1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
4348695

Besoekers aanlyn

Ons het 28 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

 

jacob zuma sing shoot the boer

 

Teken aan

Afrikaner

KAN U DIE HERE RAADPLEEG?

Bybel1 Samuel 28:1-25

“En Saul het die HERE geraadpleeg, maar die HERE het hom nie geantwoord nie – nie deur drome en nie deur die Urim en nie deur die profete nie.” (:6).

Met die eerste oogopslag lyk God se optrede teenoor Saul ‘n bietjie onbillik. God leer ons dan dat ons Hom moet raadpleeg en wanneer koning Saul dit wél doen, antwoord God hom nie. Hoekom sou dit dan gebeur? Ons vind die antwoord hierop in verse 17&18 van die gelese gedeelte. “Die HERE het dan vir Homself gedoen soos Hy deur my diens gespreek het, en die HERE het die koningskap uit jou hand geskeur en dit aan jou naaste, aan Dawid, gegee. Omdat jy nie na die stem van die HERE geluister en die gloed van sy toorn teen Ámalek nie uitgevoer het nie, daarom het die HERE jou vandag hierdie ding aangedoen.”

Saul se aanhoudende eiesinnigheid het God se toorn teen hom laat ontvlam. Hoe lank sou hy God met sy ongehoorsaamheid tart terwyl die HERE Sy weersin aan eiesinnigheid en ongehoorsaamheid aan Hom in 1 Sam. 15:23 duidelik stel: ”Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.” Hierdie woorde is dalk harde woorde, maar geensins onduidelik nie. Hierdie was ook nie alleen ‘n boodskap vir koning Saul nie, maar dit geld steeds vandag vir elke ware gelowige. Wanneer ons weet wat die wil van die HERE is, maar ons verkies om steeds ons eie rigting in te slaan, ons eie kop te volg, is ons nie maar besig om die beeld (idee) wat ons eie maaksel is te dien nie? Ons is derhalwe met niks anders as afgodery besig wanneer ons eie wil, die eie ek, in ons lewens belangriker as gehoorsaamheid aan God in ons omstandighede is nie.

God se behae in nederige ootmoed word bevestig in Sy keuse van Saul se troonopvolger. ‘n Nederige skaapwagter wat allermins aan die standaard van ‘n staatsman voldoen, is toe presies ‘n man na aan God se hart. Allermins is Dawid se politieke insig, sy intellek of enige ander standaard vir God bepalend in sy keuse om hom aan te wys as koning oor God se uitverkore volk. Dit was Dawid se afhanklikheid van God, sy diepe en opregte innerlike strewe om God in sy handel en wandel tevrede te stel en aan Hom gehoorsaam te wees wat van hierdie Dawid ‘n man na aan God se hart gemaak het.

Ten einde binne God se wil te bly leef, het Dawid gedurigdeur na God se raad gevra in die besluite wat hy moes neem. “Toe raadpleeg Dawid die HERE en vra: ...” (1 Sam. 23:2). “Toe raadpleeg Dawid die HERE nog weer,...” (1 Sam. 23:4). “Laat my u goedertierenheid in die môre hoor, want op U vertrou ek; maak my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U.” (Ps. 143:8). En met teksverse met dieselfde strekking sal ek u die hele dag kan besig hou.

Is dit dan nie so dat ons in die gelese gedeelte dan juis lees dat Saul God ook geraadpleeg het nie? Inderdaad is dit die geval, maar die onderskeid tussen Dawid en Saul was dat Dawid God se raad in gehoorsaamheid nagevolg het terwyl Saul God se raad in die wind sou slaan. Saul het hiermee ‘n bespotting van God gemaak en moes daarom nie verbaas wees dat God hom aan sy eie lot oorgelaat het nie. “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Luk. 6:46). Die opvolgende teksverse in Lukas tref die vergelyking tussen ‘n wyse man wat luister na God se Woord en kan standhou in die storms van die lewe (Dawid). Daarteenoor word die onverstandige man gestel wat nie ag gee op die Woord van God nie (Saul) en deur die storms oorweldig word.

Menigmaal moet ons by God om redding pleit omdat ons ons eiesinnige idees gevolg het eerder as om Sy raad in te win of te volg. Ons lewe kan veel beter daaruitsien as ons sou leer om God te raadpleeg alvorens ons besluite neem in plaas daarvan dat ons eers wag totdat ons in moeilikheid beland deur ons verkeerde besluite en dan om hulp te roep.

Ondanks ons edele en opregte bedoelings, ons ywerige strewe en diepe begeerte om foutloos in gehoorsaamheid voor God te leef, struikel gelowiges ook maar dikwels. “Want ons almal struikel dikwels. ...” (Jak. 3:2). “AS ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.” As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.” (1 Joh. 1:8&10).

Die verskil in optrede tussen Dawid en Saul was dat Saul geweier het om sy sonde voor God te bely. Nadat God aan Saul meegedeel het van Sy teleurstelling in hom het Saul hom nie tot God gewend in diepe skulderkentenis en verootmoediging nie. Saul se trots was hiervoor te groot – hy was immers die koning van Israel. Hy kon dalk die koning van Israel wees, maar in God se oë was hy steeds maar net ‘n sterfling wie se trots skeiding tussen hom en God veroorsaak het. “...want U sien nie die persoon van mense aan nie – “ (Matt. 22:16). “En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.” (Hand. 10:34&35). “Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel ‘n gruwel: trotse oë . . .” (Spr. 6:16&17).

Saul was te trots om sy eiesinnigheid te laat staan ten einde homself met God te versoen. Die uiteinde van hierdie verkeerde weg wat hy ingeslaan het, was die dood. In sy weiering om hom voor God te verootmoedig, het hy desperaat van die een grashalm na die volgende gegryp totdat hy aan die voetsole van ‘n towerheks beland het. Daarenteen het Dawid telkens sy sonde en misstappe teenoor God erken en nadat hy dit bely het, het hy dit ook laat staan. Dink maar aan die verskriklike verkeerde optrede van Dawid in die geval van Batséba wat hy van haar man gesteel het. In plaas daarvan om sy skuld te ontken, bely Dawid sy ongeregtigheid voor God en smaak die seën van skuldvergifnis waarvan ons lees in 1 Joh. 1:9: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”

As u vandag besef dat u ook nie die vrymoedigheid het om God te raadpleeg nie is dit ongetwyfeld nodig om ondersoek in te stel na dit wat skeiding bring tussen u en Hom. Indien u waarlik berou het oor die ongeregtigheid waaroor u dalk só bitter skuldig voel en dit voor God bely, sal Hy ook ú sonde vergewe. As u dink dat u sonde te groot is of nie aan hierdie woord (1 Joh. 1:9) glo nie, maak u God tot leuenaar en moet u nie verbaas wees oor u vervreemding van Hom nie.

Dit is God se wil dat gelowiges hom sal ken in hul lewens en dat ons Hom deurgaans sal raadpleeg. Net soos wat enige ouer graag deel wil wees van sy kind se lewe en lewensbesluite, wil God ook as ons Vader ‘n werklikheid in ons lewens wees. Hy wil ook daagliks daarvan deel wees – nie net in krisistye nie. “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.” (Ps. 32:8). “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” (Spr. 3:5&6).

Ons as gelowiges sê maklik dat ons God met ons lewens vertrou. Ons bely dat ons God vertrou om ons siel in die hiernamaals uit die doderyk weg te ruk na ‘n lewe van heerlikheid in Sy teenwoordigheid. As ons Hom dan vertrou met ons sieleheil wat ewigdurend sal wees, hoeveel te meer kan ons hom nie vertrou in die verganklike lewe nie – of is dit dalk dat ons meer waarde aan die aardse lewe as aan ons ewige eindbestemming heg? Indien wél, het ons net soveel as Saul wat in ons lewens en verhouding met God reggestel moet word.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie