HALLELUJA 477: TER HERDENKING VAN 16 DESEMBER 1838
1. Loof die Heer van alle here,
Feesgenote, roem sy mag!
Nie onsself nie, Hom die ere
Vir verlossing hierdie dag!
Prys die Heer, verheug alom,
Loof sy trou, verheerlik Hom!
2. Woeste hordes van barbare,
Kom vol woede en geweld:
Kinders van die martelare
Lê gemartel op die veld,
Maar die Heer beslis hul saak,
Wreek die bloed, wat roep om wraak.
3. Prys Hom wat die smeekgebede
Van sy kinders steeds wou hoor:
Hy versterk die wank’le skrede,
Het die dwingeland verstoor.
Salig hy wat op Hom wag;
Wee die mens wat Hom verag!
4. Wat ons vaders U beloof het,
Wil ons, hulle kroos, betaal.
Deur hul kinderlik’ geloof het
U gered, so menigmaal.
Daarom word U lof en prys
Deur die nageslag bewys.
5. Is ons deur die bang verlede,
Heer, deur U ook swaar kasty,
Tans verrys ons dankgebede,
Word ons loflied U gewy,
Sien op ons in liefde neer,
Skenk ons rus en vrede, Heer!