Rom. 4:1-25: “En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestandvan die moederskoot van Sara nie. En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegeeen was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het. Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken.” (:19-22). “wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.” (:25).
Wanneer ons kyk na die dood en opstanding van onse Here Jesus Christus kom die woorde uit Jesaja 55:8&9 spontaan in my gedagtes. “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.” Ja, die wonderlike gebeure rondom die dood en opstanding van Christus is beslis vêr bokant ons begrip. Die feit dat die Een vlekkelose en sondelose wat die aardbodem bewandel het aan ’n gruwelike dood oorgegee moes word, is moeilik om te verteer. Die feit dat die mensdom se skuld op Een kon neerkom en gewreek is, is moeilik om te verstaan.
Eweneens is die opstanding uit die dode iets waarin gelowiges glo, maar wat ook vir die menslike verstand iets is wat moeilik is om te begryp. Inderdaad is Sy weë en gedagtes ver bokant ons weë en gedagtes. Ek is seker dat Abraham ook geworstel het om te verstaan hoe God aan hom en Sara so ’n belofte van ’n groot nageslag sou vervul terwyl hulle op ver gevorderde leeftyd nog geen seun gehad het nie. Die vervulling van God se beloftes was gelukkig nie daarvan afhanklik dat Abraham God se weë verstaan nie, maar net dat hy sou glo. Hy hoef nie te verstaan hoe God hierdie wonderlike werk van Hom sou kon doen nie, maar hy moes glo dat God wel by magte is om te doen wat Hy sê.
En dieselfde reël geld vir ons as gelowige kinders van God vandag nogsteeds. Wanneer ons dink aan die vergifnis van God kan ons dalk soms voel dat ons iewers in ons lewe te swaar oortree het teen die Heilige God om daarvoor vergewe te word. Ons voel dalk dat die een of die ander net té groot sonde was dat God ons daarvoor kan vergewe. Ons kan dalk nie verstaan dat God ons volkome daarvoor kan vergewe nie. Ons moenie in hierdie strik trap nie, geliefdes. So ’n gedagte is die werk van die Satan wat ons laat twyfel aan die woorde van God in 1 Joh. 1:9. “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” Wanneer ons teen God gesondig het, het ons Hom alreeds deur ons sondige optrede beledig. Ons durf Hom nie verder beledig deur Sy Woord en belofte van vergifnis in twyfel te trek nie. Net soos wat Abraham nie op die “onmoontlikheid” van die situasie gefokus het en as gevolg hiervan aan die Woord van God getwyfel het nie, maar eerder gefokus het op die belofte van God en daarop gehoop het, is ons veronderstel om dieselfde te doen.
Ons moenie op die grootheid van die probleem of ons oortreding of die onmoontlikheid daarvan vanuit ons menslike perspektief fokus nie, maar ons fokus moet op die belofte van God wees. God leer hierdie ook vir ons duidelik uit die lewe van koning Dawid. Hierdie man het ook in swakheid teen God oortree en boonop sonde op sonde gestapel. Sy owerspel wou hy met leuens en bedrog toesmeer en hy het hom selfs tot moord gewend ten einde sy oortreding onder die mat te probeer vee. Maar eindelik erken hy sy skuld voor God en hierna is die fokus van Dawid op sy afhanklikheid van God om hom van hierdie skuld te bevry eerder as op die “onmoontlikheid” hiervan dat hy ooit voor God vir hierdie groot oortreding vergifnis kan ontvang. “Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.
Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu. Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees.” (Ps. 51:5&6,9,12). Die erkenning van sy skuld voor God en die pleitrede wat hy tot God rig, bevestig Dawid se geloof in God se vermoë om hom van sy sonde te bevry. Dawid nader God nie met allerhande voorstelle van wat hy kan bied of doen om sy skuld voor God te versoen nie. Nee, hy beroep hom geheel op God om vergifnis en redding. Dit onderstreep weer vir ons die belangrikheid van geloof om in ’n gesonde verhouding met God te staan, geliefdes. Sonder geloof sou Dawid sy skuld bes moontlik ontken het omdat hy die gevolge van sy verkeerde optrede sou vrees en sou probeer ontwyk. Sonder geloof sou hy ook nie die moeite gedoen het om hom op God te beroep vir hulp en redding nie. Maar in geloof erken en bely hy sy skuld voor God en ontvang hy die vergifnis van God.
Hierdie voorbeeld uit die lewe van koning Dawid bring ons by die volgende belangrike punt waarvan ons in Rom. 4:25 lees. “wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.” (:25). Die wêreld is geneig om by die eerste gedeelte, nl. die dood van Christus, vas te haak. Hy het gesterf ter wille van ons sondes. En hieruit volg dan menigmaal ’n baie skewe en verwronge weergawe van die Evangelie wat kortom verkondig dat alle sonde van alle mense vergewe is deur die dood van Christus. En hiermee word die mens van sy geloofsverantwoordelikheid gestroop. Dit is asof sonde na die dood van Christus nie meer bestaan nie. As dit waar was, waarom het God Hom uit die dode opgewek? As alles aan die vloekhout volbring en ten volle vervul is om die mens van alle straf verder te onthef – waarom die Heilige Gees stuur om ons van sonde, geregtigheid en oordeel te oortuig? “ Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:” (Joh. 16:7&8). Die versoenende sterwe van Christus is nie die eindpunt van die Evangelie nie – dit is nader aan die beginpunt. Die volmaakte offer wat Hy gebring het, is die bevestiging dat daar niks is wat onsself kan doen of bring om ons eie skuld voor God te versoen nie. Dit is alleen deur Hom wat ons skuld op Hom geneem het dat ons met God die Vader versoen kan word. Daarbenewens is dit ook nodig om te erken dat ons uit ons lewe van sondigheid gelei moet word en met God versoen moet word. Die ganse wêreld het nie met die soendood van Christus eensklaps in regverdiges verander nie. Allermins! Maar die wat in Hom glo, volg Sy leiding en word deur Hom na regverdigheid gelei. Dit is deur hierdie geloof in die Seun van God, die Regverdige en ons Saligmaker, wat ons uit ons lewe van sondigheid en vyandskap teen God gelei word na ’n lewe van heiligmaking en vriendskap met God. “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” (Heb. 7:25).
Amen.