VIER SCENARIOS VIR DIE NUWE SUID AFRIKA.
Ons sal regeer tot die wederkoms, Onomkeerbare hervorming, Gedeelde waardes, 'n Lewenslange gevangenisstraf in 'n oop demokrasie.
In die verkenning wat volg sal daar aandag gegee word aan hierdie vier sake.
Om te begin by die laaste... Dit was die “gematigde” dr. Mangosuthu Buthelezi wat in 1986/87 verklaar het die Blankes van die land moet gevonnis word tot 'n lewenslange gevangenisstraf in 'n oop demokrasie. Daar kan sekerlik debat gevoer word oor dr. Buthelezi se weergawe van 'n oop demokrasie.
Daar is 'n redelike mate van sekerheid dat dr. Buthelezi se idee van 'n demokrasie verskil van byvoorbeeld dié van Jacob Zuma.
Die openheid van die demokrasie moet sekerlik op iets in die rigting van wat in Amerika gevind word dui. Dr. Buthelezi het heelwat vriende in Amerika gehad, een daarvan Arthur Ashe, 'n Swart tennisspeler (aan vigs oorlede). Dr. Buthelezi het hom ook destyds uitgespreek teen sanksies en divestering deur Amerika teen die Blanke bewind.
Maar dat daar 'n finaliteit in 'n sogenaamde “oop” demokrasie is, wie sal met dr. Buthelezi stry as hy verklaar so 'n gevangenisstraf vir die Blankes sou “lewenslank” wees.
Gedeelde waardes en ondeelbare toordokters
In die aanloop tot mnr. F. W. de Klerk se Rooi Vrydag-toespraak in 1990 is daar dikwels voorbrand gemaak vir 'n nuwe, sogenaamde demokratiese Suid-Afrika.
Hierdie voorbrand het destyds netjies ingepas by wat bekend gestaan het as die New Age en die New Age-beweging.
In koerant- en tydskrifartikels is hierdie New Age en New Age-beweging geesdriftig ondersoek en die af- en goedkeuring daarvan was so om't ewe in intensiteit. Sake wat daarin belig is was die sinkretisme, dit is dat alle godsdienste gelyk is en die verskillende uitgangspunte in die godsdienste bloot verskillende paaie na dieselfde “godheid” is.
Daaruit voortvloeiend het gekom 'n saak soos gedeelde waardes.
Daar is naarstig na allerhande punte van ooreenstemming in godsdienste en kulture gesoek en hierdie “ooreenstemmende” sake is dan gedeelde waardes genoem.
Dis dalk geen verrassing nie maar van die destydse minister van buitelandse sake mnr. Pik Botha se toesprake (een op Piketberg) het gehandel oor hierdie gedeelde waardes. Meer van die NP-regering se segsmanne het hierdie bepaalde tema in hul toesprake aangeraak.
Vandag, in die Nuwe, Onverbeterde (of is dit Onverbeterbare!) Suid-Afrika sal die meeste Blankes seker aan mense soos mnr. Pik Botha vra waarom hulle in die beplanning van dié nuwe land nie meer aandag gegee het aan die ondeelbare waardes nie.
In die nuus in hierdie week was daar byvoorbeeld 'n ernstige skrobbering deur 'n Israelse rabbi aan mnr. Geert Wilders van die Partij voor de Vrijheid in Nederland wat standpunt inneem teen die rituele slagting van diere deur Moslems. En wat van die Jode van Nederland se rituele slagtings? Is dit dan ook nie kosjer nie? vra die rabbi met dreigende onder- en botone en wysvinger.
Vra maar vir enige behoudende Afrikaner oor die behoud van Geloftedag. Dis 'n ondeelbare saak met ondeelbare waardes daarin vervat, nie waar nie?
En wat sou die Xhosa-mynwerkers van Marikana gedoen het as 'n Rooihuid-sjaman daar aangekom het om hulle vir die komende gewapende botsing met die polisie voor te berei deur hulle met Rooihuid-moetie te toor?
En so is daar ons volk se geskiedenis. Met sy eie heldedom. Sake wat ondeelbare waardes verteenwoordig, nie waar nie?
Die Hindoes se sogenaamde Fees van die Ligte jaarliks, wanneer knallende klappers die voorheen Blanke woonbuurte van ons land in 'n oorlogsone vir ons arme huisdiere verander.
So kan voortgegaan word en daar is maar nog net op die oppervlak gekrap.
Die vraag wat gevolglik gestel moet word is as die Afrikanervolk en ander Blankes wat in Maart 1992 niksvermoedend en met al hierdie vermeende gedeelde waardes in hul gedagtes hul kruisie in die referendum gaan trek het geweet het van hierdie oorwig van ondeelbare waardes, of hulle nie hartlik nee sou gestem het nie.
Onomkeerbare hervorming
So duidelik soos die finaliteit in Buthelezi se uitspraak spreek, so finaal het FW de Klerk sy onomkeerbare hervorming bedoel toe hy in sy Rooi Vrydag-toespraak sy nuwe Suid-Afrika aangekondig het.
Hierdie feit van onomkeerbaarheid moes die Blanke kieser vroeg en laat verneem, 'n saak wat finaal bevestig is met die instel van die sogenaamde Uitvoerende Oorgangsraad in 1993 sonder dat die Blankes oor 'n onderhandelde grondwet getoets is soos De Klerk en ander NP-segslui by herhaling beloof het.
Die ANC sal regeer tot die Wederkoms
In hierdie geval is die ANC-hoofindoena Jacob Zuma aan die woord.
Dis maar dieselfde begrip, finaliteit, net in ander woorde as mnr. De Klerk se onomkeerbaarheid at hier waargeneem word.
Sedert veral Zuma op die toneel verskyn het as die ANC-staatshoof het die donker wolke van finaliteit wat die Afrikanervolk se lot betref, dat hy onder ANC-hiel staan vir 'n onafsienbare tyd, al dikker oor die land begin saampak.
Die gryp van die bewind by Thabo Mbeki op Pietersburg was niks anders as 'n staatsgreep. En regeringsverandering nie.
In ander lande, selfs in Afrika, sou so 'n bewindsverandering diepgaande implikasies hê en 'n getalswak volk soos die Afrikaner graag wou uitsien vir beter dae.
En 'n deel het.
Onthou u nog toe 'n klomp behoudende Afrikaners saam met Zuma gaan eet het, al die gissinge dat die nuwe ANC-leierskap gevoeliger vir Afrikanerbelange sou wees?
Ook die wegbreek van Cope onder Terror Lekota van die ANC het sekere dolosgooiers onder die Afrikaner opgewonde gemaak. As u die kommentaar van FW de Klerk, klaarblyklik hoopvol oor een of ander omkeerbaarheid hierdie slag, in die hande kan kry, lees dit gerus.
Die era van Julius Malema het daarna aangebreek.
Weer was daar 'n opgewonde lig in sommige Afrikaners, ook behoudendes, se oë.
En daar “stuit” Kallie Kriel van SoliForum vir Malema op sy segetog met 'n hofsaak, Kill a Boer op die ANC-jeugligaleier se lippe, wat niemand minder as Jakob oorneem en met oorgawe verder sing.
Opnuut is weer planne gemaak en dis nie lank nie of die gediskrediteerde ANC-jeugligaleier maak tydens die Londense Olimpiese Spele sy verskyning.
Toe kom die Marikana-slagting, Malema wat die laaste van sy grafdoeke afgeskud en in al sy opgewekte glorie van ontevrede Swart menigte tot die volgende ontevrede menigte rits, televisiekameras en joernaliste wat die jeugleier se uitdaging aan Zuma lyf moet gee.
Nou is die vraag:
Is dít die Afrikaner se hoop?
Om telkens dop te hou of 'n Swart uitdager, 'n Zuma, Lekota of Malema die heersende Swart meester na die kroon kan steek?
Hou maar die koerante en ander nuusmedia dop. Wanneer hulle gis oor toekomstige SA leierskap is die uitdagers almal Swart. Met die laaste noemenswaardige Wit leier, Helen Zille, wat seremonieloos kennis kry dat haar dae getel is.
Dis seker goed om die linkse beroepswedders se weddenskappe dop te hou, jy bly ten minste ingelig.
Een saak staan egter vas.
Die Afrikanervolk en ander Blankes wat hulle met sy vryheidstrewe vereenselwig sal slegs 'n nuwe daeraad tegemoet gaan wanneer die Afrikanervolk hom weer as 'n volk konstitueer.
Nie as minderheidsvolk of kultuurminderheid nie. Dis 'n halfgebakte pad wat nooit die moeite werd sal wees nie.
Uiteraard moet die Afrikaner daarop bedag wees dat die heersende kliek 'n falende staat verteenwoordig en dat die Malema/Zuma-stryd daardie mislukking kan verhaas.
Maar nog 'n saak waarop die Afrikaner bedag moet wees is dat Zuma en Malema of wie ook al die groot uitdager sal wees wanneer die eerling gewerp word net twee of meer koppe van dieselfde monster kan wees. Dat die anargie wat uit die wanorde wat in die land heers kan voortspruit in elk geval sy slagtande in die Afrikanervolk kan slaan, lyk na 'n saak waarmee rekening gehou sal moet word.
Wees oorgehaal, Afrikanervolk!