1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
6364253

Besoekers aanlyn

Ons het 64 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

 

jacob zuma sing shoot the boer

 

Teken aan

Afrikaner

VRA ONS NA DIE HERE SE RAAD?

BybelJos. 9:1-27

“En Josua het met hulle vrede gemaak en met hulle ’n verbond gesluit, dat hy hulle sou laat lewe; en die owerstes van die vergadering het hulle dit met ’n eed beloof. Maar aan die einde van drie dae, nadat die verbond met hulle gesluit was, hoor die volk dat hulle in hul nabyheid en tussen hulle in woon. Die kinders van Israel het naamlik weggetrek en op die derde dag by hulle stede gekom; en hulle stede was: Gíbeon en Kefíra en Béërot en Kirjat-Jeárim. Maar die kinders van Israel het hulle nie verslaan nie, omdat die owerstes van die vergadering vir hulle gesweer het by die HERE, die God van Israel; die hele vergadering het toe teen die owerstes gemurmureer.” (:15-18).

Die gebeurtenis wat voor ons oë in die gelese gedeelte afspeel, lyk vir ons geweldig onregverdig. Hier kom ‘n afvaardiging vreemdelinge na Josua en lê hulle saak voor hom neer. Josua en die owerstes neem op grond van die inligting tot hulle beskikking ‘n besluit – ‘n besluit wat groot ongelukkigheid onder die hele vergadering van Israel sou veroorsaak. Ek en u sou maklik kon sê dat Josua en die owerstes moes eers te Here moes raadpleeg alvorens hulle die besluit geneem het, nie waar nie?

Ek en u kan maklik Josua en die owerstes van Israel se fout uit die gelese gedeelte raaksien. Maar hoe skuldig is onsself nie aan presies dieselfde misstap nie? Hoe dikwels raadpleeg ek en u as gelowiges die Here in opregtheid alvorens ons besluite neem? Hy maan ons om Hom vir hulp en raad te nader! “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” (Spr. 3:6). God wil as ons liefdevolle hemelse Vader vir ons raad en rigting in hierdie lewe gee. “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees. Wees nie soos ’n perd, soos ’n muilesel wat geen verstand het nie, wat ’n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.” (Ps. 32:8&9).

Die werklikheid vir die meeste mense is egter dat ons God eers wil opsoek wanneer ons die vrug van ons verkeerde besluite begin pluk. Ons wil dan by die Here murmureer oor die slegte toestand waarin ons onsself bevind. ‘n Baie praktiese voorbeeld sou wees wanneer twee jongmense mekaar ontmoet en besluit om ewige trou aan mekaar te beloof. Kyk maar hoeveel jongmense ook soos in die gelese gedeelte daardie besluit neem o.g.v. die inligting wat die ander party op daardie stadium aanbied. En dit kan soms baie selektief wees. ‘n Rukkie later moet ‘n mens hoor – “ja, maar die persoon was nie so voordat ons getrou het nie. Ek het hierdie of daardie nie van die persoon geweet nie.” Ons kan wel die kosbare les uit die gelese gedeelte leer dat dit niks verander het aan dit wat Josua en die owerstes beloof het nie. Hulle moes hul woorde gestand doen.  

Dit gebeur ook dat ons wel ‘n saak aan die Here voorlê, maar nie met ‘n opregte hart nie. Wanneer ek sê dat dit nie met ‘n opregte hart is nie, bedoel ek dat ons die Here bloot van die saak wil inlig. Ek het diep in my hart alreeds klaar die besluit geneem, maar ek weet darem dat ek eers hieroor moet bid - net om myself gerus te stel. Maar ongeag die antwoord of leiding van die Here sal ek steeds my eie koers inslaan. En ons maak presies dieselfde foute as die kinders van Israel van ouds, maar ons verwag ‘n ander uitkoms. Het die Here die gebeurtenisse uit hulle lewens nie juis vir ons in Sy heilige Woord behoue laat bly sodat ons daaruit kan leer nie? Ek wil as ‘n kosbare les u herinner aan die oorblyfsel van Israel wat na die ballingskap vir Jeremia gevra het om God te raadpleeg wat hulle te doen sou staan. God se raad aan hulle deur die mond van Jeremia was egter dat hulle rustig en met ‘n stil vertroue op Hom in die land sou bly. “As julle rustig in hierdie land bly, sal Ek julle bou en nie afbreek nie, en julle plant en nie uitruk nie; want Ek het berou oor die onheil wat Ek julle aangedoen het.” (Jer. 42:10). Maar hulle het reeds vooraf besluit dat hulle na Egipte sou aftrek om onder die koning van Egipte te probeer skuiling vind. Hulle wou bloot God se goedkeuring van hul plan hoor. En toe hulle dit nie kry nie het hulle steeds hul eie raad gevolg. “en hulle het na Egipteland getrek; want hulle het nie geluister na die stem van die HERE nie. …” (Jer. 43:7).

Ons besef dit dalk nie aldag nie, maar ons verwond God se vaderhart wanneer ons Hom nie vertrou nie. Ons doen Hom oneer aan. Ons gee eintlik deur ons optrede te kenne dat ons aan God se vermoë, krag en almag twyfel. Nog erger, ons gee te kenne dat ons God se karakter van liefde en omgee asook die feit dat Hy ons heil begeer in twyfel trek. En wat ‘n belediging is dit nie vir só ‘n heilige, barmhartige en liefdevolle God wat ek en U dien nie! Verdien Hy nie ons eerbied nie? “’n Seun eer die vader, en ’n kneg sy heer. As Ek dan ’n Vader is, waar is my eer? En as Ek ’n Heer is, waar is die vrees vir My? sê die HERE van die leërskare … “ (Mal. 1:6).

Mag die woorde van vandag se oordenking ons opnuut daaraan herinner dat ons lewens en ons toemkoms nie in ons eie hande is nie. En dat ons weg nie aan onsself toebehoort nie. “ Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.” (Jer. 10:23). En mag dit ons aanspoor om onsself daarop toe te spits om die genadige en liefdevolle leiding van ons hemelse Vader in opregtheid te soek en gehoorsaam na te volg, want Hy het daarin ‘n welbehae. “Mem. Deur die HERE word die gange van ’n man bevestig, en Hy het ’n welbehae in sy weg.” (Ps. 37:23).

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie