1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
11053021

Besoekers aanlyn

Ons het 131 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

‘N DAG VIR DIE HERE

BybelEség. 20:1-44:“En Ek het hulle my insettinge gegee en my verordeninge aan hulle bekend gemaak,

wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe. Daarby het Ek ook my sabbatte aan hulle gegee om ’n teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat dit Ek, die HERE, is wat hulle heilig. Maar die huis van Israel was wederstrewig teen My in die woestyn; hulle het nie in my insettinge gewandel nie en my verordeninge verwerp, wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe; en my sabbatte het hulle baie ontheilig. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet in die woestyn om hulle te vernietig.” (:11-13).

Dit is opvallend uit hierdie gedeelte hoedat die wisselwerking tussen die insettinge van God en Sy sabbatte beklemtoon word. Hy het aan Sy volk Sy insettinge bekend gemaak en daarby Sy sabbatte gegee. En later weer waar die volk Sy insettinge verlaat, word Sy sabbatte ook ontheilig. “omdat hulle my verordeninge verwerp het en in my insettinge nie gewandel het nie en my sabbatte ontheilig het; want hulle hart het agter hul drekgode aan geloop.” (:16). Dieselfde verskynsel word weer in vers 21 en 24 herhaal wat hierdie gedagte beklemtoon.

 

Dit is ook interessant dat die sabbat ’n teken is tussen God en Sy volk wat getuienis lewer dat hulle die volk van God is. “En heilig my sabbatte; en hulle sal ’n teken wees tussen My en julle, dat julle kan weet dat Ek die HERE julle God is.” (:20). Hierdie insetting wat so oud as die skepping self is. Die teken dat God se kinders die voorbeeld van hul Vader navolg en van hul werk rus soos wat Hy self gedoen het. “En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ’n ewige verbond. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ’n teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.” (Ex. 30:16&17).

Maar hierdie navolging van God strek veel dieper as net die voorbeeld van rus van ons arbeid. Dit is ook die teken dat Hy ons God is wat ons in alles wil navolg en dat ons daarna hunker en streef om heilig te wees, omdat Hy – ons God – heilig is. “Toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is die HERE julle God. En onderhou my insettinge en doen dit. Ek is die HERE wat julle heilig.” (Lev. 20:6&7). En die teken dat ons as God se kinders agting het vir dit wat Hy geheilig het en dit wat vir Hom kosbaar is. Geliefdes, daar is diegene wat reken dat die onderhouding van die sabbat na die koms van Christus “oorbodig” geraak het aangesien dit ’n seremoniële wet is wat vervul is. En hierdie argument word nogal op kunstige wyse aangebied. Maar is dit belyn met die Woord van God in die geheel? Is dit dan nou vir ons reg om die Naam van God ydellik te gebruik? Is dit nou oorbodig om ons ouers te eer? Is dit aanvaarbaar om te steel, egbreuk te pleeg en te moor?

 

Die antwoord op al hierdie vrae is voor-die-hand-liggend. Ons almal weet dat dit in God se oë nog nooit aanvaarbaar was nie en ook nie na die dood van Christus aan die vloekhout skielik aanvaarbaar geword het nie. Die vraag is dan waarom die enkel wet vir die onderhouding van God se dag van rus uit die Tien Gebooie uitgesonder word asof dit kwansuis sou verval? Ons sien in Eségiël 20 ook hoedat hierdie gebod pertinent tussen die ander gebooie uitgelig word, maar juis om die belangrikheid daarvan te beklemtoon, eerder as dat dit negeer word. Myns insiens is die argumente soos na verwys word niks anders as ’n aanval op God se volk en dit wat vir Hom kosbaar is nie.

 

Dit is uit Jesaja 58 vir ons duidelik dat die sabbat vir ons veel meer is as ’n dag waarop ons gewoon ’n bietjie kan rus van ons harde werk, geliefdes. Dit is ’n dag wat ons wil afsonder om aan die HERE te wy. Ja, ’n dag van rus na liggaam en gees. Maar ook ’n dag waarna ons uitsien om aan die HERE dank te bring vir Sy goedertierenheid die afgelope week. ’n Dag waarin ons daaraan dink dat dit deur Sy

krag en genade is wat ons by vermoë was om hard te kon werk. ’n Dag waarin ons dink aan die dinge waarin ons Hom dalk teleurgestel het sodat ons die verkeerde in ons lewe kan aflê en sodoende streef om heilig te wees soos wat Hy heilig is.

 

Ja, geliefdes – ’n dag van vreugde waarin ons opnuut besef wat ’n groot voorreg dit is om die enige, ware, lewende God van hemel en aarde te mag ken en dien. “As jy jou voet terughou van die sabbat – om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ’n verlustiging noem en die heilige dag van die HERE hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die HERE, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die HERE het dit gespreek.” (Jes. 58:13&14).

 

’n Groot deel van ons volk verkies ongelukkig vandag om hierdie kosbare tyd nie aan God te wy nie, maar om dit eerder aan vermaak en plesier te wy. Dit is vir hulle meer aangenaam om hul tyd in inkopiesentrums, pretparke, restaurante of gewoon agter ’n televisie, rekenaars of selfone deur te bring as om hierdie tyd aan God af te staan. En dan wonder ons waarom ons van Sy weë afdwaal terwyl ons geen tyd daaraan wy om van Hom te leer en na Sy insettinge en verordeninge te vra en te luister nie. En dan wonder ons waarom ons land en dinge wat vir ons kosbaar is verniel word terwyl ons volk in die breë dit wat vir God kosbaar en geheilig is minag en verniel . . . Geliefdes, mag ons in ’n wêreld wat gewoond raak daaraan om dinge wat kosbaar is weg te smyt terwyl hul hul hande en lewens met nietighede vul, vashou aan hierdie kosbare skat wat ons van God ontvang het. En mag ons die dag van die HERE met getrouheid vir Hom afsonder om ons tyd aan Hom te wy – nie alleen as ’n dag van rus in die vlees nie, maar as ’n dag waarin ons ons van harte in Hom verlustig.

 

“Welgeluksalig is die mens wat dit doen en die mensekind wat daaraan vashou; wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en sy hand terughou, dat dit geen kwaad doen nie. En laat die uitlander wat hom by die HERE aangesluit het, nie spreek en sê: Die HERE sal my gewis afskei van sy volk nie; en laat die ontmande nie sê: Kyk, ek is ’n droë boom nie. Want so sê die HERE aan die ontmandes wat

my sabbatte hou en verkies wat My behaag en vashou aan my verbond: Ek sal aan hulle in my huis en binnekant my mure ’n gedenkteken en ’n naam gee wat beter is as seuns en dogters; ’n ewige naam gee Ek aan hulle, wat nie uitgeroei sal word nie. En die uitlanders wat hulle by die HERE aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van die HERE lief te hê deur sy knegte te wees – elkeen wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en hulle wat vashou aan my verbond, hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op my altaar; want my huis sal ’n huis van gebed genoem word vir al die volke.” (Jes. 56:2-7).

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie