Krugerdag - 10 Oktober 2015
“Die Republiek van Suid-Afrika (wat eertyds as blank Suid-Afrika bekend gestaan het) is die Afrikaner se land! Ons moet dit so hou: ter ere van ons voorgeslag en in belang van ons nageslag! Dit was die kragtige oproep van mnr. Danie Varkevisser, leier van die AVP, tydens die Party se sewende jaarkongres. Dit is op Saterdag 10 Oktober 2015 by die Voortrekkermonument aangebied. Dit is bygewoon deur afgevaardigdes van verskillende dele van die land en groete boodskappe is ook vanuit die buiteland ontvang. Die kongrestema was: “Die vryheidson sal weer skyn!”
Die kongres is treffend geopen deur dr Hendrik Breytenbach, APK-predikant van Witbank. Aan die hand van Efesiërs 6 het hy aangetoon dat die politieke stryd ook ‘n stryd om die eer van God en die siel van die mens is. Hy het die kongresgangers aangemoedig om vas te staan in die Waarheid, Geregtigheid en Geloof. Die swaard in ons hand is die Woord van God en gebed. Die Afrikaner se politieke stryd is ‘n geloofstryd.
Die eerste toespraak is gelewer deur mnr. Leon Schoeman, ‘n apteker van Viljoenskroon en ‘n stigterslid van die AVP. Sy tema was: “Ons Vryheid”. Ons is deur verraad van ons Vryheid ontneem. Ons mag egter nie berus in ons verknegting nie. ‘n Belangrike struikelblok op die pad na die herstel van ons Vryheid, is verdeeldheid in Afrikanergeledere. Dit is veroorsaak deur politieke verraad in eie geledere. Die doel daarvan is die immobilisasie van egte Afrikanernasionalisme. Hy het gewys op die verraderlike rol van die NP, die NGK en die generaals (die IDASA-komplot) en die vernederende en bedenklike optrede van die HNP en die Afrikaner/Boerevolksraad wat by die ANC/SAKP gaan bedel het vir ‘n stukkie van dit wat wettig aan ons behoort. Mnr. Schoeman meen beide die HNP en die Afrikanervolksraad sal ‘n stille dood sterf.
Tans is Solidariteit die instrument wat gebruik word om die hoop op herstel van Afrikanervryheid te vernietig. Mnr. Schoeman het gewys op die vreemde bedmaats van Solidariteit, soos die FW de Klerk-stigting en die FAK. Dit is die AVP se plig om hierdie verraderlike rol te ontmasker. Die AVP is die enigste politieke party wat hom beywer vir die herstel van die Afrikaner se Vryheid en soewereiniteit. In die woorde van Paul Kruger: Met eenheid van sin en kragte, kan weer opgehef word dit wat nou plat lê.
Opmerklik was die lewendige bespreking deur die kongresgangers na mnr. Schoeman se standpuntstelling. Die negejarige Daniël Muller het in ‘n helder, kragtige jong stem die gedig Generaal De Wet van Jan FE Cilliers voorgedra op ‘n wyse wat die gehoor geïnspireer het.
‘n Ruiker is daarna aan mev. Gaye Derby-Lewis oorhandig vir die wyse waarop sy haar man oor jare getrou onderskraag het.
Die nuwe dagbestuur is ook deur die kongresgangers aangewys. Mnr. Francois Muller het op sy kenmerkende wyse ‘n stewige finansiële bydrae van die teenwoordiges gevorder.
Mnr. Danie Varkevisser het die hooftoespraak gelewer. Sy tema was “’n Oorlog sonder koeëls”. Mnr. Varkevisser het ‘n treffende uiteensetting gegee van die ontstaan van die Afrikanervolk en Afrikaner –nasionalisme. Belangrike elemente van Afrikanernasionalisme was nog altyd selfverwesenliking binne die eie groep, respek vir ander groepe se andersheid, skeiding en afsonderlike ontwikkeling. Afrikanernasionalisme is ‘n natuurlike wetmatigheid wat in wese altruïsties is. Maar nee, hierdie leefwyse met deur ons vyande verketter word!
Volgens mnr. Varkevisser is nasionalisme ‘n voorwaarde vir die behoud van Afrikaner-identiteit. ‘n Groot probleem vandag is dat baie organisasies is nie gefundeer op suiwer Afrikanernasionalisme nie. Gevolglik is ons volk uitoorlê deur politieke knoeiers. Met verwysing na Solidariteit se Toekomsberaad, het mnr. Varkevisser gesê dié organisasie se oogmerk het niks te make met die Vryheid van die Afrikaner nie. Dit is eerder daarop afgestem om die Afrikaner verder te verkneg aan die huidige politieke bedeling. Die tyd het aangebreek dat die rol van Solidariteit onder die vergrootglas moet kom: Die uitoorlêery van die Afrikanervolk moet end kry!
Sedert die moord op dr Verwoerd beleef ons die verduistering van die vryheidson. Mnr. Varkevisser se slot-wekroep tot Afrikaners was: Keer terug na u geloof in God, na u volk, u familie, u gesin en na uself, sodat die vryheidson weer in u lewe en die lewe van u volk kan skyn!
Die kongres is afgesluit met die afvuur van ‘n ou skeepskanon by Fort Schanskop en ‘n heerlike en gesellige ete in die De Kroon Kamer.