom dat God ook nie op hom toornig geraak het met hierdie versoek van hom wat meer as eenmaal herhaal is nie – omdat hierdie oefening van Gídeon op selfondersoek gerig was en nie op ’n ondermyning van God se opdrag nie. Tewens, hy wou juis sekerheid verkry dat hy God nie deur sy optrede minag nie. Daar is tog soveel voorbeelde waarna ons kan kyk, geliefdes. U kan gerus na Hebreërs 11 verwys na die geloofshelde wat hier gelys word – mense wat in ootmoedige gehoorsaamheid en vertroue op God se krag telkens die “onmoontlike” vermag het – nie omdat hulself verhewe bo ander sterflinge was nie, maar omdat hulle juis nie op hul eie krag gesteun het nie, maar in diensbaarheid aan God is die verhewe krag van God wat in hulle gewerk het ten toon gestel.
Ek sluit vir u af met ’n laaste voorbeeld – natuurlik die lewe van onse Here Jesus Christus. Satan het tydens die versoeking in die woestyn alles in die stryd gewerp om Hom oor te haal om op Sy eie krag te steun – “...sê dat hierdie klippe brode word.” En dan probeer hy Hom oorhaal om van die tempel se dak te spring en die opdrag tot God te gee om engele te stuur om Hom te red. En na hierdie versoeking in die woestyn was dit nie die laaste nie – hierteen moes Hy stry totdat Hy eindelik aan die vloekhout kon uitroep – “Dit is volbring!”. Maar kort voor hierdie woorde uitgespreek is, het die Satan nog ’n laaste poging aangewend om Hom daartoe oor te haal om op Sy eie krag te steun en so die tentoonstelling van God se krag en Sy verheerliking te verhoed. “En die soldate het Hom ook bespot en gekom en vir Hom asyn gebring en gesê: As U die Koning van die Jode is, verlos Uself.” (Luk. 23:36&37). ’n Koning is mos nie só magteloos nie? En ten spyte daarvan dat hierdie beproewing tot op die spits gedryf is en Hy gevoel het asof God Hom versaak het – steun Hy steeds nie op Sy eie krag nie. Hy roep hierdie magtelose kreet uit – “...Eli, Eli lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46). Dit wat daar ten aanskoue van die volk gebeur het, het sekerlik nie na die beste ten toonstelling van God se krag gelyk nie – so ’n toestand van verlatenheid, pyn, hulpeloosheid. ’n Inspanning van sekerlik die laaste liggaamskrag om uit te roep – “...Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.” (Luk. 23:46). En hierop volg ’n aardbewing, die voorhangsel van die tempel skeur in twee, rotse skeur en grafte gaan oop! En mense begin bely – “Waarlik, Hy was die Seun van God.” God se krag in Sy “swakheid” volbring. En daarna word God se krag weer ten toon gestel wanneer Hy uit die dode deur Hom opgewek word! En hierdie krag van Hom wat vandag nog, duisende jare hierna, in ons lewens openbaar word wanneer ons in ootmoed voor Hom leef en nie op ons eie krag steun nie, maar op die krag van Hom wat in ons leef.
Geliefdes, laat ons opnuut daarna streef om nie in ons eie krag nie, maar in die krag van God tot Sy verheerliking te lewe. “Want al is Hy gekruisig uit swakheid, lewe Hy tog uit die krag van God. Want ons is ook swak in Hom, maar ons sal saam met Hom vir julle lewe deur die krag van God.” (2 Kor. 13:4).
Amen.