Ps. 22:1-32: “Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys.” (:23).
’n Naam is een van daardie dinge wat ons dalk verniet ontvang, maar die waarde daarvan is bykans onberekenbaar. Luister gerus na die getuienis uit die mond van die wyse koning Salomo in hierdie verband. 'n NAAM is verkiesliker as groot rykdom, guns beter as silwer en as goud.” (Spr. 22:1). Dit is een van daardie dinge wat moeilik is om in stand te hou en maklik om te vernietig. ’n Goeie naam word gevestig en in stand gehou deur volgehoue goeie optrede en besluite terwyl dit deur slegte en verkeerde optrede vernietig word. Daar is nie alleen ’n persepsie van ’n persoon in ’n naam opgesluit nie, maar ook ’n verwagting. En hoe groter die verwagting daarin, hoe groter die naam.
Dink maar aan die rede waarom u sommige mense vertrou. U vertrou tog nie iemand wat u nie ken nie? Daar is selfs baie mense wat u ken wat u ook nie vertrou nie, omdat u geen verwagting het dat hulle betroubaar is nie. Maar dan is daar diegene van wie u die regte en goeie optrede in selfs die moeilikste en slegste situasies verwag en dit is aan diesulkes wat ’n mens jou vertroue sal skenk.
Ek wil op hierdie punt u gedagtes terugvoer na Moses en spesifiek daar waar God aan Hom verskyn het en die opdrag gegee het om Sy volk uit Egipte te lei. Ons lees dat God Homself baie duidelik aan Moses bekend maak met hierdie verskyning. “Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien.” (Ex. 3:6). Moses het goed geweet met Wie hy hier te make het – dit is duidelik uit sy optrede. Ten spyte hiervan lees ons tog van ’n interessante vraag wat Moses aan God stel. “Hierop het Moses tot God gespreek: Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? — wat moet ek hulle antwoord?” (Ex. 3:13). Dit kom eintlik as ’n vreemde vraag oor. Hierdie mense is mos nie ’n klomp heidene wat nog nooit van God gehoor het nie? Dit is dan Abraham, die vriend van God, se nageslag. God het dan vir Moses juis hierdie opdrag gegee omdat Hy hul hulpgeroep aangehoor het. Hulle sou Hom mos nie kon aanroep as hulle nie van Sy Naam geweet het nie. “En nou, kyk, die jammerklagte van die kinders van Israel het tot by My gekom.
Ook het Ek die verdrukking gesien waarmee die Egiptenaars hulle verdruk.” (Ex. 3:9). Hulle ken dus God se Naam en daarbenewens het God mos met die intrapslag Homself aan Moses openbaar as die God van Abraham, Isak en Jakob. U sien wat ek bedoel met die verwagting wat in ’n naam opgesluit is? As Moses nou by die kinders van Israel kom om en by hul die verwagting skep om van hul slawerny verlos te word wil hy tog weet hoe of ten minste deur Wie dit sou gebeur. Alhoewel hulle van Sy Naam weet en weet dat Hy die God van Abraham, Isak en Jakob is, moet Moses hul vertroue wen – hulle moet ’n verwagting hê dat daar krag en redding in hierdie God is wat vir Moses gestuur het. Hulle moenie net weet wat Sy Naam is nie, maar hulle moet weet Wie Hy werklik is en glo dat Hy betroubaar is! En dit word uit God se antwoord onderstreep.
“En God sê vir Moses: Ek is wat Ek is. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: Ek is het my na julle gestuur.” (Ex. 3:14). Ek is. Hy is die onveranderlike God. Die God wat in die lewe van Abraham, Isak en Jakob wonders gedoen het, is dieselfde God wat aan Sy volk verskyn om hulle uit die slawerny van Egipte te lei. Hy is steeds die Lewende God. Hy is steeds die Almagtige God. Hy is steeds die God wat wonders doen. Daar is niks aan Hom wat intussen tot niet gegaan het of wat Hy a.g.v. die verloop van tyd nie meer kan vermag nie. Hy is nie ’n God wat Sy asem halfpad op die uittog gaan uitblaas en dan nie verder kan help en red nie. Hy is nie ’n God wat Sy besluite nie kan en sal uitvoer nie. En Sy volk moet Hom ken sodat hulle oortuig kan word dat hulle hul vertroue in Hom kan stel.
Daar is in die lewe soveel dinge wat verander en tog soveel dinge wat dieselfde bly. Ek sien vandag ook iets raak wat na duisende jare dieselfde is – mense wat van die Naam van God weet sonder om Hom waarlik te ken. Ons hoor dat mense van God praat en van Hom weet, maar menigmaal is dit uit dieselfde gesprekke duidelik dat mense se kennis van Hom baie gebrekkig is. Ons sien dat mense vandag ook dieselfde foute maak as hulle wat Christus gekruisig het, nl. om die beeld van God wat hulle vir hulself geskep het belangriker te ag as die openbaring van Homself aan die mens. Dit is die rede waarom daar gepoog word om die Woord van God te verander en waarom daar soveel dwalleer ontstaan, omdat mense verkies om hul eie beeld van God te maak en dít te dien eerder as om Hom in waarheid te dien soos wat Hy Homself deur Sy Woord aan ons openbaar. Dit is tog duidelik dat ons God in waarheid deur die Woord leer ken. Ons lees in Psalm 22 van die pragtige profesie wat na Christus heenwys. “Want honde het my omsingel; 'n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe. Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer! Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad.” (:17-19). En dan is die heenwysing verder ook na die werk wat Hy as gesalfde van God kom doen het – onderrigting van die mens om God in waarheid te ken. “Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys.” (:23). Dit is vir ons ewe duidelik uit 1 Joh. 5:20. “En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe.”
Geliefdes, laat ons ons beywer om God in waarheid te ken sodat ons Hom op ’n welbehaaglike wyse kan dien. Dit is hierdie ware kennis van Hom waardeur ons toegang tot die ewige lewe verkry. “soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee. En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” (Joh. 2&3). Daarenteen sal diegene wat maar net van Hom geweet het en Hom nooit in waarheid leer ken het nie die ewige verdoemenis as eindbestemming ontvang. “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”(Matt. 7:21-23).
Amen.