Romeine 12:1-8
(:1&2) ”EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
Hoe het ons samelewing nie ontaard van ‘n lewe toegewy aan God na ‘n lewe waarin elke mens toegewy is aan homself nie? Is dit enigsins vreemd dat die dwaalleer van humanisme daarom tot gevolg het dat huwelike en gesinne verbrokkel, verhoudings tussen mense skipbreuk ly en daar soveel hartseer en ellende in die samelewings is waarin ons beweeg omdat elke mens in selfsug toegewy is om net sy eie begeerlikhede te bevredig? Hierdie dwaalleer word nie alleen in kerke verkondig nie, maar selfs deur dwaalleraars in kerke verdedig word en aangevuur deur misleiers wat selfs menige gemeentelede ondersteun in hul dwaling. Verskonings dat jy bv. ook die REG het om gelukkig te wees en dat jy maar eintlik enigiets kan doen, want Christus het mos reeds vir jou sondes aan die kruis gesterf, is dwalinge wat deur die satan self aangeblaas word en verwoesting onder mense en God se koninkryk op aarde saai.
In die eerste verse van die gelese gedeelte word ons geleer dat ons juis vir God in liefde en met totale onselfsugtigheid behoort te dien, want só het Jesus Christus ook vir ons die voorbeeld gestel. Ons diens aan God moenie bloot diens met die lippe wees nie, maar ‘n diensbaarheid aan Hom waarin ons hele liggaam/lewe aan Hom toegewy en beskikbaar gestel word om aan Hom gehoorsaam en diensbaar te wees. Alles wat ek dink, praat en doen, moet in diensbaarheid aan Hom wees, want dan het ek Hom mos waarlik lief met my hele hart, siel en verstand, nie waar nie? Dit beteken egter nie dat ek die hele dag moet sit en Bybel lees en bid om vir Hom diensbaar te wees nie. Inteendeel, die liggaam van Christus (die kerk/gemeente) bestaan uit ‘n verskeidenheid lede wat elkeen ‘n belangrike funksie het om te verrig. Die een lid is nie meer belangrik as die ander lid nie, alhoewel daar ‘n verskeidenheid van lede is. Dit verduidelik tog duidelik vir ons dat ons in ons beroep, as lidmate van ‘n gemeente, as ouers en as volksgenote op elke lewensterrein na die beste van ons vermoëns vir Hom diensbaar moet wees. As daar lewensterreine in my lewe is waar ek Hom nie diensbaar kan wees nie, moet ek myself dalk afvra of ek op die regte terrein beweeg? Net soos wat ek vir Christus dien terwyl ek in my binnekamer die Woord bestudeer en bid, so dien ek Hom ook wanneer ek as lid van die opvoedingsraad van die skool waarin my kinders is, openlik opstaan vir die behoud van die Christendom en die bevegting van sinkretisme en dwalinge wat aan kinders op skool geleer word. So kan ek ons Leidsman by die werk dien deur regverdig te wees teenoor my kollegas en te probeer toesien dat mense rondom my en onder my regverdig en eerlik behandel word. So kan ek Hom dien deur my kinders getrou in Sy weë op te voed om te verseker dat die volgende geslag Hom sal dien, beter as wat die vorige geslagte dit gedoen het.
Dit sou my egter niks baat as ek op elke lewensterrein van die samelewing my stem laat hoor en ‘n stempel afdruk om my eie eer daardeur te soek nie. Alvorens ek diensbaar raak vir Christus in my alledaagse handel en wandel, moet ek vernuwe word in my gemoed. Ek moet besef dat ek nie Sy guns hierdeur probeer verdien nie of skynheilig probeer voorgee dat Sy koninkryk vir my belangrik is terwyl ek Hom nie ken nie. Ek moet met ‘n gees wat vernuwe is uit dankbaarheid teenoor Hom en in liefde vir Hom gedryf word om my hele lewe aan Hom te wy. Die diepe besef en dankbaarheid teenoor Hom vir die verlossing wat Hy vir my deur Sy kruisdood bewerkstellig het en waardeur ek geregverdig is, is veronderstel om my gemoed te vernuwe dat ek aan Hom diensbaar wil wees. Diep geraak deur die dankbaarheid en besef van Sy liefde vir my, moet ek Hom só liefkry dat ek Hom wil behaag in alles wat ek doen. Laasgenoemde sal my dryf om God nie te versoek nie, maar om wel in my wandel met Hom, te beproef wat Hom welgevallig is. Dit beteken dat ek die dinge wat Hom welgevallig is, sal koester en beskerm en dit wat Hom nie behaag nie, in my lewe sal beveg en daarmee sal wegdoen.
Die dwaalleer van humanisme het so diep getref, dat dit ‘n eens gelowige en Godvresende volk geskud het tot in sy fondasie. Dit het mense tot sulke hoë vlakke van verwaandheid en selfsug gedryf, dat hulle nie eers meer besef dat hul lewens só gevul is met hulself dat daar nie eers meer plek vir Christus in hulle harte is nie, maar hulle dwaalleraars troos hul steeds dat hulle op pad is hemel toe, mits hul aanhou om getrou die tiendes op Sondae aan te dra na die skatkis. (Dit klink amper na ‘n verdoeselde aflaatbriefstelsel wat vroeër deur die Rooms-Katolieke kerk gebruik is vir hul eie gewin).
As dit nie was vir die Rots waarop hierdie eens gelowige volk gebou was nie, sou hierdie huis (volk) sonder twyfel geheel en al ten gronde gegaan het. Sou ons egter besef dat die aanslag teen hierdie huis (volk) van die begin af gemik was op die Fondament daarvan, sal ons besef watter groot verantwoordelikheid ons het om saam te begin werk aan die herstel van hierdie huis (volk).
Die vraag word vanoggend aan elke hoorder en leser van hierdie boodskap gerig in u aangesig – “Sal u verder in selfsug kyk hoe hierdie huis (volk) verder inmekaar tuimel en vernietig word of sal u begin om u gereedskap uit te haal en te gaan opsoek om aan te meld vir diens vir die heroprigting van hierdie vervalle huis (volk)? Die vaste Fondament is steeds daar, maar ons het bouers nodig, onselfsugtige bouers, wat bereid is om met toewyding aan God te begin om saam te werk aan die heropbou van hierdie eens roemryke huis (volk). Mag u vurige liefde vir Hom, u daartoe dryf om ook met ywer aan te meld om in ware toewyding aan Hom saam te begin werk aan die heroprigting van hierdie Geloftevolk van Hom!