Die wederkoms van die Here is naby
(Ds Adriaan Swart APK)
Skriflesing: Openbaring 22:6-21
Inleiding:
Geliefdes in ons Here Jesus Christus
Ons lewe in ‘n verbygaande wêreld. Alles wat hier rondom ons is, alles wat ons sien, doen en besit, is dinge wat nie vir ewig hier sal wees nie. Dit gaan verby.
Maar weet u geliefdes, dis asof die wêreld dit nie besef nie! Daar is so baie mense in hierdie wêreld wat dink en lewe asof alles tot in ewigheid sal bestaan. Asof daar nooit ‘n einde gaan kom aan hulle lewens en besittings nie. Hulle besef nie wat hulle eindbestemming is nie! Hulle lewe soos setlaars. Dis asof hulle nie besef waarheen hulle oppad is nie!
Maar nou is die vraag vanoggend, my broeders en susters: Waarheen ís ons oppad? Ons wat bely dat ons kinders van die Here is, waarheen is ons oppad in ons lewens? Want dit is so waar dat selfs Christene so ingeburger geraak het in hierdie wêreld dat hulle nie meer hulle eindbestemming besef nie, asof die hemel en die ewige lewe vir hulle vaag begin word.
Talle mense het so besig begin word met hulle werk, met hulle families en vakansies en sosiale lewe, dat hulle nie meer hulle fokus finaal hou waarheen ons as kinders van God oppad is nie, naamlik die hemel. Die wederkoms is vir baie mense nog nie ‘n werklikheid wat verseker gaan plaasvind nie, en daarom gaan hulle maar voort saam met die stroom van die wêreld en al sy dinge.
Maar vir ‘n kind van God mag dit nooit waar wees nie! Want dis ons eindbestemming, geliefdes! Ons moet uitsien daarna en gereed maak daarvoor! En dis waaroor die boek Openbaring gaan: Om mense gereed te maak vir die Here se koms, om vir ons ‘n kykie te gee deur verskillende profesieë van Johannes, wat in die toekoms gaan gebeur en hoe ons daarvoor gereed moet maak. Daarom moet ons na hierdie woorde luister...
1. Die woorde is nie geheim nie!
Vanuit die boek Openbaring geliefdes, lees ons dat die mense van Johannes se tyd in baie opsigte ook maar net soos baie van ons mense vandag is. Hulle het ook maar lou en flou geword in hulle godsdiens, en nie meer met rykhalsende verlange uitgesien en gereed gemaak vir die koms van die Here Jesus Christus nie. Ons kan dit duidelik sien in die eerste paar hoofstukke van die boek, waar Johannes die Here Jesus se woord aan die 7 verskillende gemeetes gee:
Hulle word aangespreek oor hulle louheid, oor hulle koudheid, oor hulle selfgenoegsaamheid, oor hulle tekort aan toewyding en hulle begeertes na wêreldse dinge soos geld, rykdom en mag. Hierdie dinge het eerste in hulle lewens begin word, en daarmee het hulle maar net soos die res van die wêreld begin lewe! Daarom waarsku die Here Jesus hulle almal: Word wakker en versterk julle, Ek kom onverwags!
Die Here waarsku dat Hy gaan kom, dis geen geheim nie! Hulle moenie onkant gevang word nie!
En dis ook die boodskap hier in die heel laaste hoofstuk van die Bybel, waar daar duidelik staan in vers 6 en 10 dat die Here sy engele stuur om ons te toon wat moet gebeur. Hierdie woorde is nie geheime woorde nie, maar is juis vir die gelowiges gegee om hulle gereed te maak, want die tyd van sy wederkoms is naby. Die Here Jesus sê self in vers 7: “Kyk, Ek kom gou!”
Wees daarom gewaarsku om nie jou visie te verloor en jou eindbestemming uit die oog te verloor nie! Wees gewaarsku om nie soos ‘n setlaar saam met die wêreldse mense te lekker ingeburger te raak nie, want ons moet ons gereed maak vir ‘n ander en heerliker bestemming.
2. Die woorde is betroubaar
Daardie bestemming is die hemel en die ewige lewe. En dis nie iets wat iemand uitgedink het nie! Dis vaste betroubare woorde want dit kom van die Here Jesus self! Dit staan daar in vers 6: “Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig, en die Here die God van die helige profete, het sy engel gestuur om sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur”
Daarom is die wederkoms nie sommer maar net ‘n storie of verhaaltjie nie, maar dis vaste waarheid! Dit sal ‘n dag van afrekening wees. En in vers 14 en 15 sien ons daar is ‘n woord van seën en ‘n woord van vervloeking.
Vers 14 is die seën gedeelte: “Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte van die stad”
Wie dus Jesus Christus aanneem as sy persoonlike Verlosser, en Jesus se verlossingswerk aan die kruis en opstanding aanvaar en daarin glo, sal die bevoegdheid ontvang om in te gaan in die nuwe Jerusalem. Hy sal kan eet van die boom van die lewe.
Maar dan volg die vervloeking in vers 15: “ Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars, en elkeen wat leuens liefhet en doen”
Hulle sal glad nie deel kan hê van hierdie pragtige sondelose hemel nie! Die honde in hierdie vers, geliefdes, dui op die goddeloses, en heidene wat as onrein beskou is in die Bybelse tyd. Daar sal geen plek vir hulle wees nie! Ook geen plek vir die diewe en rowers, die valses en boosdoeners nie!
Jesus het sy engel gestuur om hierdie waarhede aan sy kinders bekend te maak, maar so ook dat almal dit kan hoor en gewaarsku kan wees!
Maar hierdie engel self het geen gesag nie, want toe Johannes voor hom neerval het hy gesê dat Johannes nie voor hom mag buig nie, maar eerder die Here moet aanbid wat al die mag en gesag het. Hy is maar net ‘n gesant van Christus wat die boodskap bring.
Daarna bevestig Jesus weer sy woord en gesag deur te sê: “ Ek is die wortel van die geslag van Dawid, die Blink Môrester”
Jesus is die blink Môrester, wat na ‘n donker goddelose wêreld gekom het om Lig in duisternis te bring! Voor Jesus het die nag van sonde en dood weggevlug, omdat Hy dit deur sy kruisdood en opstanding finaal oorwin en verslaan het!
Jesus sê van Homself in Joh 8:12: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê”.
3. Ope uitnodiging
Na hierdie gesagvolle aankondiging, kom die Gees van God en nooi vir die laaste keer mense uit om te kom na die Lig! Om te kom na die lewende water wat lewe gee. Vers 17 sê: “ En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat Hom wat dors het kom! En laat hom wat wil, die water van die lewe neem verniet!
So kom daar vir die laaste keer hierdie uitnodiging dat mense hulle moet bekeer van hulle sondige lewenswandel, want God het nie ‘n behae in die dood van die sondaar nie, maar daarin dat hy hom sal bekeer en sal lewe!
Hierdie uitnodiging is van korte duur, want die tyd is min voor die koms van die Here! Daarom moet daar nie getalm word nie, moet mense nie huiwer om te kom en hulle saak met die Here reg te maak nie! Want in vers 20 sê die Here vir ‘n derde keer in hierdie hoofstuk: “Ja Ek kom gou!”.
Daarom mag ons nie uitstel nie, want genadetyd gaan verby my broeder en suster!
Slot
En nou is die vraag vanoggend, geliefdes: Hoe lyk jou lewe?
Lewe jy soos die res van die wêreld wat dink dat daar nooit ‘n wederkoms gaan wees nie?
Lewe jy soos talle gelowiges wat hulle visie vir die Koninkryk verloor het, wat maar net vaag die toekoms inkyk?
Is jou lewe se doen en late vir jou so belangrik in alles wat jy elke dag doen, dat jy nie gereed kan maak soos jy moet vir sy koms nie?
My broeder en suster, ons lewens moet getuig daarvan dat ons die Here enige oomblik van elke dag verwag, deur heilig en gehoorsaam tot Sy eer te lewe!
Dat die Here gaan kom is ‘n feit! Hierdie laaste hoofstuk van die Bybel bevestig dit vir ons en moedig ons aan om gereed te maak vir sy koms!
Ons moet uitsien na sy wederkoms soos Johannes en die ander gelowiges, ons moet ook uitroep: Ja, Kom Here Jesus. Ons wil saam met u wees tot in ewigheid!
Amen